Kies ’n boek: Stof – Alettie van den Heever

Willie Burger kyk na Alettie van den Heever se debuutroman Stof

Dit is altyd ’n spesiale gebeurtenis wanneer ’n debuutroman deur ’n jonger skrywer ’n mens laat regop sit. Mens kan nie anders nie as om met opwinding kennis te neem van Alettie van den Heever se debuutroman, Stof, wat aan die einde van 2018 verskyn het.

Wat taalgebruik, vertelstyl, tema en verhaalruimte betref, bied die roman ryke stof. Die romanruimte is ’n post-apokaliptiese landskap in 2081. Die bekende omgewing van die Wes-Kaap is onherroeplik deur ekologiese rampe vernietig wat tot ernstige gesondheidsprobleme onder mense gelei het. Die ekonomiese en politieke stelsels soos ons dit vandag ken, het verval. Geleidelik word deur terugverwysings ’n blik gebied op die totale ineenstorting van ’n menswaardige lewenswyse wat op die “hardskip” gevolg het (die woord waarmee die mense na die ineenstorting verwys wat tot die desperate situasie in 2081 gelei het).

Twee karakters (Amper en Foos) vind hul weg deur hierdie post-apokaliptiese, vyandige wêreld waarin oorlewing ’n stryd is. Dit herinner aan ’n veel donkerder roman soos Cormac McCarthy se The Road en aan populêre romans soos James Dashner se The Maze Runner en Suzanne Collins se The Hunger Games. In al hierdie voorbeelde word ook ’n grimmige toekomsruimte geskep waarin daar groepe van bevoorregte mense is (wat oor futuristiese tegnologiese vermoëns beskik) wat hulself bevoordeel ten koste van die kreperende en uitgebuite massa wat slegs oor lae tegnologie beskik.

Stof sluit by hierdie soort post-apokaliptiese werke aan waarin dit vir die hoofkarakters (uit die ondergeskiktes se geledere) nodig is om deur allerlei manipulerende illusies wat deur outokratiese maghebbers aan hulle voorgehou word, te breek. Hul stryd is nie slegs om oorlewing nie, maar ook ’n stryd om uit te vind wat werklik aan die gang is, wie in beheer van hul wêreld is en om van die diktatoriale mag wat hulle onderdruk, bevry te word. Van den Heever vertel ’n spannende verhaal. Die leser is enersyds nuuskierig oor die lot van Amper en Foos en wonder of hulle uit die hande van oënskynlike weldoeners gaan ontsnap wat hul liggaamsdele wil verkoop en van die gevaarlike soldate op skaatsplanke.

Andersyds word die leser nuuskierig gehou oor die aard van die wêreld waarin die karakters moet oorleef. Hoe het dit gekom dat mense hul uitskeidings vir die vervaardiging van biobrandstof moet verkoop? Wat veroorsaak die dodelike stofstorms? Wat is die presiese verhouding tussen die verskillende groepe mense en die rol van die diversiteitsprogramme? Stof is nie maar net ’n gewone avontuur-/ liefdesverhaal wat in buitengewone omstandighede afspeel nie. In die formule-agtige liefdes en avontuurverhale word uiteindelik finale oplossings gebied, geliefdes vind mekaar en bedreigings word afgeweer.

In Stof word verskeie aspekte nooit heeltemal opgelos nie. Amper en Foos oorleef byvoorbeeld wel, maar die aard van hul bestemming, “Ikabod”, iewers teen die Weskus, is geen paradys nie. Die plek is steeds aan gevaar en bedreiging uitgelewer en dit verteenwoordig eerder ’n terugkeer na ’n primitiewe bestaan. Hierdie primitiewe bestaan word ook nie (soos wat soms in omgewingsbewuste werke gebeur) geromantiseer of op nostalgiese manier as ideaal voorgestel nie. Verder word die presiese oorsaak van die somber en bedreigende situasie nooit helder uitgespel nie. Dit is duidelik dat die “hardskip” deur ’n ekologiese ramp veroorsaak is en die suggestie is dat kapitalistiese korporatiewe mededinging ’n rol daarin gespeel het.

Maar Stof word nie sonder meer ’n omgewingsbewuste aanval op die korporatiewe kapitalisme se bedreiging nie. Dit lyk ook asof anti-korporatiewe sentimente en selfs die ekologiese bewegings vir die “hardskip” verantwoordelik kon wees. Op hierdie manier is Stof geen eenduidige allegoriese verhaal nie. Ook die karakters word nie sonder meer in ’n klompie booswigte teenoor lydende slagoffers ingedeel nie. Terwyl sommige dele van die roman simpatie vir die onderdruktes by die leser wek – vir diegene wat in die openbaar gestraf word, wat uitgelewer is aan die stof en elemente sonder beskermende klere en tegnologie wat asemhaling moontlik maak – is daar ook dele van die roman wat weer ’n ander perspektief bied. Die landelike, eenvoudige bestaan, wat dikwels deur sommige omgewingsbewustes as “oplossing” aangebied word, word eweneens gekompliseer omdat sommige van die “eenvoudige, landelike” mense bloot korrup en skelm is (bietjie soos in Deon Meyer se Koors).

Die taalgebruik in Stof is opvallend. Afrikaans word op ’n besonderse manier verwring om die vreemdheid van 2081 te beklemtoon. Vreemde woorde en verwronge sintaksis word deurgaans volgehou en stal Van den Heever se taalgevoeligheid uit. Dit was ’n dapper poging om hierdie verwringing van die taal enduit vol te hou en dreig selfs om ’n leeshindernis te word, maar dis een van die suksesse van die roman. In ’n land vol van onthullings voor kommissies wat vreemder as fiksie voorkom, wonder mens soms wat vir fiksieskrywers oorbly. Van den Heever se verbeelding het ’n boeiende roman opgetower, met ’n komplekse spanningslyn en verbeeldingryke ekonomiese en politieke gegewe. Geen maklike antwoorde word gebied nie, maar dit is duidelik dat klem op die voortdurende moontlikhede val om stories te kan oorvertel – dat die voortbestaan van stories vir mense se oorlewing net so belangrik soos biodiversiteit is. (Queillerie)  

Send this to a friend