Klassieke klanke: La Fenice

la fenice_klassiek

Soos sy naam, La Fenice, aandui, is dié teater gewis soos die mitologiese gevoëlte wat deur vuur verteer word en dan weer wonderbaarlik uit die as verrys

Deur JOHAN MYBURG

Ingelê soos ’n edelsteen in die kroon van Venesië se San Marco is La Fenice, wat “die feniks” beteken, dié stad se bekendste operahuis. ’n Kronkelende steeg of twee verder van die Campo Sant’Angelo af neem jou na die argitek en ontwerper Aldo Rossi se rekonstruksie van die operahuis wat in 1996 in ’n brand verwoes is. Net die buitemure het bly staan. Met “hoe dit was, waar dit was” as uitgangspunt het Rossi dié projek benader en iets soos 90 miljoen euro later het La Fenice sy deure in 2004 oopgegooi met La traviata as die eerste opera in die gerestoureerde gebou.

Rossi het die 19de-eeuse teater as ’t ware herbou deur onder meer gebruik te maak van foto’s uit die openingstonele van Luchino Visconti se 1954-rolprent, Senso, wat in La Fenice verfilm is. Die teater is na 1 000 sitplekke vergroot, maar die hoefyster-uitleg is behou. Soos sy naam aandui, is dié teater gewis soos die mitologiese gevoëlte wat deur vuur verteer word en dan weer wonderbaarlik uit die as verrys. En soos die feniks lyk dit of La Fenice dit keer op keer regkry. Die eerste teater, wat 40 jaar op dié perseel in Venesië gestaan het, was die Teatro San Benedetto, wat in 1774 afgebrand het. Rekonstruksie het in 1790 begin en twee jaar later is La Fenice (met verwysing na die brand) met ’n aanbieding van Giovanni Paisiello se opera I giuochi d’Agrigento (Die spele van Agrigento) in gebruik geneem.

 

LEES OOK: Klassieke klanke: The King’s Singers

 

Met die aanbreek van die 19de eeu het La Fenice sy plek in Europa met mening ingeneem toe twee produksies van Gioachino Rossini, Tancredi in 1813 en Semiramide in 1823, daar aangebied is. ’n Paar jaar later het Bellini se I Capuleti e i Montecchi en Beatrice di Tenda gevolg en in 1833 is Gaetano Donizetti se Belisario in La Fenice aangebied. Drie jaar later, in 1836, was La Fenice weer in vlamme. Dié keer is die teater onmiddellik herbou en teen die einde van 1837 het die teater met rojale interieur, met pleisterkalk (stucco) en goue versierings, geopen. In die ouditorium is hout gebruik, maar Rossi het wyslik op ’n staaldak vir La Fenice besluit. Giuseppi Verdi het van 1844 af verskeie produksies in La Fenice op die planke gehad, onder meer die premières van Attila, Rigoletto, La traviata en Simon Boccanegra.

Die première van La traviata in 1853 was minder suksesvol … die gehoor het bly giggel oor die heldin wat konsuis aan tering sou sterf. La Fenice het ook sy kwota wêreldpremières van 20ste-eeuse operas gehad, onder meer Igor Strawinski se The Rake’s Progress, Benjamin Britten se The Turn of the Screw, Sergei Prokofiëf se L’angelo di fuoco (Die vurige engel), Luigi Nono se Intolleranza en Bruno Maderna se Hyperion. Nono en Maderna is albei Venesiese komponiste. In 1947 het Maria Callas haar La Fenicedebuut in Richard Wagner se Tristan und Isolde gemaak. Dit was in die einste La Fenice waar Joan Sutherland met haar debuut in die naamrol in Georg Friedrich Händel se Alcina in 1960 die bynaam La Stupenda gekry het. Benewens die sowat 100 opera-aanbiedings per jaar in dié teater word simfonieseisoene op ’n gereelde grondslag aangebied. Soos die feniks het La Fenice uit die as verrys en meer nog, sy plek weer as een van Europa se voorste huise ingeneem.

Send this to a friend