Kuns: Oceania

oceania-web

Tene Waitere se Ta moko-paneel, gekerfde hout, skulp
en verf. Met vergunning van die Nasionale Museum van
Nieu-Seeland Te Papa Tongarewa.

Oceania is daarop gemik om die verhale van die bewoners van Stille Oseaan-eilande se geskiedenis van inter-eilandhandel, seevaart asook sosiale en artistieke tradisies te vertel

Deur JOHAN MYBURG

“In die algemeen is die merke spirale wat noukeurig en elegant geteken is. Die een kant korrespondeer met die ander. Die merke op die liggaam verwys na loof in ou ornamente, iets soos filigraanwerk, maar daar is so ’n luuksheid van vorm dat uit ’n honderd wat op die oog af almal dieselfde lyk, nie twee by nadere ondersoek dieselfde is nie.”

Dit is hoe kaptein James Cook in 1769 die “ta moko”, die permanente merke op die gesigte en lywe van die Maori in Nieu- Seeland beskryf het. Anders as tatoes, is die vel in dié geval nie met naalde geprik nie, maar gekerf om groefies in die vel te laat. In 1896 het die Maori-houtkerwer Tene Waitere (1853–1931) opdrag gekry om ’n houtpaneel ter illustrasie van dié merke vir August Hamilton se boek oor Maori-kuns te maak. Dit is dié paneel, wat hiernaas afgebeeld is, wat deel is van die Royal Academy se uitstalling Oceania, wat tot volgende maand in Londen te sien is. I

n dié Ta moko-paneel (56 cm x 78 cm en met ’n reliëf van 15 cm) verbeeld Waitere twee mansfigure met “moko” en daaronder ’n profiel van ’n vrou, en gee blyke van eksperimentering met komposisie sowel as tegniek. Hy was deel van ’n geslag voortreflike beeldhouers en het heelwat kerfwerk in die Rotoroa-omgewing gemaak. Ter viering van sy 250ste bestaansjaar en daarmee saam die herdenking van Cook se eerste vaart na die Stille Oseaan-gebied in 1768, het die Royal Academy dié uitstalling met sowat 200 kunswerke uit Oseanië byeengebring – van historiese voorwerpe tot kontemporêre kunswerke.

LEES OOK: Kuns: Richard Hamilton

Die werke kom uit openbare versamelings wêreldwyd en strek oor ’n tydperk van 500 jaar. Dit sluit in ornamente van skulp, klip en keramiek, houtkerfwerk – waaronder ook tamaai kano’s – en werke met religieuse betekenis. Europa se eerste kennismaking met die mense en kultuur van dié streek, waarna in die 18de eeu verwys is as terra australis incognita, die onbekende suidelike vasteland, was juis deur die reise wat Cook na die Stille Oseaan-gebied onderneem het, onder meer na die Ooskus van Australië, Nieu-Seeland, Tahiti en die eilande van Melanesië en Mikronesië.

Uit dié reise het kennis oor die inwoners se geskiedenis van inter-eilandhandel, seevaart, asook sosiale en artistieke tradisies aan die lig gekom. Oceania is daarop gemik om dié verhale te vertel. Daarvoor het die Royal Academy saamgespan met die Musée du Quai Branly-Jacques Chirac in Parys, en met die deelname van die museum vir argeologie en antropologie in Cambridge werke onder meer uit die versamelings van museums in Nieu-Seeland byeengebring.

Een van die eietydse kunswerke wat ingesluit is, is die Nieu-Seelandse kunstenaar Liza Reihana se panoramiese videowerk wat verlede jaar heelwat aandag op die Venesiese Biënnale getrek het. Reihana se In Pursuit of Venus [infected], verwysend na Cook se aanvanklike opdrag vir sy eerste reis, om die baan van Venus na te speur, en wat tot sy vele ontdekkings gelei het, verbeeld die aankoms van die Britte en die gevolge vir die mense van die Stille Oseaan-gebied. Die video-enklankwerk is reusagtig en bestaan uit meer as 1 500 individuele digitale lae met iets soos 33 miljoen pieksels per raampie. Die werk word op ’n totale oppervlak van 23,5 m x 3,3 m geprojekteer. Die uitstalling duur tot 10 Desember. Besoek www.royalacademy.org.uk vir nog inligting

Send this to a friend