10 vrae aan Derick van der Walt

Tien vrae aan die skrywer, Derick van der Walt, wie se nuutste boek, Tussen vriende, by Quilerie verskyn het:

1. Drie bekroonde jeugromans. Hoe maklik was dit om van jeuglektuur na romans vir volwassenes te skuif?

Ek het my nog nooit as uitsluitlik ’n jeugskrywer beskou nie. Ek dink nie my jeugboeke is net jeugboeke nie. Baie ouer leeskringe lees my boeke. Ek skryf glad nie vir ’n spesifieke marksegment nie en ek dink glad nie aan wie die lesers van my stories gaan wees nie. Daarom is daar geen verskil om vir jonger mense as volwassenes te skryf nie. Die proses is dieselfde en die ouderdom van die karakters en dié van die lesers is eintlik vir my irrelevant.

2. Het jou waarneming as pa van drie seuns tot die sukses van jou jeugboeke se geloofwaardigheid bygedra?

Ek vermoed heelwat. Ek verstaan die leefwêreld van tieners of so hoop ek altans.

3. Wat het jy al oor die skryfproses gelees, waarmee jy die meeste kon identifiseer?

Ek het nog nooit oor die skryfproses gelees sedert ek begin skryf het nie. Jare terug, toe ek nog nie eers aan kreatiewe skryf gedink het nie, het iemand ’n boek van Stephen King oor die skryfproses aanbeveel. Ek het dit gelees, maar ek kan glad nie meer die titel onthou of wat daarin gestaan het nie.

4. Om in Tussen vriende só intiem te skryf oor ’n vrou se minderwaardigheidskompleks teenoor haar ma of die ervaring as ’n vrou haar borste verloor, verg insig in die vroulike psige. Hoe maklik was dit vir jou?

Ek dink in die eerste plek aan my karakters as mense en hul geslag en ouderdom is nie vir my so belangrik nie. Ek kom uit ‘n familie van formidabele vroue en ek het formidabele vriendinne. Ek het ook vroulike kollegas wat jy ook nou nie juis as fraaie poppies kan afmaak nie. Die soms problematiese verhoudings tussen ma’s en dogters is byvoorbeeld vir my báie bekend. As ek klaar is met ‘n manuskrip, gee ek dit vir een of twee mense wie se mening ek vertrou.

5. Wie is jou skryfhelde?

Op laerskool was dit Elsabé Steenberg en op hoërskool John Steinbeck. Ons het in matriek Dolf van Niekerk se Die son struikel gedoen en ek was mal oor die boek. Ek dink hierdie skrywers het my styl en die soort stories wat ek skryf, beïnvloed. Tans is dit Ingrid Winterbach, Etienne van Heerden, Eben Venter en Khaled Hosseini.

6. Wat lees jy vir ontspanning?

Ek is mal daaroor om koerant lees en ek sal maklik oor naweke ure op een plek sit en net dit doen. Ek volg die Afrikaanse letterkunde-toneel redelik noukeurig en ek sorg dat ek lees wat gelees behoort te word.

7. Waar kry jy inspirasie vir nuwe werk?

Miskien maar doodgewone mense wat hulle in hierdie wêreld bevind sonder dat hulle ‘n sê daarin gehad het en moet swem of sink.

8. Watter elemente is vir jou die belangrikste in ’n goeie boek?

Geloofwaardige karakters en goeie dialoog.

9. Wie se raad het al die grootste indruk op jou lewe gemaak?

Die skrywer Jan van Tonder het eenkeer in ’n koerantonderhoud gesê die beste raad wat hy ooit ontvang het, is: “Doen vandag, wat vandag gedoen moet word.” Dis nou my motto ook, want ek kan nogal stres oor alles en nog wat.

10. Watter tema/karakter wil jy nog in ’n boek aanpak?

My oorlede ma en pa het ’n baie interessante liefdesverhaal. Ek wil dit nog skryf.

Send this to a friend