Kuns: Christo Coetzee

0118-vk1-christo-web

Christo Coetzee se Butterfly Lighting in a Diamond, 1960, ’n doek met gemengde media, wat in 1961 in die Museum of Modern Art in New York se uitstalling The Art of Assemblage ingesluit is.

Met dié jongste oorsiguitstalling is die fokus weer op  die voorloper, Christo Coetzee, een van die voorste  eksponente van abstrakte ekspressionisme

Deur JOHAN MYBURG

Die rol wat oorsiguitstallings  speel om die werk van kunstenaars  te herbevestig, kan  nooit onderskat word nie. Des  te meer is dit omvangryke uitstallings  met heelwat navorsing wat in katalogusse  of selfs boeke neerslag vind wat  bydra tot die groter plek wat kunstenaars  se werk in die openbare oog en  die kunswêreld kry. 

 So was dit byvoorbeeld die geval met  Alexis Preller toe Esmé Berman en Karel  Nel die uitstalling Africa, the Sun and  Shadows in die Standard Bank-galery in  Johannesburg aangebied het. Benewens  ’n nodige herwaardering van Preller se  werk, het dié uitstalling, en die twee boeke  wat daarmee saam gepubliseer is, sy werk  ’n hupstoot in die sekondêre mark gegee.  Einde verlede jaar het Wilhelm van  Rensburg en Shonisani Netshia in dieselfde  galery ’n uitstalling van die werk van  Christo Coetzee (1929–2000) aangebied,  ’n kunstenaar wie se werk veel meer prominensie  verdien as wat dit die afgelope paar  dekades ontvang het.

Bykans 20 jaar ná die laaste oorsiguitstalling  van Coetzee se werk op Stellenbosch  het die twee kurators met dié  jongste uitstalling, The Safest Place is the  Knife’s Edge, ’n nuwe oorsig oor sy werk  van die 1940’s tot die vroeë 1980’s – met  1959/1960 as die kern van die uitstalling –  gebied.  Coetzee is tot ’n groot mate in Suid-  Afrika vergete, maar eweso in die res van  die wêreld, waar hy eens ’n voorloper, een  van die voorste eksponente van abstrakte  ekspressionisme, was.  Hy het Suid-Afrika in 1951, net ná  sy studie aan Wits en sy eerste solouitstalling  in Kaapstad, verlaat. Hy het eers  in Londen en daarna in Parys aansien  verwerf, toe het hy saam met die befaamde  Lucio Fontana (1899–1968) in Rome  uitgestal, in 1959/1960 het hy ’n jaar in  Japan by die Goetai-groep deurgebring en  in 1961 is Butterfly Lighting in a Diamond,  ’n doek met gemengde media wat hy in  1960 in Parys gemaak het, in die Museum  of Modern Art in New York se uitstalling  The Art of Assemblage ingesluit.

LEES OOK: Kuns: Willem Pretorius

Só het  Coetzee die eerste Suid-Afrikaner geword  wie se werk in Moma uitgestal is.  In 1972 het hy teruggekeer en in Tulbagh  gaan woon.  Dié isolasie (Suid-  Afrika het in daardie jare  nie veel aansien in die  buitewêreld geniet nie)  het sy internasionale  profiel gekniehalter, en  vir Suid-Afrika was sy  werk gewoon te vreemd  en onverteerbaar. Die  soort abstraksie wat toe  hier beoefen is, was nie  die soort formele avant  garde-kuns wat Coetzee  gemaak het nie.  Die jaar in Japan het  ’n blywende invloed op  sy werk gehad, wat in  dié jongste uitstalling  benadruk is.

Die Goetaigroep  (“goetai” is min  of meer dieselfde as  “Gestalt” in Duits) wat in  1954 in die na-oorlogse  Japan tot stand gekom  het, was daarop uit om  die beperkings van kuns  binne die abstrakte  ekspressionisme voortdurend  met dramatiese werk, ten opsigte  van die performatiewe én materiaal, te  bevraagteken.  Die titel van die uitstalling, The Safest  Place is the Knife’s Edge, kom uit ’n  onderhoud waarin Coetzee verwys het na  die noodsaak om jouself as kunstenaar te  wees; om vreugde daaruit te put om jouself  te wees – op die snykant van die mes.  Dit is dié “veiligste plek”, om jouself en  voortdurend aan die voorpunt te wees, wat  Coetzee se werk kenmerk – spesifiek die  werk van die mid-1950’s tot die mid-1960’s,  maar ook dié daarvoor én daarna.

Send this to a friend