Kuns: Lothar Böttcher

bottcher lothar

Schiesheim Session, die werk wat tans in
Duitsland vertoon word.

‘In ’n tyd van gedigitaliseerde massamedia en ons voortdurende sug om te verbruik en te verorber, kyk ons dikwels besonderhede mis’

Deur JOHAN MYBURG

Sy opleiding as glasslyper het Lothar Böttcher aan die Duitse Glasfachschule Hadamar naby Frankfurt onder leiding van die meesters Josef Welzel en Willi Pistor gekry. Dié opleiding het op tradisionele tegnieke gefokus – onder meer om koud (sonder enige hitte) glas met die hand te slyp en poleer.

Dié studie in die buiteland het gekom ná sy kunsstudie aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie waar hy die eerste keer met glas as medium kennis gemaak het toe dié universiteit ’n departement vir glaswerk geopen het. Die moontlikhede wat dié agtergrond inhou, sou hom in ’n rigting kon stuur om glas vir kommersiële gebruik te slyp; soos vir die slyp van lense onder meer vir die mediese wetenskap.

Maar Böttcher (44) het met sy kwalifikasies en ervaring ’n ánder koers ingeslaan: dié van kunstenaar. In sy ateljee in die noorde van Pretoria werk hy as beeldhouer wat beweging wil vasvang – in gehalteglas, dikwels met staal gekombineer. En nooit sonder lig nie. Want dit is lig wat glas laat lewe én beweging tot stand bring. Dit is juis met glas waarmee hy lig manipuleer en ander invalshoeke en gesigspunte na vore bring en die kyker ’n geleentheid bied om ook déúr die glas te kyk. “In ’n tyd van gedigitaliseerde massamedia en ons voortdurende sug om te verbruik en te verorber, kyk ons dikwels besonderhede mis. Ons is só op tweedehandse ervarings ingestel dat ons nie meer eerstehands waarneem nie,” sê Böttcher oor sy werk en gaan voort: “Met my beeldhouwerk probeer ek die ervaring van onmiddellikheid in ons lewens beklemtoon.” Om dié punt te bereik verlaat hy hom op moeisame slypwerk met sandsteen wat die glas aanvanklik dof en leweloos laat.

LEES OOK: Kuns: Bernini se beeldhouwerk

Daarna word die voorwerp wat hy slyp keer op keer geskuur en gepoets totdat die kunswerk eindelik iets van ’n klein kragbron word wat lig weerkaats. Dit is op dié manier dat die beeldhouwerk kinetiese kwaliteite kry. Die tydsame slyp- en poetswerk doen Böttcher self. “Ek het al saam met assistente in die ateljee probeer werk, maar dit beteken ek moet iemand anders bestuur in plaas van om self met die proses besig te wees,” sê hy. Die ure se werk in die ateljee is vir hom ’n meditatiewe handeling, wat hy nie wil ontbeer nie. Wat hy benadruk, is die eindproduk wat as ’n gesprek tussen idee, materiaal en proses tot stand kom.

Hy maak van meet af aantekeninge, beplan die loop van die werk en versin die eindproduk. Nietemin is dit die uitdagings wat hy gaandeweg teëkom én die antwoorde en oplossings wat hy moet vind, wat betekenis gee aan die hele proses van glas slyp, poleer en kuns maak. Deur Böttcher se toedoen is die Suid- Afrikaanse glasvereniging gestig. Einde verlede jaar was hy die kurator van die uitstalling Blow Your Sculpture in die Pretoria-kunsmuseum. Sukses en erkenning kry Böttcher plaaslik sowel as uit die buiteland. Verlede maand het ’n uitstalling in die Höhr- Grenzhausen-keramiekmuseum in Westerwald, Duitsland, met die titel Material und form, geopen. Een van sy beelde, Schiesheim Session, wat ook in die vak- en bedryftydskrif New Glass Review gepubliseer is, is deel van dié uitstalling. Material und Form is ’n internasionale forum waarvoor net 100 werke wêreldwyd gekies is om die kontemporêre landskap van glas te weerspieël. Dié uitstalling duur nog tot Februarie.

Send this to a friend