Die Stellenbosse landgoed is bó mededingers uitgesonder en het ’n indrukwekkende sewe medaljes ontvang
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Kleine Zalze wynlandgoed tussen Somerset-Wes en Stellenbosch het ’n unieke prestasie behaal toe die multi-nasionale Sommelier Wine Awards (SWA) in die VK die landgoed as Beste Nuwe Wêreld Produsent vir die tweede agtereenvolgende jaar en ’n derde maal in totaal, nadat die titel ook in 2015 ingepalm is, aangewys het.
Die Stellenbosse landgoed is bó mededingers van onder meer Australië, Chile, die VSA en Nieu-Seeland uitgesonder en het ’n indrukwekkende sewe medaljes ontvang, waarvan vyf goud. Die SWA ontvang jaarliks duisende inskrywings van voorste produsente regoor die wêreld. Die aankondiging is die jongste prestasie in ’n baie bekroonde eerste helfte van die jaar vir Kleine Zalze en is onlangs op die landgoed gevier. Kobus Basson, Kleine Zalze se eienaar en besturende direkteur, het onder meer vertel van die nuwe aanplantings wat tans onderweg is en die nuwe projekte in die kelder.
Die wynproe het die uitsonderlike wyn van die afgelope paar jaar se oesjare vertoon en nuwe wyne wat nog nie vrygestel is nie, is geproe om te wys met watter nuwe wynstyle die wynmakers, Alastair Rimmel en RJ Botha, eksperimenteer. Gaste het die landgoed se bekroonde Chenin blanc geproe, waarmee die wynmakers onder meer sommige op die doppe fermenteer het; ander in Terracotta amforapotte laat verouder het en ook die plaas se Shiraz van die koelste wingerde in Valsbaai. Alastair het gesê hulle maak steeds tradisionele, sterk Shiraz. Syrah is ligter in styl. “Ons is gemaklik met ons styl en doen dit goed. Die uitdaging lê tegelykertyd daarin om ’n plaas relevant te hou, maar nie in ’n gemaksone te verval nie. Boonop moet jy aan jou styl getrou bly, maar ook wyne maak wat die mark wil drink.”
Kobus het aan gaste vertel: “Ons staan nederig voor hierdie prestasie, want die SWA is die enigste kompetisie wat net op die restaurantbedryf fokus. Dit word deur top sommeliers en restaurant- drankaankoperspaneel beoordeel en beloon die beste wyne wat in restaurante, kroeë en hotelle in die VK en verder, beskikbaar is. Al die wyne word per kategorie blind geproe en die vereistes sluit onder meer in kosvriendelikheid, veelsydigheid, persoonlikheid – en die belangrikste – waarde vir geld teen watter prys ookal.”
Hy het gesê Suid-Afrikaanse wyne se kwaliteit is baie beter as ’n dekade of wat gelede. “Die wyne is baie meer afgerond en ek is opgewonde oor die toekoms van Suid-Afrikaanse wyne. Ons streef voortdurend daarna om wyne te maak wat goed met kos pasmaat en die SWA-uitslae is dus uiters positief. Die feit dat ons jongste toekenning vyf verskillende kultivars insluit – Cabernet Sauvignon, Shiraz, Chenin Blanc, Sauvignon Blanc en Chardonnay – is selfs nog meer bevredigend,” sê Kobus.
Die bevestiging van die deurlopende uitmuntendheid regoor wit- en rooi kultivars, sowel as al die Kleine Zalze-reekse – van groot tot boetiek – is ’n deel van die onlangse gros suksesse. Die SWA Hoof van Beoordeling is Christine Parkinson, die groep wyn-aankoper vir die multi-nasionale, Michelin-bekroonde Hakkasan restaurant-groep.
Die landgoed het ook by die International Wine Challenge 2019; die Concours Mondial du Sauvignon 2019; Concours Mondial de Bruxelles 2019; die Decanter Wine Awards; Mundus Vini International Awards (Lente Proe) presteer en ’n insluiting in die Top 10 Wyne in die Prescient Cabernet Sauvignon Report 2019 gehad.