Kies ’n boek: Wit issie ’n colour nie

colour_web

Willie Burger kyk hierdie week na Nathan Trantraal se Wit issie ’n colour nie

Nathan Trantraal het geen bekendstelling nodig nie. Sy debuutdigbundel, Chokers en Survivors (2013), is met die Ingrid Jonker-prys bekroon en Antjie Krog het destyds geskryf dat dit ’n bundel is “om sidderend van regop te sit”. Intussen het Trantraal ook ’n rubriekskrywer vir Rapport geword en hy tree dikwels by kunstefeeste op. Hy het al met talle ander digters en literatore in openbare debatte betrokke geraak.

Wit issie ’n colour nie is ’n bundel “aangedrade stories”, soos die tweede deel van die titel aandui. Die hele versameling vertellings is in Kaaps geskryf en dit neem vir iemand uit die noorde nogal ’n rukkie om daaraan gewoond te raak. Die keuse om só te skryf, is natuurlik meer as ’n “tegniek” wat geloofwaardigheid aan die vertellings verleen. Dit is ’n baie bewuste keuse met belangrike implikasies. In een van die stories vertel Trantraal dat hy in ’n stadium ’n onderwyser was by die hoërskool waar hy self op skool was. Hy moes Afrikaans gee, wat as die moedertaal van die meeste kinders in die skool beskou word, maar het besef dat dié Afrikaans en die tekste wat van hom verwag word om aan te bied, vir die kinders heeltemal vreemd is. Hy moedig hulle aan om in hul eie spreektaal te skryf, omdat die formele, “standaard- Afrikaans” wat van hulle verwag word, hulle ontmagtig en tot oppervlakkige, oneerlike uitdrukking lei.

Dit ontneem hulle die kans om hulself te wees. Kaaps is dus volgens Trantraal ’n manier om aan ’n bepaalde ervaring van die wêreld, wat radikaal van ryk mense en van die meeste wit Afrikaanssprekers se ervaringswêreld verskil, uitdrukking te gee en is dus ’n merker van ’n identiteit. Op die agterblad van die bundel vertellings staan: “Daa is niks meer unimportant as die liewens van arm mense nie. As daa niks daa geskrywe innie margins staanie issit ma net oo dai stories nooit geskryf wôtie, of truthfully geskryf wôd ie.” Wit issie ’n colour nie vertel die stories van daardie arm mense wie se stories nie gewoonlik geskryf word nie, en dit is ’n poging om daardie stories “truthfully” te vertel.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Adam Small

Daar is verhale oor sekere individue wat ’n mens lank bybly, soos Kleintjie: “Ammel trap op Kleintjie, vannie size ones tot ie size tens. In exchange vi sy subservience kan Kleintjie heeldag rondhang en niks doen in jou hys.” Baie van die verhale skok die leser, veral wanneer blyk dat verkragting en kindermishandeling of drank- en dwelmmisbruik en geweld so algemeen voorkom dat dit as normaal ervaar word. Vertellings oor kinders wat in armoedige en gewelddadige omstandighede grootword het veral sedert Frank McCourt se Angela’s Ashes in 1995 ’n belangrike subgenre geword. Hierdie roman het aanleiding gegee tot verskeie ander soortgelyke beskrywings van herinneringe aan ’n aaklige kleintyd sodat daar selfs gepraat word van die “misery memoir” of “mis-lit”.

In Suid-Afrika is daar ook verskeie boeke wat hierby aansluit. Ek dink veral aan Chris van Wyk se boeke, Shirley Goodness and Mercy en Eggs to lay, Chickens to hatch (ook in Afrikaans vertaal as Daar’s ’n hoender wat ’n eier nie kan lê) wat oor sy kinderjare in Riverlea in Johannesburg gaan. Jacob Dlamini se Native nostalgia sluit ook in ’n sekere sin hierby aan as hy oor sy grootwordervarings in die township skryf. Die effek van skreiende armoede op mense word deur knap vertelling op onthutsende manier blootgelê. Dit is so maklik vir mense in ’n middelklasbestaan om oor armoede as abstraksie te praat, om kritiek op bendevorming, drankmisbruik en kriminaliteit te lewer, of om ’n paar rand deur ’n skrefie venster te gee, maar om liewer nie met die realiteit daarvan gekonfronteer te word nie.

Daarom laat hierdie boek ’n mens ongemaklik. Trantraal se humorsin maak die lees van al die vertellings oor armoede, oor swaarkry, oor ’n renons in bevoorregtes se onbewoënheid en selftevredenheid verduurbaar. Hy is ’n uitstekende verteller wat die leser se gemoedstemming in enkele paragrawe kan laat swaai van skaamte na skok, na skaterlag (al is dit dikwels galgehumor of die snaakse wat deur kruheid bewerkstellig word). Trantraal vra belangrike vrae oor iets waaroor baie wit mense hulle oë rol en kwaad word, naamlik witheid en wit bevoorregting.

Gou verval gesprekke hieroor in naakte rassisme. Trantraal stel dit duidelik: “Ek haat ie mense met ligte vel nie. Ek haat ie mense met blou oë en groen oë nie. Ek haat ie colours ie. Ek haat wit. Wit issie ’n colour nie, wit isse religion.” Witheid as godsdiens, as manier om na die wêreld te kyk sonder dat jy eens bewus daarvan is dat jy op ’n bepaalde manier kyk, wat jou laat oordele vel oor almal wat nie dieselfde glo nie (want hulle gaan immers hel toe), wat jou patroniserend laat optree teenoor dié wat nie dieselfde glo nie, behoort oral in ons samelewing uitgedaag te word. Trantraal lewer ’n belangrike bydrae daartoe.

Send this to a friend