Kies ’n boek: 1 Recce - Alexander Strachan | Vrouekeur

Kies ’n boek: 1 Recce – Alexander Strachan

recce-web

Willie Burger kyk na Alexander Strachan se 1 Recce – Die nag behoort aan ons

Die woord “recce” het gedurende die 1970’s en 1980’s ontsettend baie ontsag in ons gemilitariseerde samelewing ingeboesem. Selfs vandag nog het die recces byna ’n soort mitiese status as die dapperste, taaiste en gevaarlikste ouens. In sy 1984-kortverhaalbundel, ’n Wêreld sonder grense, beskryf Alexander Strachan ’n soldaat wat pas die recce-keuringsproses geslaag het en wat moeg en trots op pad huis toe is.

Hy sien sy weerkaatsing in die treinvenster en dink dat dit mos nou is hoe hy behoort te lyk: “Stil en gevaarlik.” Hul reputasie as gevaarlik is met bewondering bejeën en hul stilswye oor waarmee hulle regtig besig was, het tot die byna mitiese status bygedra. In daardie jare was die Suid-Afrikaanse samelewing gemilitariseer. Tydens “kadetperiodes” het wit skoolseuns in bruin uniforms onder bevel van onderwysers in weermaguniforms op en af marsjeer. Elke wit gesin het ’n broer of neef of oom of pa in uniform geken. Omtrent elke gebed is afgesluit met: “Wees asseblief met ons manne op die grens.”

Die vraag na wat ons manne op die grens gesoek het, is bitter selde onder wit mense, veral Afrikaanssprekendes, gevra. Uitiendelik het die kadette, die gebede en die liedjies daartoe bygedra dat die idee van soldate oral in die land en op die grens normaal voorgekom het. Diegene wat hul land in uniform gedien het, is met eerbied en ontsag bejeën. Terwyl daar respek vir gewone soldate was, is daar met groter ontsag na die valskermsoldate in Bloemfontein gekyk. Maar dan, met nog veel meer ontsag, is van die recces gepraat. Die recces was die room van die weermag – daardie superfikse, taai, spesialissoldate wat in klein groepies diep in vyandelike gebied kon optree. Hulle het uitgestaan met hul langer hare en die gemak waarmee hulle deur ’n weermagbasis gestap het. Bang vir niks. In 2015 het Koos Stadler se boek, Recce, oor sy ervarings verskyn.

Nou word dit gevolg deur Alexander Strachan se 1 Recce – Die nag behoort aan ons, wat as ’n soort geskiedenis van 1 Verkenningskommando aangebied word. Wat van albei hierdie boeke opval, is die afwesigheid van politieke oorwegings of historiese konteks en die klem op avontuur. In die militêre machokultuur wat toe geheers het, is jong manne wat uiteindelik recces geword het, nie soseer deur veglus, ’n haat vir die vyand, ’n ideologiese geloof in die NP, die “Weste” of die Christendom daartoe gelok nie, maar veel eerder deur avontuurlus. Benewens die avontuurlus word die manne deur kameraderie gebind. Herhaaldelik word in 1 Recce na die vriendskappe verwys. Die kameraderie ontstaan uit die saam swaarkry tydens die keuringsproses – minder as 10% van die aanvanklike hoopvolles slaag dit. Maar die bande word nog dieper gesmee tussen ouens wat saam deur veldslae is, wat hul makkers om hulle sien sterf het, manne wat mekaar met hul lewens vertrou en vir mekaar opoffer.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Die wêreld van Charlie Oeng

Alexander Strachan was self ’n recce en hy is in 2015 deur voormalige bevelvoerders en lede van 1 Verkenningsregiment gevra om ’n boek oor hierdie moedereenheid van al die spesialiseenhede te skryf. Die leser moet egter nie ’n geskiedenis met baie presiese datums en kontekstualisering verwag nie. Die werk steun ook nie op versigtige argiefondersoek nie, maar hoofsaaklik op onderhoude met meer as 30 oud-recces asook enkele ander bronne wat reeds in die openbare domein is. Die gevolg is dat die boek ’n sterk anekdotiese inslag het. Staaltjies oor die opleiding en hul persoonlike ervarings staan voorop. Passiewe konstruksies word dikwels gebruik met sinne soos: “Die recce-ontplooiings is as baie geslaagd beskou”, sonder om te verduidelik wie dit as geslaagd beskou het, of in watter konteks.

Dit wil soms voorkom asof talle besluite, veral in die beginjare van die regiment, maar taamlik lukraak geneem is deur mense soos die legendariese kolonel Jan Breytenbach. Die samewerking met die destydse Rhodesiese spesialismagte wat as basis gedien het vir die manier waarop 1 VK gevestig is, word breedvoerig beskryf en melding word gemaak van sommige weermaglede wat deur die Britse spesiale magte opgelei is, of deur Franse en Amerikaanse instrukteurs, sonder dat die detail of politiek hieragter verduidelik word. Die boek is in hoofstukke ingedeel waarvolgens ’n mens rofweg die totstandkoming (met ’n Nigeriese band!), die opleiding en dan spesifieke operasies waarby 1 VK betrokke was, kan meeleef.

Strachan maak op sy skryfvernuf staat om telkens die leser midde-in ’n gevegsituasie of gevaarlike operasie te plaas, wat later opgevolg word deur herinnerings en terugskoue wat nie vry te spreek is van romantisering nie. Uiteindelik is 1 Recce ’n lofsang aan die heldedade van die groepie uitsoeksoldate. Daar is iets nostalgies daaraan sodat die boek effens soos ’n koshuisjaarblad voel. Breër historiese en politieke kontekstualisering ontbreek. Kritiese refleksie ontbreek. Dit is ’n boek oor en vir kamerade. Maar ook byna alle mans van oor 45 jaar sal die boek waarskynlik nuuskierig optel om meer van daardie ouens te probeer weet wat steeds deur baie as helde bewonder word. (Tafelberg)

Send this to a friend