Kuns: Claude Monet

Waterlelies, 1916

Hoewel die tuin kennelik ’n inspirasie vir Monet was en hy daarna as sy “buitelugateljee” verwys het, het dié tuin tot ’n kunswerk in eie reg ontwikkel

Deur JOHAN MYBURG

Teen ‘n raps meer as R3 200 per nag kan jy nou in dié “blou huis” in Giverny, noordwes van Parys in Frankryk, tuisgaan. Dié huis waar Claude Monet, vader van die Impressionisme, tot en met sy dood in 1926 gewoon het, is deesdae as Airbnb-verblyf beskikbaar. 

Dié aanbod is die jongste in ‘n nuwe gier om die eksotiese binne huishoudelike bereik te bring. Onlangs is ‘n kompetisie aangebied waarin die wenner en metgesel vir een nag toegang tot die Louvre in Parys kon kry. Vir dié doel is ‘n klein sitvertrek vlak voor die Mona Lisa ingerig en ‘n minipiramide in IM Pei se glaspiramide is as slaapvertrek vir die wenners gebou.

In 2016 het die Chicago-kunsinstituut ook mense die geleentheid gebied om op Airbnb in ‘n rekonstruksie van Vincent van Gogh se drie skilderye van sy slaapkamer in Arles (1888/1889) te oornag. “Slaap in Vincent se bed”, was die foefie waarmee die projek bemark is. Monet se huis is in 2016 opgeknap en meubels vir hedendaagse smaak is aangekoop. Gaste het wel toegang tot Monet se ateljee, waar reproduksies van sy skilderye nou hang. Boonop het gaste toegang tot die tuin van sowat 3 000 m2 wat Monet self aangelê het.

In 1883, ‘n paar jaar ná die dood van sy eerste vrou, Camille, het Monet op ‘n dag Giverny op ‘n treinrit deur die venster gesien en besluit om dié dorpie te verken. Dieselfde jaar nog het hy die huis met die groot tuin met vrugtebome gehuur en stelselmatig die landbouhoewe in ‘n tuin omskep. Rondom die huis het hy papawers, sonneblomme en kappertjies geplant. Hy het saad en steggies en raad met sy medeskilder Gustave Caillebotte uitgeruil.

In 1890, op 50, was Monet in staat om die eiendom te koop en in 1893 het hy ook die eiendom oorkant die pad gekoop – waar hy sy beroemde watertuin aangelê het. Namate sy sukses as skilder toegeneem het, het hy altesaam sewe tuiniers aangestel, hoewel hy die argitek van die tuin gebly het. Hoewel die tuin kennelik ‘n inspirasie vir Monet was en hy daarna as sy “buitelugateljee” verwys het, het dié tuin tot ‘n kunswerk in eie reg ontwikkel. Die Franse skrywer Marcel Proust het in 1907 al na die tuin as “oorgangskuns” verwys.

Oor die watertuin met sy inspirasie van tuine in die Verre Ooste het Monet opgemerk: “Dit het my lank geneem om ‘n begrip van my waterlelies te vorm. Ek het hulle gekweek sonder enige gedagte om dit te skilder. Mens kan nie ‘n landskap meteen waardeer nie. Dit neem tyd … en toe, skielik, op ‘n dag, het die leliepoele voor my oopgegaan. Ek het my palet gevat en van toe af was daar vir my geen ander model nie.”

Dit was in 1899, en vir die volgende bykans 30 jaar het Monet in sowat 250 panele sy “waterlandskappe”, soos hy daarna verwys het, geskilder. Die waterlelie-panele wat Monet in 1917 aan die Franse regering geskenk het, het in 1927 ‘n permanente heenkome in die Musée de l’Orangerie gevind, waarna die skilder André Masson as die Sistynse kapel van Impressionisme verwys het. Dit was in die tuin in Giverny waar Monet met dié tamaai doeke sy stempel as die vader van die Impressionisme afgedruk het, maar ook as die man wat die saadjies vir die latere abstrakte ekspressionisme geplant het.

Send this to a friend