Kuns: Die Louvre | Vrouekeur

Kuns: Die Louvre

0125-vk1-louvre-web

Die Louvre in Parys

Die Louvre in Parys is die kunsmuseum wat steeds die meeste besoekers jaarliks lok

Deur JOHAN MYBURG

In sy eerste jaar het die Louvre Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) meer as een miljoen besoekers gelok. Dié kunsmuseum op die Saadiyat-eiland is in November 2017 geopen en is die grootste in sy soort op die Arabiese skiereiland.

Een van dié museum se grootste trekpleisters is waarskynlik Salvator Mundi, die Leonardo da Vinci-skildery waarvoor daar in 2017 R6,4 miljard op ’n veiling van Christie’s in New York betaal is – die meeste wat nóg op ’n veiling vir ’n skildery betaal is. Volgens die museum is die meeste van die besoekers van die VAE. Onder die buitelanders wat die museum druk besoek het, was die meeste van Indië. Met sy net meer as een miljoen besoekers is die Louvre Abu Dhabi in die geselskap van die Picasso-museum in Barcelona, die Houston-kunsmuseum in die VSA en selfs die Musée du quai Branly in Parys.

Die kunsmuseum wat egter die meeste voete trek, bly die Louvre in Parys met meer as agt miljoen besoekers in 2017 (verlede jaar se syfers was met saktyd nog nie beskikbaar nie). Dié syfer was wel laer as wat die Louvre verwag het. In 2012 het dié museum ’n rekord van 9,7 miljoen besoekers gehad en die hoop was om die tienmiljoenkerf verby te steek. Terreuraanvalle in die Franse hoofstad teen die einde van 2015 en die nadraai van dié aanvalle word aangegee as redes waarom nie meer mense die Louvre besoek het nie. Dié museum met sy meer as ’n miljoen kunswerke, waarvan slegs 35 000 op enige gegewe oomblik uitgestal word, strek oor sowat 60 000 m².

LEES OOK: Kuns: Mori- digitale kunsmuseum

Die Louvre was ook in 2017 die museum met die meeste Instagram-plasings – iets soos drie miljoen. Vir museumowerhede is besoekersgetalle belangrik, maar vir toeriste is dit dikwels ’n sleur. Dit sou wonderlik wees om die Mona Lisa te kan betrag sonder die honderde saam met jou voor dié klein skildery agter dik koeëlvaste glas. Maar dan is die Louvre so groot en die versameling so ryk en kompleks – met stukke van antieke Mesopotamië tot die 19deeeuse Romantiek – dat daar altyd galerye is wat minder besoekers het.

’n Kortkop agter Parys se Louvre is die nasionale museum van China in Beijing met net meer as agt miljoen besoekers en die Metropolitan-kunsmuseum in New York met net meer as 7,3 miljoen besoekers in 2017. In volgorde lok die volgende museums ook jaarliks meer as vier miljoen besoekers: die Vatikaan in Rome; die nasionale kunsmuseum in Washington; die nasionale museum in Taipei en die Hermitage in St Pietersburg. Net minder as vier miljoen mense het in 2017 die Reina Sofia-museum in Madrid besoek (meer as die Prado, ook in dié stad). Die Reina Sofia (genoem na die Spaanse koningin Sofia) fokus veral op 20ste-eeuse Spaanse kuns met werk van die meesters Pablo Picasso en Salvador Dalí.

Die juweel in die kroon van dié museum is gewis Picasso se Guernica. Daar is gewis kunsskatte én trekpleisters in dié museums, en mens is geneig om moeite te doen om hulle op buitelandse reise te besoek, om een van die miljoene te wees. Waarom nie ’n plan maak om ook ’n plaaslike kunsmuseum of galery te besoek nie? In ons land is daar ’n hele paar museums met netjiese versamelings. Iewers moet ons begin om dié instellings te ondersteun en om aan kuns op ons voorstoep blootgestel te word.

Send this to a friend