Kuns: Christo Javacheff en Jeanne- Claude Denat

reichstag

Die Duitse Reichstag in Berlyn, die gebou wat Christo en Jeanne-Claude in 1995 toegedraai het

Die kunstenaar bekend as Christo is ná die dood van sy vrou en medekunstenaar, Jeanne-Claude, steeds besig om op groot skaal omgewingskuns te maak

Deur JOHAN MYBURG

Christo Javacheff en Jeanne- Claude Denat is op dieselfde dag gebore, 13 Junie 1935, hy in Gabrovo in Bulgarye, en sy in Casablanca in Marokko. Hulle het in 1958 in Parys ontmoet toe hy opdrag gekry het om ’n portret van haar ma te skilder. Hy was op haar suster verlief. Sy was aan ’n ander man verloof. Maar duidelik was dié twee vir mekaar bedoel en as Christo en Jeanne-Claude het hulle die wêreld se bekendste omgewingskuns- egpaar geword.

Om hul kuns te beskryf, is aan die een kant nie moeilik nie. Hulle het begin deur voor die voet alles in óf papier óf lap toe te draai – eers boeke en skoene en later geboue. En toe eilande. Hul omgewingskuns was dikwels omstrede en het deurgaans aandag getrek. Die twee het altyd apart gevlieg, sodat as die een in ’n vliegtuigongeluk sou sterf, die ander een met die werk sou kon voortgaan. Sedert Jeanne-Claude se dood in 2009 werk Christo alleen.

Verlede jaar het hy in die noordelike somer ’n eiland met ’n drywende brug verbind wat besoekers die geleentheid gegee het om op water te loop. Hoewel die twee talle kunswerke saam gemaak het, is slegs “Christo” tot en met 1994 as die kunstenaar aangedui. Daarna is die werk aan “Christo en Jeanne-Claude” toegeskryf. Hul eerste beduidende samewerking was vir ’n uitstalling in 1961 in die Duitse stad Keulen toe Christo ’n galery met gestapelde oliedromme gevul het, met byna geen beweegruimte in die galery nie. ’n Koerant het ’n foto met ’n opskrif gepubliseer: “Die mees omstrede uitstalling nóg in Keulen.”

LEES OOK:Kuns: Ron Mueck

Sedertdien het oliedromme, moontlik vanweë die beeldhouagtige eienskappe en die bekostigbaarheid daarvan, ’n voorkeurmateriaal vir Christo geword, hoewel talle van sy projekte met dié dromme nooit gerealiseer het nie. In 1970 het Christo en Jeanne-Claude ’n gordyn van 400 m in die sogenaamde Rifle Gap in ’n vallei in Colorado, VSA, gehang. Vir dié projek is materiaal van 14 000 m2 gebruik en die begroting het by $400 000 gaan draai. Die kunstenaars het nooit van borgskappe gebruik gemaak nie en self vir hul projekte opgedok deur die verkoop van voorstudies, collages, skaalmodelle, tekeninge en litografiese drukke. Die oranjekleurige gordyn was gereed om aan vier staalkabels gehang te word toe dit geskeur het.

’n Tweede gordyn is gemaak en gehang, net om ’n ruk later deur ’n stormwind van 60 km/h verwoes te word. Christo was besig met dié Valley Curtainprojek toe hy ’n versoek van ’n Berlynse kunshistorikus gekry het om dié stad se parlementsgebou, die Reichstag, “toe te draai”. Dié idee het Christo al in 1961 gehad en hy het toe reeds tekeninge daarvan gemaak. Ná jare van onderhandeling is dié trotse gebou in 1995 met 100 000 m2 se silwerkleurige polipropileen toegedraai en met blou toue van 15,6 km lank vasgebind.

Soveel as 120 takelaars en werkers is ingespan en die Reichstag was twee weke lank in blink papier toegedraai. Agterna het Christo van dié projek gesê: “Dit het 24 jaar se onderhandelings met ses presidente geneem. Alles vir twee weke.” Dié projek het destyds $15,3 miljoen gekos en weer het Christo en Jeanne-Claude die rekening betaal. Waarom goed toedraai? Soos Christo eens opgemerk het: “Deur iets toe te draai, onthul jy die inherente vorm en proporsie van die voorwerp deur die eintlike voorwerp te verhul.”

Send this to a friend