Ons gesels met Elandré Schwartz

Foto: verskaf

Ons gesels met Elandré Schwartz in die Vrouekeur van 16 November 2018 – hier is nog inligting

Met Elandré Schwartz se rekord om net twee balle tydens ‘n tenniswedstryd raak te moker, was dit duidelik sportprestasie is nie vir hom beskore nie. Hy was die singende, toneelspelende seun van Despatch toe hy op 19 besluit het om die dorp te verlaat en op sy eie sy kunstedroom in Kaapstad te bewaarheid.

Ná hy hom in musiekteater aan Die Waterfront-teaterskool bekwaam het, het hy as ʼn singende kelner by restaurante gewerk.

Toe benut hy Facebook en plaas ‘n akoestiese weergawe van Bruce Springsteen se Tougher than the Rest en Josh Turner se Your man op dié sosiale netwerk. Dit het hom die kans gegee om sy eie musiek te kan maak en ‘n gerekende stem in die Afrikaanse musiekbedryf te word.

Toe, op ʼn dag twee jaar gelede, het hy sy 21-verjaardag gevier en kitaar in die hand, voorberei vir ‘n regstreekse optrede op Bok Radio 98.9 FM en Bok TV. Min het hy geweet dat hy met ‘n platekontrak van Select-Musiek daar sou uitstap!

Die Bok Radio Brêkfis-aanbieders, Wimpie van der Sandt en Le-Lue Roode, het dié talentvolle jong sanger uitgenooi om ‘n akoestiese uitvoering van ‘n paar liedjies – leentreffers en sy eie komposisies – op lug te doen.

Net soos wat hy al met talle gehore gedoen het, het hy die hele ateljee in vervoering gehad met sy merkwaardige talent en diep stem, onbewus van die feit dat sy lewe ná die tweede liedjie, heeltemal sou verander.

Ernst Kleinhans van die platemaatskappy Select-Musiek het op die ateljee-telefoonlyn geluister, gereed met die woorde wat Elandré, en almal in die ateljee, in trane sou hê: “Hier, op lug, bied ek jou amptelik ‘n platekontrak by Select-Musiek, ‘n afdeling van Sony Music Entertainment, aan. Jy verdien om gehoor te word. Jy verdien om ‘n CD uit te reik en jou talent met musiekliefhebbers te deel”.

In die ateljee was daar ‘n ruk lank min woorde, maar baie emosie. Elandré het uiteindelik gesê hy oefen reeds vandat hy klein is aan sy handtekening vir die dag wanneer hy die geleentheid kry om mense met sy musiek te vermaak. “Ek weet nie wat vir my wag nie, maar ek sal julle ewig dankbaar wees!”

Die seile is gehys en in Januarie 2017 het Elandré ‘n konsertbootreis na Walvisbaai in Namibië onderneem.

Sy debuut-album Kleindorp-dromer – met die treffers en musiekvideo’s Afrikaans sal bly, Stilte voor die storm en Die lyn – is uitgereik – en die album het binne kwaklik drie maande goue status bereik. Bokradio het hom as die Nuweling van die Jaar aangewys en hy is met die Ghoema-toekenning vir die beste country-album bekroon. Hy was deel van die Krone 4-konsert en -DVD en hy het ‘n konsert-CD- en -DVD in die reeks Sinkplaatsessies uitgereik.

Elandré skerts beskeie oor ʼn denkbeeldige advertensie in ‘n loopbaangids: “Jong kunstenaar – met ondervinding in die kunste – soek ‘n hoek om sy ding te doen. Hy sing en skryf nie te sleg nie – én hy maak lekker koffie!”
Sy opvolgalbum word vroeg in 2019 uitgereik.

Elandré onthul …

  • Ek wens ek het vroeër begin klavier speel.
  • Ek sal nooit my familie verloën nie.
  • Ek sal altyd glo in die goedheid van die mens.
  • Miskien sal ek tog ‘n oudisie vir ‘n fliek doen.
  • Ek twyfel soms of mense se opinies altyd geldig is.
  • Ek raak soms trots as ek die hoop onder die jeug sien.
  • Ek vertrou dat wat ek doen ‘n doel het.
  • Ek verwerk die opdraandes wat ek tot nou toe moes klim versigtig.
  • Ek ervaar vrede as in musiek.
  • Ek verkies lig bó donker.
  • Ek vergewe my teenstaanders; hul twyfel is egter my brandstof.
  • Ek smag na regverdigheid en ‘n gepaste begrotings vir die kunste.
  • Ek peins oor die talle talentvolle mense wat soek na ‘n geleentheid.
  • Ek berou niks.
  • Ek hoop dat my storie ander sal inspireer en aanmoedig.

Send this to a friend