Kies ’n boek: Filosofie en spookstories

Willie Burger kyk na, wat ’n filosofiese ondersoek bied, en na spookstories vir kinders

Bantubonke, die hoofkarakter in Nthikeng Mohlele se jongste roman, Illumination, is ’n jazzmusikant. Hy leef vir sy kuns en kan op ’n baie suksesvolle loopbaan as trompetspeler, komponis en leier van ’n jazzorkes terugkyk. Die sukses en die roem wat daarmee saamgegaan het, is egter aan die kwyn.

Ná ’n gasontploffing is sy mond sodanig beseer dat hy nie meer sy kuns soos voorheen kan beoefen nie. Sy verhouding met sy vrou, sy vriende en medemusikante is ook op die afdraande pad. Vir Bantubonke is uitdrukking deur musiek al wat saak maak. Hy leef daarvoor om sy beste vorige musikale pogings te oortref. Kuns maak die lewe vir hom die moeite werd. Die roman begin met die stelling dat die lewe nie so merkwaardig is as wat die meeste mense meen nie: “Life is not as remarkable a thing as most people have concluded to believe. There are other things – there must be, countless things – that dictate liaisons between those struck by love or lust and everything else in between. (…) It is not a scientific problem, nor one of arithmetic, but an existential puzzle ripe for philosophical nibbling. But what philosophical inquiry would be worthy or complete without that modest by lifealtering force: art?”

Mohlele se roman is juis só ’n filosofiese ondersoek na wat presies die lewe die moeite werd maak en die sentrale rol wat kuns speel in die proses van om na te dink. Nthikeng Mohlele se romans is vir my so boeiend omdat hulle filosofies interessant is. Ek het sommer baie paragrawe uit sy jongste roman onderstreep, omdat hulle idees bevat waaroor mens weer en weer wil nadink. My eksemplaar van Pleasure, sy roman uit 2016 wat met sowel die UJ-Prys as die K Sello Duiker-prys bekroon is, het eweneens talle omgevoude bladsyhoeke en onderstreepte paragrawe. Die feit dat die Mohlele se romans wel filosofies is en ten dele lyk asof dit by die essay-vorm aansluit, beteken egter nie dat daar nie baie interaksie tussen die karakters is nie, of dat die karakters bloot draers van filosofiese idees is nie. Die verhouding tussen Bantubonke en sy vrou is kompleks – liefdevol en deernisvol, maar ook vol onmoontlike verwagtings en droefheid.

Die ander karakters in Illuminations en die verhouding tussen Bantubonke en sy vriende is eweneens bevestiging daarvan dat ons dikwels te haastig oor iemand se korrupsie en sondes oordeel en van ander aspekte van dieselfde mens vergeet. Nie slegs liefde, kuns, roem, vriendskap en die verlies daarvan staan sentraal nie. Illumination werp ook lig op die geskiedenis, op die rol wat kuns speel in die manier waarop ons die verlede in herinnering roep en op die belang daarvan om die verlede te deurgrond. Bantubonke vergelyk sy eie komposisies ook met ondervraging deur die apartheidspolisie:

“Both have a beginning, this plunge into the unknown, peripheral decorations of sound, a central core that rises and falls in small and expansive crescendos, dabbling with the emotive.” Uiteindelik geld hierdie beskrywing van sy eie komposisies en die ervarings van ondervragings tydens die apartheidsera ook vir die roman self. Dit is ’n roman met ’n sterk emosionele impak, ten spyte daarvan dat dit hoofsaaklik ’n filosofiese ondersoek van kuns, vriendskap, liefde en verlies is. (Picador)

Spookstories boei ons almal, maar veral vir kinders. Ek wonder waar die idee vandaan gekom het dat mense ’n behae daarin skep om mekaar bang te praat? Dalk is dit om te wys hoe dapper die verteller self is – veral as almal wat die storie hoor, bang word? Dalk is dit ’n manier om die verteller se eie vrese te besweer?

Fanie Viljoen se Die groot boek van spoke en grille bied 246 bladsye van bangmaakstories. Terwyl sommige klassieke spookstories uiteindelik ’n soort verklaring bied (’n wetenskaplike verklaring vir iets wat eintlik net in die donker soos ’n bonatuurlike verskynsel gelyk het) en daarom die leser bang maak, maar uiteindelik tóg weer ’n bietjie beter laat voel, is hier meestal geen sprake van so ’n “troos” nie. Om die waarheid te sê, die hoop op wetenskaplike verklarings word juis ondermyn. Die leser word gelaat met ruimte om sy of haar verbeelding verder te laat hol. En dit is mos eintlik in die donkerte van ons verbeelding waar die diepste bangmaak lê.

Terwyl die troos van verklarings of maklike “dit was net ’n droom”-oplossings nie in Die Groot boek van spoke en grille voorkom nie, is daar een belangrike faktor wat die verhale tóg verteerbaar maak, en dit is Viljoen se sin vir humor. Die manier waarop ’n vampier en ’n zombie byvoorbeeld in ’n begraafplaas kragte meet, sorg vir heelwat pret en ’n fyn spottery met die grillergenre. Hierdie tong-in-die-kies-aanslag waarin die stereotipes van die grillergenre gebruik word, sorg in talle van die verhale vir groot pret. (LAPA)  

Send this to a friend