Kuns: Prado

1123-vk1-prado-web

Sofonisba Anguissola, Selfportret, 1556, olie op doek.

Die Prado in Madrid vier sy 200 jaar volgende jaar met die werk van twee Renaissance-skilders – albei vroue

Deur JOHAN MYBURG

Bykans 200 jaar nadat die Museo Nacional del Prado as die Spaanse koninklike kunsmuseum geopen het, het dié museum in Madrid in 2016/’17 sy eerste uitstalling aangebied wat aan die werk van ’n vrouekunstenaar gewy is. Dié uitstalling, bemark as The Art of Clara Peeters, het bestaan uit 15 werke van dié Vlaamse stilleweskilder wat in 1621 dood is. Peeters was ’n baanbreker in dié genre en een van enkele professionele vroueskilders in vroegmoderne Europa.

Om met die 200ste bestaansjaar van die Prado volgende jaar saam te val, beplan dié kunsmuseum ’n verskeidenheid uitstallings, en die werk van twee portretskilders uit die Renaissance – albei vroue – word by dié geleentheid vertoon: die werk van Lavinia Fontana, die vrou wat wyd as die eerste professionele vrouekunstenaar gereken word, en Sofonisba Anguissola, ’n edelvrou wat tydens die heerskappy van Filips II van Spanje hofskilder was. Albei vroue was van Italiaanse afkoms, hoewel hulle uiteenlopende agtergronde gehad het.

Anguissola (1532–1625) was lid van die adelstand in Cremona en het skilderkuns onder die leiding van Bernardino Campi (1522–1591) bestudeer. Dit was makliker vir vroueskilders in Renaissance-Italië om hul basiese opleiding in ’n gesin te kry waarin die pa of broers skilders was, juis omdat vroue nie toegelaat is om ’n vakleerlingskap by ’n meester te ondergaan nie. In die geval van Fontana (1552–1614) het sy in haar ouerhuis in Bologna aanmoediging van haar pa en broers, wat self skilders was, gekry.

LEES OOK: Kuns: Auguste Rodin

Fontana was een van die eerste vroue wat naakstudies van vroue geskilder het, dikwels in ’n godsdienstige of mitologiese omgewing, maar bowenal een van die eerste vroue wat buite die beskerming van ’n klooster of koninklike hof haar kuns beoefen het. Boonop was sy die broodwinner vir haar gesin van 13. Sy is in 1577 met die skilder Paolo Zappi getroud en van hul 11 kinders het slegs drie haar oorleef. Zappi het die huishouding behartig en was Fontana se skilderassistent en agent. Sy het haar kunsgraad aan die universiteit van Bologna drie jaar ná haar huwelik met Zappi, in 1580, behaal. In 1603 het sy en haar gesin op uitnodiging van pous Clemens VIII na Rome verhuis.

Sy het die sukses wat sy in Bologna behaal het in Rome voortgesit. Sy het onder meer ’n portret van pous Paulus V gemaak en lof uit alle oorde vir haar skilderwerk gekry. Anders as Fontana was Anguissola se pa nie ’n skilder nie, maar die gesin se posisie in Cremona het wel deure vir haar oopgemaak. Dit blyk onder meer uit ’n brief wat haar pa in 1557 aan Michelangelo geskryf het waarin hy dié bedank vir die sorg wat hy geneem het om sy dogter aan die “eerbaarste vorm van skilderkuns” bekend te stel. Anguissola het in 1559 aan die Spaanse hof diens as persoonlike assistent van Elisabeth van Valois, vrou van Filips II, begin doen.

Ná die dood van die koningin is Anguissola met ’n Siciliaanse edelman, Fabrizio Moncada Pignatelli, getroud. Hulle het hulle in Sicilië gevestig. Ná Pignatelli se dood in 1579 is sy met Orazio Lomellino, ’n handelaar, getroud, en hulle het hulle In Genoa gevestig. Sy het geen kinders gehad nie. In sy optekening van die kunsgeskiedenis skryf Giorgio Vasari (1511– 1574) oor Anguissola dat sy die uitdagings van ontwerp met groter sorg en meer swier as enige van haar vroue-tydgenote getakel het. Die uitstalling Sofonisba Anguissola y Lavinia Fontana in die Prado begin in Oktober 2019 en duur tot Februarie 2020.

Send this to a friend