Klassieke klanke: Philippe Jaroussky

yaroussky-web

Dis juis die eiesoortige klank van kontratenore wat nié deur vroue nagemaak kan word nie

Deur JOHAN MYBURG

Kontratenore is duidelik oorgehaal om hul plek as die “vyfde stemsoort” vol te staan – naas bas, tenoor, alt en sopraan. So lyk dit te oordeel na die prominensie wat dié sangers die afgelope paar jaar bereik het.

Philippe Jaroussky, die Franse kontratenoor wat in 2008 en weer in 2016 as die sanger van die jaar in Echo Klassik se musiekpryse aangewys is, het in die jongste tyd dalk heelwat daartoe bygedra. So ook Andreas Scholl, Jakub Józef Orliński, Iestyn Davies en David Daniels én Decca se uitreiking van die CD The Five Countertenors met Valer Sabadus, Xavier Sabata, Vince Yi, Max Emanuel Cencic en Yuriy Mynenko. Moontlik het Gérard Corbiau se fliek van 1994, Farinelli, met Stefano Dionisi in die naamrol en die sangstemme van die sopraan Ewa Malas-Godlewska en die kontratenoor Derek Lee Ragin ook dié stemsoort ’n hupstoot gegee.

’n Kontratenoor is ’n man wat in ’n falsetto-stem sing, die ekwivalent van ’n mezzo-sopraan of ’n kontralto – van G onder middel-C tot die G twee oktawe bokant middel-C, of selfs hoër. Die aansien wat kontratenore tans geniet, spruit dalk voort uit die herwaardering wat vroeë musiek in die 1980’s gekry het. Heelwat musiek uit die Renaissance en die 17de en 18de eeu het stempartye vir kontratenore – oorspronklik vertolk deur castrati. In die verlede het dit beteken dat seuns fisiologiese veranderinge moes ondergaan (kastrering) om ’n sopraan- of altstem te kan behou. Deesdae bereik mans die hoë registers met behulp van vokale tegniek – sonder enige fisiologiese ingrype.

LEES OOK: Klassieke klanke: Benjamin Appl

Corinna Herr, Duitse musikoloog en skrywer van die boek Singing Against Nature? Castrati and Falsetto through Music History voer aan dat kontratenore in die 1980’s, en kort daarna, in die algemeen vroue probeer namaak het deur so hoog moontlik te sing. Daarenteen het hedendaagse kontratenore ’n meer unieke en individuele klank, voer sy aan. Maar waarom, sou ’n mens kon vra, moet mans soos vroue kan sing? ’n Mezzo kan netsowel dié rolle vertolk. Maar, soos Herr aandui, is dit juis die eiesoortige klank van kontratenore wat nie deur vroue nagemaak kan word nie. Dink maar aan Jaroussky se vertolking van Henry Purcell, een van die vernaamste komponiste van die 17de eeu, se Music for a While. Jaroussky se kontratenoorstem verleen ’n besonderse diepte en drama aan die aria, terwyl ’n mezzo ’n delikater kwaliteit daaraan sou gee.

Eweso sou ’n sopraan die rol van Nero in Claudio Monteverdi se opera L’incoronazione di Poppea kon baasraak, wat vir ’n man geskryf is; maar dan sou heelwat van die erotiese spanning tussen die keiser en sy keiserin, Poppea, verlore gaan. Maar dit is lank nie meer net vroeë musiek wat die dienste van kontratenore benodig nie. Benjamin Britten het verskeie sleutelrolle vir die kontratenoorstem geskryf: dié van Oberon in A Midsummer Night’s Dream en dié van Apollo in sy laaste opera, Death in Venice, waarin hy dié stemkwaliteit benut om gestalte aan ’n ongewone, anderwêreldse klank te gee.

Ook Britten se toonsetting van TS Eliot se The Journey of the Magi, Fourth Canticle, kry die kontratenoorstem eweneens prominensie. Ná Britten is verskeie operas geskryf, onder meer dié van Thomas Adès, The Tempest and the Boy, en George Benjamin, Written on Skin, wat wonderlike rolle – in die geval van laasgenoemde, ’n rol met heelwat om die lyf –vir kontratenore bied.

Send this to a friend