Kies ’n boek: Die Lucky Strike en Bloed, dunner as water

lucky-strike

Willie Burger kyk na ’n misdaadroman én na ’n boek ook familiemoorde in Suid-Afrika

Steve Hofmeyr is ongetwyfeld een van die bekendste vermaaklikheidskunstenaars in die Afrikaanse wêreld, en selfs onder ander Suid- Afrikaners. Die ouer garde onthou hom veral van sy rol in Agter elke man, maar sedertdien het hy ook as sanger roem verwerf. Benewens al sy rolle in rolprente en sepies soos Egoli het sy CD-verkope die tweemiljoenmerk oorskry – wat ongelooflik baie vir Suid-Afrika is en daarom het hy ook ’n Sama-toekenning ontvang.

Verder lok Hofmeyr ook kort-kort groot reaksie uit met sy menings oor politieke en taalkwessies. Sy menings is baie gewild onder sommige – vir wie hy soos ’n onverskrokke (wit Afrikaanse) leier voorkom – terwyl ander haastig is om hulle vinnig van sy uitsprake te distansieer en wil seker maak dat niemand moet dink dat hy namens hulle, of namens alle wit Afrikaanssprekendes praat nie. Sy “celebrity-status” as sanger-akteur, asook sy uitgesprokenheid oor aktuele sake en deelname aan optogte en kulturele geleenthede, kan baie lesers dalk skepties laat oor sy pogings om ook skrywer van romans te word.

Uiteraard het hy talle liedjies geskryf en hy het ook jare gelede ’n digbundel, Valkuns, die lig laat sien. Maar ’n roman is tog iets anders? Lesers wat van hardebaard-misdaadfiksie hou, kan egter gerus enige vooroordeel rakende Hofmeyr opskort. Hofmeyr is ’n vaardige skrywer. Hy het dit reeds met Die onaantasbares bewys. Die Lucky Strike is selfs meer bedrewe vertel. “Die Sluiper” is terug. Aan die einde van Die onaantasbares het hy het gedink dat hy nie langer ’n huurmoordenaar wil wees nie, maar hy word deur sy verlede ingehaal en word, ongelukkig vir hom, maar gelukkig vir die lesers, spoedig by ’n baie ingewikkelde web van misdaad, raaisels en wraak betrek.

Die skurke is genadeloos, maar Die Sluiper is uiteindelik selfs genadeloser. Die roman is donker en onrusbarend. Die tema van ’n geheimsinnige man wat bedrieg word en wie se geliefdes onreg aangedoen word en wat dan sistematies die spoor van die oortreders volg en geleidelik agter die kap van die byl kom sodat hy kan wraak pleeg, is die stapelvoedsel van rillers. Die boeiende aspek van hierdie verhale lê in die verwikkeldheid van die plot, die dikwels eksotiese terrein waar dit afspeel, en die interessante aard van die karakters.

Die Lucky Strike het al hierdie elemente. Die raaisels hou ’n mens soos ’n goeie speurverhaal besig; daar is baie aksie, baie bloed, baie koeëls en stampe en houe, jaagtonele en dit vind op eksotiese plekke plaas – soos in die DRK en onder ’n kapokboom op ’n wildsplaas in die Kalahari. Natuurlik is daar boeiende karakters – soos die Die Sluiper self, ook sy familie wie se gene hy deel, maar ook sy vriende uit die spesmagte, en natuurlik die geheimsinnige vrou wat Lucky Strikes rook … Die onrusbarende lê nie daarin dat al hierdie elemente in die roman voorkom nie, maar in die gevoellose wreedheid waarmee Die Sluiper uiteindelik sy wraak pleeg. Hier is nie ruimte vir genade nie, ook nie vir wag op die regstelsel nie. Meer geweld en wreedheid skyn die enigste oplossing vir geweld en wreedheid te wees. Die Lucky Strike is spannend – presies wat mens van ’n misdaadriller verwag. Hofmeyr verstaan vermaak en fiksie veel beter as die geskiedenis of politiek.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Boereverneukers en Onaantasbares

Wanneer ons aan misdaad dink, en veral aan moord, dan dink ons meestal aan vreeslike dinge wat vreemdelinge aan mekaar doen: skurke wat jou beroof of aanval wanneer jy voor die kitsbank staan of by die rooi verkeerslig wag. Daarom is dit so ontstellend wanneer ons hoor van ouers wat hul kinders vermoor, of van kinders wat hul ouers vermoor. Soms is dit moeilik om te verstaan wat in ’n huis gebeur het om tot so ’n verskriklike daad te lei – veral as die gesin oënskynlik gegoed, gelukkig en voorspoedig was. Maar dit is altyd ontstellend.

Charné Kemp het reeds tevore oor die onderwerp van “familiemoorde” geskryf. In Moord op Griekwastad het sy die moorde op die Steenkamp-gesin van Griekwastad ondersoek, waarin die pa, die ma en die suster deur die seun doodgeskiet is. In Bloed, dunner as water, word sewe gevalle van familiemoorde breedvoerig deur Kemp beskryf, maar die boek is meer as bloot die beskrywing van soms onverstaanbare, soms berekende en dikwels grusame gebeurtenisse.

Sewe uiteenlopende Suid- Afrikaanse “familiemoorde” word breedvoerig ondersoek: Venolia Siwa wat haar vyf kinders vermoor het, Phoenix Theron wat haar ma vermoor het (om haar sussie te beskerm), Don Steenkamp van die Griekwastad- moorde, John Langeveldt wat sy suster en neef met ’n byl doodgekap het, Henri van Breda se onlangse bylmoorde, Nicolette en Hardus Lotter wat hul ouers vermoor het en Marius van der Westhuizen wat sy kinders voor sy vrou in hul beddens doodgeskiet het. Kemp plaas die moorde in ’n groter konteks. Familiemoorde gebeur oral in die wêreld en geen eenvoudige verklarings bestaan vir hierdie skokkende dade nie. Dikwels kan die moordenaars self nie eens die antwoorde gee oor waarom hulle dit gedoen het nie.

bloed

Send this to a friend