Kies ’n boek: Bloedlelie, Jeanette Ferreira

Willie Burger kyk na Jeanette Ferreira se jongste roman, Bloedlelie

Aan die einde van Bloedlelie, Jeanette Ferreira se jongste roman, is een van die sentrale karakters, Hanna, bedroef wanneer sy oor die bloedige verlede (en hede) van Suid-Afrika nadink. Haar lewensmaat, Adriaan, troos haar met die volgende woorde: “Ons verstaan so ietsie van die geskiedenis sodat ons vandag kan keer vir die foute van gister en die verre gisters.”Die hoop dat ons, deur die verlede te bestudeer, uiteindelik ’n bietjie meer begrip van onsself en ander kan kry, en dat ons dalk iets daaruit kan leer, behoort geskiedskrywing te onderlê.

So dikwels word die stories oor die verlede egter net vertel om sekere mense se posisie in die hede te verstewig, om hulself te regverdig. Hierdie soort stories het meestal min respek vir feite. Veral word daar nie na ander se stories oor dieselfde verlede geluister nie. Hanna raak nuuskierig oor Magdalena Retief, die vrou van die bekende Voortrekkerleier Piet Retief, wat in 1838 deur Dingaan se soldate doodgemaak is toe hy onder die indruk was dat hy besig was om ’n kontrak met Dingaan te sluit om grond in KwaZulu-Natal (soos dit vandag genoem word) te bekom. Almal ken die storie van Piet Retief – ouer lesers het hierdie geskiedenis op skool behandel en onthou dalk ook nog FA Venter se romans oor die Groot Trek (Gelofteland) waarin hierdie stuk geskiedenis en oor die latere Slag van Bloedrivier vertel word. Maar weinig van ons het al gewonder oor Piet Retief se vrou, wat vergeefs op sy terugkeer gewag het.

In Bloedlelie is dit juis Hanna se nuuskierigheid oor Magdalena Retief, wat in armoede op Potchefstroom gesterf het, wat aanleiding gee tot haar pogings om dié vrou se verhaal te vertel. Sy word in haar ondersoek om die skamel inligting oor Magdalena Retief te versamel, ondersteun deur Adriaan, ’n afgetrede historikus wat navorsing oor grondeise vir hofsake doen. Op hierdie manier kry Ferreira dit reg om interessante perspektiewe op die verlede en op geskiedskrywing oop te maak. Die klem val sommer uit die staanspoor op die onmoontlikheid om ooit die verlede ten volle te kan ken. Te veel inligting is nooit opgeteken nie en bly onagterhaalbaar. Oor Magdalena Retief bestaan daar altesaam maar enkele bladsye se aantekeninge, verspreid in verskillende boeke. Terselfdertyd ontplooi die verhaal van Adriaan se grondeishofsake waaruit ook blyk dat min van die Zoeloe-geskiedenis opgeteken is, dat dit dikwels slegs in mondelinge oorlewerings bestaan waarvan die betroubaarheid in twyfel getrek kan word.

Ferreira vertel eintlik twee verhale in afwisselende hoofstukke. Aan die een kant ontplooi die verhaal van Hanna wat navorsing doen oor die Voortrekkergeskiedenis omdat sy ’n boek daaroor wil skryf. Sy en Adriaan besoek die plekke waar belangrike historiese gebeurtenisse plaasgevind het: Umgungundlovu, die Gedenkkerk op Pietermaritzburg, Doornkop, waar Retief se trek op hom en die ander onderhandelaars gewag het. Hulle besoek ook ’n plaas waarop ’n grondeis ingestel is en Hanna vergesel Adriaan na die hof waar mense die kans kry om hul geskiedenis te vertel ten einde hul aanspraak op grond te kan maak. Aan die ander kant ontplooi die bekende verhaal van die skrikwekkende gebeurtenisse van 1838 en Magdalena Retief se lewe.

Ferreira vermy die nasionalistiese clichés van goeie, vrome Voortrekkers en wrede, verraderlike Zoeloes. Hanna se rekonstruksie van die verlede word genuanseerd aangebied, met begrip vir alle kante. Veral haar ervarings van die hede, haar omgang met uiteenlopende mense in haar daaglikse lewe, maak haar sensitief daarvoor om ’n genuanseerde beeld van die Suid-Afrikaanse verlede te bied. Bloedlelie is ’n hoogs relevante boek in ons tyd waarin die gronddebat sentraal staan. Die onteieningsgesprekke, debatte oor plaasmoorde en die eise van Black First Land First is hoogs emosionele en relevante sake. Juis weens die emosionele aard van aansprake op grond, ontaard gesprekke daaroor dikwels in eensydige propaganda, die inneem van ’n radikale posisie waaruit ander se menings gewoon doodgeskree word.

Hierdie roman bied ’n blik op die kompleksiteit, en die fokus op individue, op gewone mense, gee ’n ingewikkelde menslikheid aan die saak. Historiese fiksie is heel gewild en Ferreira het met haar Boereoorlog-romans en boeke oor die Groot Trek reeds ’n bydrae tot hierdie subgenre gelewer. Bloedlelie is egter nie ’n konvensionele “historiese roman” nie, want hoewel ’n verhaal oor die verlede ontvou, ’n verhaal wat by die bekende feite oor die verlede hou, maar wat dit verbeeldingryk inklee, is dit ook ’n roman waarin nagedink word oor hóé ons die verlede ken, oor hóé en waarom ons die stories oor die verlede vertel. Sodoende word dit ’n boeiende roman oor die hede, want dit word algaande duidelik dat die geskiedenis vol mites is, eensydig, dikwels gegrond op onbetroubare oorlewerings. Terwyl die sogenaamde historiese gebeurtenisse plaasvind, is dit gewone weerlose mense aan al die kante wat ly, wat sukkel om te oorleef en te verstaan. Bloedlelie begin effens moeisaam, die dialoog soms kunsmatig omdat dit ’n geskiedenisles probeer inkry, maar uiteindelik word dit meesleurend en laat die leser verstom oor die kompleksiteit van ons verlede, oor ons gesukkel om ander mense se stories te verstaan, terwyl dit ook herinner aan die belang daarvan om almal se stories te probeer saamdink. (LAPA)

 

Send this to a friend