Kunstenaarsoog: Hanneke Benade

1221-vk1-hanneke-web

Hanneke Benade by een van haar portrette

 ‘Tot ’n mate is almal wat ek al geteken het ek self, ongeag of hulle mans- of vrouekarakters is’

Deur JOHAN MYBURG

Mens fokus dikwels op die gesig (soms net op die oë) wanneer jy na ’n portret kyk. So asof die gesig ’n indeks tot die hele portret sou wees. Is die persoon gelukkig, terneergedruk, opgewonde of droomverlore? Aan die gesigsuitdrukkings heg ons soveel betekenis dat dit as ’t ware die afdoende sleutel tot die portret word. Boonop soek mens na ’n herkenbare persoon in die portret. Wie se portret is dit? Lyk dit soos die persoon wat verbeeld word?

Veral in die geval van ’n skildery van ’n bekende. Harry Berger, Amerikaanse kunskenner en -skrywer van onder meer Fictions of the Pose: Rembrandt Against the Italian Renaissance, voer aan dat portrette nie soseer ’n persoon wil verbeeld nie, maar die handeling van die sit vir ’n portret. Dit gaan vir hom nie soveel oor die persoon in die portret nie, maar oor die voorstelling van die sitter sowel as dié van die kunstenaar. Vir Berger is die fokus in die eerste plek op die daad van om die portret te maak en in die tweede plek op die feit dat die portret op fiksie geskoei is, op ’n verhaal wat tussen die kunstenaar en sitter tot stand kom.

Dié benadering word kwalik beter geïllustreer as in die portrette van Hanneke Benade, ’n kunstenaar wat vir haar ongelooflik realistiese portrette, dikwels lewensgroot, bekend is. Van kleins af het sy haar eie verhale geskep, met verbeelde karakters wat in werklikheid haar alter ego’s was, vermom in verskillende gedaantes. Sy kon in die wêreld van dié karakters ontsnap. Iets soos die karakter Simon in die TV-animasieprent uit die 1970’s Simon in the Land of Chalk Drawings van die Britse illustreerder Edward McLachlan. Simon se tekeninge kry ’n lewe van hul eie in sy verbeelde werklikheid.

LEES OOK: Kuns: Willem Pretorius

“My eerste tekening as kind wat ek kan onthou en wat ’n indruk op my gemaak het, was van ’n karakter,” sê sy. “Ek het geweet dit is ek wat ek teken al het dit nie soos ek gelyk nie, al wou ek nie hê dit moes soos ek lyk nie. Ek het besef ek kan ontvlug deur te teken soos wat mense ontvlug deur ’n boek te lees. Alles wat ek wou wees, kon ek teken. “Tot ’n mate is almal wat ek al geteken het ek self, ongeag of hulle mans- of vrouekarakters is. Wie ek teken, is weergawes van myself. My ander ek.” Net so belangrik as wat die verhaal is, is die vergestalting daarvan: Die noukeurige beplanning van die toneel wat sy wil vasvang, die kostuums wat sy wil gebruik, die rekwisiete wat sy wil gebruik.

As verlenging van die verhaal word die beplanning van die tekening ’n teaterproduksie in die kleine. Sy ontwikkel die tekeninge van die foto’s wat sy neem, dit begin in haar verbeelding vorm aanneem en kry gestalte op papier. Dit is nie die beeltenis van die sitter wat sy noodwendig vergestalt nie, maar die manier van sit of staan of lê, die aanwesig wees binne ’n spesifieke ruimte, binne ’n verhaal wat sy skep. Mise-en-scène, die uitdrukking wat in die verhoog- en rolprentwêreld gebruik word vir die visuele tema waarbinne ’n verhaal vertel word, is nie net die titel van Hanneke Benade se jongste solouitstalling nie, maar dalk ook ’n juiste taksering van die werk waarmee sy die afgelope jare besig is. Dié uitstalling is verlede maand in La Galleria in McGregor in die Wes-Kaap aangebied.

Send this to a friend