Kuns: MJ Lourens

In die tradisie waarbinne hy werk, verruim Lourens met sy uitbeelding van die oorgang van ’n landelike na ’n industriële bestaan ’n werklikheid waarin die landskap ly

Deur JOHAN MYBURG

 

Die Kaapstadse kunstenaar MJ Lourens se jongste uitstalling, Views on Entropy, is nog tot 29 Mei in die Barnardgalery in dié stad te sien. Met dié werk bou Lourens voort op die landskappe wat hy verlede jaar in Lizamore & Associates in Johannesburg onder die titel In situ vertoon het. Dit is met die broosheid van oorgang, daardie drumpel waarna dikwels as liminaliteit verwys word, waarmee MJ Lourens sy wye landskappe, die stadskappe van sy jeug benader – hy het in Pretoria grootgeword en sy kunsgraad in 1996 aan Tukkies behaal.

Weerskante van die oomblik wat Lourens vergestalt – daardie oomblik net voordat die lug verander, net voordat die stad sigbaarder word, of in donkerte wegsink – lê die aanloop tot én die afloop ná in die kyker se geestesoog. Die oomblik van oorgang wat hy in akriel op bord vaslê, word in der waarheid ’n gestolde skoot uit ’n sekwens, soos in Last View, ’n panorama van 50 cm x 180 cm. In die tradisie van die Suid-Afrikaanse landskapskilderkuns is sy werk formeel-realisties en het sy landskappe steeds op die oog af ’n element van ongereptheid – soos in die uitbeelding van die veld, heuwels en veral wolke.

Nietemin is die letsels van die mens se aanwesigheid en dié van beweging (eerder as vooruitgang) onlosmaaklik deel van sý weergawe van die landskap. In tonele wat net so min aanduiding van mensfigure het as dié van byvoorbeeld JH Pierneef, het die spore van die mens in Lourens se werk toenemend sigbaar geword – van menslike vernuf, van elektrisiteit en masjinerie, van handel en nywerheid, maar ook van verval en veral agteruitgang betref. In die tradisie waarbinne hy werk, verruim Lourens met sy uitbeelding van die oorgang van ’n landelike na ’n industriële bestaan ’n werklikheid waarin die landskap ly as gevolg van uitgrawings, mynhope, geboue wat onnatuurlik hoekig is soos kubusse of trapesiums, heinings, betonmure met graffiti en leë advertensieborde en meer onlangs surreële vorms as visuele versperrings op die voorgrond.

LEES OOK: Kuns: Pieter Wenning

Waar ’n plantasie kroondenne vroeër die uitsig ingeperk het, het dié plantegroei gaandeweg vir skoorstene van nywerhede plek gemaak wat as ’t ware sinjale van industrialisasie word. En soos wat jakkalsdraad ’n versperring was waardeur ’n mens die tafereel nog kon betrag, het dié obstruksie in losser kwaswerk en ’n vryer omgang met verf abstrakte vorms voortgebring – met die enigmatiese inhoud wat ’n mens onthou uit Hieronymus Bosch se landskappe, of selfs dié van Salvador Dalí. In van sy later werk bly nog net die ylbewolkte hemel ongeskonde. Die landskap word in geheel verberg deur aanduidings van ’n ander bestel, ’n laag verf waardeur ’n mens moet kyk om iets van die landskap uit te maak.

Dit is meer as ’n oorgang van die skemeruur wat Lourens meesterlik verbeeld. Hy vang ook die onstabiliteit vas wat in dié tyd van die dag opgesluit is. En binne die Suid-Afrikaanse konteks van aansprake op grond en eienaarskap van “die landskap” kry sy werk ’n dringende betekenis. Lourens se werk is in versamelings soos dié van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Unisa, die Pretoriase Kunsmuseum en dié van die Rand Aksepbank opgeneem. Benewens sy werk as skilder, is hy ook ywerig as regisseur en rolprentmaker besig – van prente soos Die rit/The Drive (2009), Prognose/Prognosis (2008) en Pa/Father (2006) wat op die Statebondrolprentfees vertoon is en in die Afrikainternasionale rolprentfees in Tariva, Spanje, ingesluit is.

Send this to a friend