Kuns: Stanley Spencer | Vrouekeur

Kuns: Stanley Spencer

1214-vk1-spencer-web

Stanley Spencer se The Resurrection, Cookham, 1924-1926, olie op doek (274,3 cm x 548,6 cm).

Stanley Spencer het nie die gewone dorpsbestaan tot die buitengewone verhef nie, maar eerder die hemel aarde toe gebring, na Cookham

Deur JOHAN MYBURG

Cookham is ’n dorpie aan die Teems in die noordooste van Berkshire in Engeland, maar vir Stanley Spencer was dit meer as die plek waar hy in 1891 gebore is, waar hy grootgeword het en wat hy in sy skilderye verewig het. Vir hom was Cookham “’n dorpie in die hemel”. “Die reaksie van Moses om sy skoene uit te trek toe hy die brandende bos gesien het, is baie dieselfde as wat ek gehad het: Ek het talle brandende bosse in Cookham gesien,” het hy by geleentheid opgemerk. En in sy skilderye, wat dikwels op Bybelse taferele geskoei is, het hy juis hieraan gestalte gegee.

Sy pa was die orrelis in die dorpskerk en Spencer het in die kerkmilieu en -tradisie grootgeword. Spencer het egter nie die gewone dorpsbestaan tot die buitengewone verhef nie, maar eerder die hemel aarde toe gebring, na Cookham, en in sy skilderye – veral in sy uitbeelding van Bybelse temas soos die geboorte van Christus en die wederopstanding – uitdrukking aan die alledaagse omgang met godsdiens gegee. In ’n tyd toe die Christendom onder skoot gekom het (dink aan die invloed van Darwin en die ontgogeling oor die gruwels van die Eerste Wêreldoorlog) en die kerk ’n knou gekry het, was Spencer nie ’n religieuse skilder nie, maar een wat sy gemeenskap se ervaring van die lewe, ingebed in die godsdiens waarin hulle grootgemaak is, verbeeld het.

En so het bakens in die dorpie én die dorpenare in sy skilderye plek gekry. Die kerkhof rondom die kerk op Cookham is derhalwe die ligging vir The Resurrection (1924–1926). Christus sit op die treetjies wat na die kerkdeur lei met drie babas in sy arms, God staan agter Hom, en Spencer skilder homself naak, leunend teen ’n grafsteen. Hilda, sy verloofde, lê nog op ’n oorgroeide graf en slaap. Aan die linkerkant is dié wat reeds opgewek is op pad met die plesierbote wat in daardie tyd op en af op die Teems te sien was. Toe die skildery in 1927 die eerste keer uitgestal is, het The Times gemeen dit is asof die Pre-Rafaeliete en die Kubisme mekaar in die skildery raakgeloop het.

LEES OOK: Kuns: Willem Pretorius

’n Oorywerige resensent het die skildery beskryf as “die belangrikste skildery wat enige Engelse skilder in dié eeu nog gemaak het”. Die skildery is vir iets soos 1 000 pond aangekoop en aan Tate Britain geskenk, waar dit steeds te sien is. Spencer, wie se bynaam Cookham was, het aan die Slade-kunsskool studeer en was inderdaad ’n meester in die samestelling van komposisies met heelwat figure daarin. Dit blyk uit twee groot opdragwerke wat hy gekry het – die een die panele vir die Sandham-gedenkkapel en die ander een vir die Shipbuilding on the Clyde-reeks.

Eersgenoemde was ter nagedagtenis aan die ontbering tydens die Eerste Wêreldoorlog en laasgenoemde ’n opdragwerk vir die War Artists’ Advisory Committee tydens die Tweede Wêreldoorlog. Afgesien van sy meegevoel vir sy medemens het Spencer in sy skilderye ook uiting aan sy romantiese en erotiese gevoelens gegee. Dit is veral sy naaktonele wat die mense van Cookham ’n bietjie oorstelp gelaat het – veral dié van sy tweede vrou, Patricia Preece. Die skildery Leg of Mutton Nude is dalk ’n goeie voorbeeld. Nietemin was Spencer in dié opsig ’n voorloper vir ’n skilder soos Lucian Freud. Sir Stanley Spencer is in 1959 dood en is in die kerkhof in Cookham begrawe.

Send this to a friend