Kies ’n boek: Blouwillem en Amore Bekker

Willie Burger kyk na rubrieke wat boeke word

Daar is ’n neiging in die uitgewersbedryf om sekere stukke wat aanvanklik as rubrieke verskyn, later in boekvorm uit te gee. Positief beskou, word die “juwele” dan uitgesoek en saamgesit sodat hulle nie slegs in die vervlietende vorm van die koerant, tydskrif of radioprogram bestaan nie, maar as ’t ware ’n tweede en hopelik langer lewe verkry. Aan die negatiewe kant kan mens opmerk dat daar eintlik net op die sukses van die aanvanklik gewilde rubrieke gery word om dalk nog ’n bietjie publisiteit of geld daaruit te maak. Onlangs het twee van hierdie soort boeke verskyn.

Blouwillem is ’n bekende en gewilde rubriekskrywer in Beeld, Die Burger en Volksblad. Hy word volgens die agterblad beskryf as “’n voorheen bevoordeelde, tans geseënde middeljarige man wat omtrent oral in die land gebly het omdat sy pa ’n polisieman was, en alles beleef het omdat hy getroud is, drie kinders en nege honde grootgemaak het, ’n gebuigde sleepwa besit en ’n huisverband het wat jaarliks groter word”.

Vyftig van dié gewilde rubrieke is effens verwerk en as Vyftig blertse blou saamgebundel. Rubrieke is dikwels baie gevat en snaaks in die konteks van die nuusgebeure wanneer hulle gepubliseer word – juis omdat baie van die rubrieke eintlik reaksies op sekere gebeurtenisse is. Só saamgebundel en buite daardie oorspronklike konteks, verloor sommige van die stukkies ’n bietjie van hul slaankrag, maar wat Blouwillem se rubrieke steeds die moeite werd maak om te lees, is die gevatte taal en uitdrukkings – en daarom is ek bly dat sommige van hulle ’n “tweede lewe” in hierdie bundeltjie kry. Min ander skrywers kan byvoorbeeld met die volgende uitdrukking vorendag kom om ’n vroeë tyd in die oggend te beskryf: “Gisteroggend was ek soos gewoonlik voor eerste lig wakker. So tussen die hoenderhaan en die koerant.”

Amore Bekker bied smiddae die program Tjailatyd op RSG aan. Sy bied luisteraars ’n geleentheid om stories in te stuur oor vreemde, toevallige ervarings wat hulle gehad het; stories oor daardie onverklaarbare gebeurtenisse wat eintlik heeltemal onwaarskynlik is dat dit sou kon plaasvind. Hierdie stories oor toeval, word deur Bekker as stories beskou wat eintlik lig op ’n andersins chaotiese en deurmekaar wêreld werp, en daarom word dit met koppeltekens gespel – ’n storie wat uiteindelik toe lig laat val.

’n Leser hoef natuurlik nie met hierdie uitgangspunt saam te stem om sommige van die byna 100 stories te geniet nie, want ’n goeie storie is altyd die moeite werd om te hoor. Sommige van die ongelooflike stories is werklik verbysterend en sit sommer die leser se verbeelding op hol – hulle vra as ’t ware om verder tot boeiende romans uitgebou te word. Ander word bederf juis deur die oordrewe pogings om die verhale met betekenis te vul. Ongelukkig is al die verhale nie ewe bedrewe vertel nie, maar in sommige gevalle blyk dit duidelik dat talle meestervertellers radioluisteraars is. Min mense sal waarskynlik hierdie twee boeke sonder meer van voor tot agter sit en deurlees. ’n Mens kan egter veel pret daaruit put om hulle so proe-proe te lees.

Send this to a friend