Klassieke klanke: Komponiste om van kennis te neem

Philip James de Loutherbourg se skildery An
Avalanche in the Alps (1803)

Die aria ‘Ebben? Ne andrò lontana’ is al deel uit dié opera wat deesdae nog bekend is – wat ook daartoe gelei het dat Alfredo Catalani se naam in La Wally voortleef

Deur JOHAN MYBURG

In 1987 het Peter Conrad die boek A Song of Love and Death: The Meaning of Opera gepubliseer en onder meer aangevoer opera se diepste wortels lê in mense se rituele. Soos sy titel aandui, is die rituele wat met liefde en dood saamgaan, verreweg oorheersend as tema in operas.

Van sterwensoomblikke (dikwels eerder etlike minute) in opera sou ʼn mens ‘n omvattende lys kon saamstel, van Dido se beplande dood in Purcell se Dido and Aeneas tot Violetta se dood wat bykans die hele derde bedryf in Verdi se La traviata beslaan. Een van die minder bekende sterwensoomblikke in opera is dié van Wally in die Italiaanse komponis Alfredo Catalani se 1892-opera, La Wally.

Die opera speel in die Oostenrykse Tirool af waar die 70-jarige Stromminger sy verjaardag vier. Stromminger het sy oog op ene Vincenzo Gellner (‘n bariton) vir sy dogter Walburga (ook bekend as Wally), maar haar hart behoort reeds aan die tenoor Giuseppe Hagenbach, haar pa se ou vyand. Stromminger plaas Wally voor die keuse: óf sy trou binne ‘ maand met Gellner óf sy verlaat sy huis vir altyd. Dit is op dié punt aan die einde van die eerste bedryf dat Wally die aria “Ebben? Ne andrò lontana” (vertaal as “So, wat nou? Ek sal ver weg gaan”) sing.

Wally gaan egter nié weg nie, maar haar pa sterf en sy erf heelwat. Tyd verloop en Hagenbach raak aan iemand anders verloof. Een aand by ‘n feesviering kry Wally weer met Hagenbach te doen en haar jaloesie kry die oorhand. Sy sê Gellner aan om Hagenbach uit die weg te ruim. Sy is onmiddellik spyt oor haar opdrag, maar Gellner het nie gras onder sy voete laat groei nie. Hy het intussen vir Hagenbach in ‘n rotsskeur afgestamp.

Wally gaan soek na Hagenbach. Hy lewe en verklaar sy onsterflike liefde teenoor haar. Hy soek na ‘n paadjie wat hulle na veiligheid kan lei. Hy roep na Wally dat sy hom moet volg, maar die geskreeu het ‘n sneeustorting tot gevolg en Hagenbach word meegesleur. Wally staan ‘n oomblik op ‘n rotslysie en huiwer voordat sy na haar dood spring. As mens wil praat van dramatiese effek is dit waarskynlik net die Fransman Daniel Auber (1782-1871) se opera La muette de Portici (vertaal as “Die stom meisie van Portici”) wat by Catalani se La Wally kan kers vashou. Dié opera speel af ten tyde van een van Vesuvius se uitbarstings en in die laaste bedryf is Fanella, die meisie wat nie kan praat nie, so oorstuur dat sy in die brandende vulkaan spring.

Dit is dalk om verstaanbare redes dat La Wally nie so dikwels op die verhoog aangebied word nie. Genoemde aria, “Ebben? Ne andrò lontana”, is al deel uit dié opera wat deesdae nog bekend is – wat ook daartoe gelei het dat Catalani se naam in La Wally voortleef. Die aria is een van die gewildste arias vir ‘n sopraan, juis omdat dit so evokatief en opwellend is.  

Die mees emosioneel gelade opname is sekerlik die een wat Maria Callas in 1954 gemaak het – toe op die kruin van haar loopbaan. Dit is by uitstek die soort musiek wat reg aan haar uitsonderlike vokale karakterisering en uitdrukking laat geskied. Oorweeg ook om te luister na opnames deur Renata Tebaldi, Montserrat Caballé, Kiri Te Kanawa, Angela Gheorghiu, Renée Fleming en Anna Netrebko te luister.

Send this to a friend