Kuns: Turner-prys

By die oorhandiging van die Turner-prys het Charlotte Prodger, vanjaar se wenner, ’n lansie vir staatsteun vir die kunste gebreek

Deur JOHAN MYBURG

Charlotte Prodger, ’n 45-jarige Britse kunstenaar wat in Glasgow woon en werk, is einde verlede jaar as wenner van die 34ste Turner-prys aangewys. Dié prys, wat dikwels omstrede is en in die verlede al hewige meningsverskille in die pers, asook hewige argumente in kunskringe uitgelok het, word as die belangrikste Britse kunsprys en een van die toonaangewendste pryse ter wêreld gereken. Dié prys was al vir menige wenner die nodige hupstoot vir ’n suksesvolle loopbaan.

Prodger se mededingers om die 2018-Turner-prys was Naeem Mohaiemen, Luke Willis Thompson en die kunstekollektief Forensic Architecture. Die beoordelaars het die kunstenaars op die kortlys beskryf as “toegewyde kunstenaars wat ’n verskil in die alledaagse lewe wil maak”. Bridget, die een kortprent waarmee Prodger dié prys van net minder as ’n half miljoen rand verower het, is van begin tot einde met ’n iPhone geskiet. Die prent van sowat 32 minute is oor ’n tydperk van ’n jaar gemaak en is uit beeldmateriaal van haarself op reis in die Skotse platteland saamgestel. Benewens inligting oor prehistoriese Brittanje is die klankbaan deurspek met outobiografiese anekdotes.

Dit is veral aspekte van klas, gender en seksualiteit wat aan die orde kom, maar so ook verwysings na die musiek van Jimi Hendrix en die antieke praktyk van gestapelde klippe. Maar dit was die “skilderagtige” gehalte van haar kortprent wat die beoordelaars oorgehaal het om vir Prodger se werk te stem. Sy het aan die Goldsmiths-kunsskool in Londen en ook aan die Glasgow-kunsskool studeer. Sy het verskeie solouitstallings agter die rug. Hoewel Prodger se kunsloopbaan al oor langer as 20 jaar strek, lyk dit of sy nou die erkenning kry wat haar toekom. Sy verteenwoordig Skotland volgende jaar op die Venesiese Biënnale.

Toe sy deur die BBC gevra is waarom haar werk nou soveel aandag trek, het sy geantwoord: “Hoewel my werk persoonlik is en toenemend persoonliker word, dink ek die stories wat ek vertel, gaan oor die soort goed wat ander mense ook al ervaar het.” By die oorhandiging van die prys in Londen se Tate Britain het Prodger egter ’n lansie vir staatsteun vir die kunste gebreek. “Ek sou nie hier gewees het as dit nie vir die openbare steun was wat ek van Skotland vir gratis hoër onderwys ontvang het nie, en later steun in die vorm van beurse – nie net vir die maak van werk nie, maar oor ten opsigte van lewensonderhoud.

By dieselfde geleentheid het die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie, wat ’n geleentheidswoord gespreek het, ook na die belang van die kunste wêreldwyd as die hoeksteen van kultuur verwys. Maria Balshaw, die Tate se direkteur, het bygevoeg dat die 6 000 studente wat deelgeneem het aan navorsing wat die Tate, die Royal Shakespeare Company en die Universiteit van Nottingham gedoen het, die belang van die kunste in onderrig beklemtoon het. Die teendeel blyk egter volgens Balshaw uit die Britse onderwysstelsel waar die belang van die kunste al geringer geskat word.

“Die gevolg is dat al minder studente vir kursusse in die kunste inskryf,” het sy bygevoeg. Die Turner-prys, genoem na die Britse skilder JMW Turner, word jaarliks aan ’n Britse kunstenaar jonger as 50 vir ’n uitmuntende uitstalling of ander voorstelling van sy of haar werk in die voorafgaande jaar toegeken. Prodger is op grond van Bridget (2016) en Stoneymollan Trail (2015) in die Bergen-galery in Noorweë vir die Turner benoem.  

Send this to a friend