Kies ‘n boek – ‘n Droë wit seisoen

kjs_droewitseisoen

Willie Burger kyk na die heruitgawe van André P Brink se ’n Droë wit seisoen, ’n boek wat ’n groot indruk op hom gemaak het

Die woorde “’n boek wat my lewe verander het” word te maklik gebruik. Meestal is dit ’n emosionele uitlating wat mense maak wanneer hulle eintlik maar net bedoel dat hulle baie van ’n boek gehou het.

Kort ná André P Brink se dood in 2015 het talle mense opgemerk dat een van sy romans ’n baie groot invloed op hulle gehad het. Party het ’n Oomblik in die wind genoem, ander Kennis van die aand, vir sommige was dit Lobola vir die lewe of Houd-den-bek. Vir my was die Brink-roman wat ’n groot invloed op my gehad het ’n Droë wit seisoen. Daarom was ek dadelik opgewonde toe ’n nuwe uitgawe met ’n vars buiteblad op my tafel land. Die roman het oorspronklik in 1979 by Taurus verskyn. Hierdie uitgewery het uit verset teen die destydse sensuurstelsel ontstaan. Taurus het boeke gepubliseer wat waarskynlik weens hul politieke inhoud verbied sou word en wat daarom deur die hoofstroomuitgewers weggewys is.

In 1979 was ek in standerd agt. Uiteraard is ’n mens op 15-jarige ouderdom besonder ontvanklik en my ouderdom het beslis ’n rol gespeel in die indruk wat die roman op my gemaak het. Dit was die eerste Brink-roman wat ek gelees het. Hoewel ek reeds ’n ywerige leser was, het ek hoofsaaklik avontuurverhale, Westerns (Louis L’Amour), spioenasierillers (Frederick Forsyth) en nie-fiksie gelees. In daardie stadium was my ervaring van meer “literêre” tekste beperk tot John Steinbeck se Of Mice and Men en Hemingway The Old Man and the Sea. My blootstelling aan fiksie in Afrikaans was nie veel wyer as Karel Kielblock, Kas van den Bergh, Klub 707-boeke en die dik oorlogromans van Heinz G Konsalik nie. Benewens FA Venter se historiese en bybelromans wat in my ouerhuis was, was my kennis van Afrikaanse “letterkunde” tot die Groot verseboek beperk. Toe lees ek ’n Droë wit seisoen. Dit het my lewe op verskeie maniere verander. Eerstens het ek vir die eerste keer besef dat ’n roman veel meer as slegs ’n meesleurende storie kan wees. Enige fiksie het die vermoë om ’n mens in ’n ander wêreld op te neem, om ’n mens te boei en te laat wonder oor wat met die karakters gaan gebeur.

’n Droë wit seisoen het dit ook gedoen, maar meer as enigiets wat ek tot in daardie stadium gelees het, het dié roman my nie ongekweld na my eie wêreld laat terugkeer nie. Die roman het my ook laat besef dat Afrikaans ’n “grootmenstaal” is, dat alle Afrikaanse boeke nie van ’n opvoedkundige en stigtelike aard hoef te wees nie, maar op ’n ernstige manier met die “regte wêreld” omgaan. Tweedens het die roman my daarvan bewus gemaak dat die rustige, wit middelklasbestaan nie sommer so vanselfsprekend net dáár is nie. Vir die eerste keer het ek met vrees na die polisie begin kyk, eerder as met respek en bewondering omdat hulle “ons” veilig hou. ’n Droë wit seisoen het my vir die eerste keer regtig na die nuus laat luister.

Die roman gaan oor ’n onderwyser aan ’n Johannesburgse skool wat by een van die swart werkers by die skool betrokke raak. Hy ondersteun die werker se seun finansieel sodat hy kan skoolgaan. Wanneer die seun egter in polisie-aanhouding sterf, raak hy al hoe meer betrokke en probeer uitvind wat presies aan die gang is. Die antwoorde wat hy by die polisie kry, stel hom nie tevrede nie en hy probeer hardkoppig agter die kap van die byl kom. Hy verloor sy naïwiteit geleidelik en kom agter hoedat die apartheidstaat aan bewind bly deur skrikwekkende onderdrukkende magte aan die polisie te gee. Hy word gewaarsku en later gedreig om nie in te meng nie. Hy verloor sy werk en sy gesin soos wat hy al nader aan die waarheid probeer kom, maar al meer vervreem raak van mede- Afrikaners wat weier om die magsvergrype raak te sien. Uiteindelik word hy vermoor (in wat soos ’n ongeluk lyk), maar nie voordat hy al die dokumente en sy hele verhaal aan ’n vriend van hom oorhandig nie.

Die roman word aangebied as die vertelling van hierdie vriend, wat die onderwyser se skrikwekkende verhaal vertel sodat “dit onmoontlik sal wees dat enigiemand ooit hierna durf sê: ‘Ek het nie geweet nie.’” ’n Droë wit seisoen het destyds inderdaad ’n lewensveranderende invloed op my gehad en het ’n deurslaggewende rol daarin gespeel dat ek letterkunde gaan studeer het. Dit het ook aan my politieke bewussyn begin vorm. Die herlees van die roman nou, byna 40 jaar later, is steeds onthutsend en meesleurend. Steeds word mense in ons wêreld onderdruk en geviktimiseer wanner hulle die mag uitdaag. Daarom is dit goed dat hierdie roman juis nou weer uitgegee word. ’n Mens kan hoop dat nog meer werk van skrywers soos Brink en Karel Schoeman vir ’n nuwe geslag lesers heruitgegee sal word.

Send this to a friend