Kuns: Britse Turner-prys

Turner Contemporary in Margate, Kent.

Dit is vanjaar die eerste keer dat die Turner-prys buite Londen aangebied word op ’n plek met wie Turner ’n band gehad het

Deur JOHAN MYBURG

Die Britse Turner-prys, ’n kunsprys wat deur die jare vir opwinding én opspraak gesorg het, word vanjaar vir die eerste keer in Turner Contemporary, die kunsmuseum in Margate, aan Engeland se suidooskus, aangebied.

Margate is die plek waar die skilder JMW Turner (1775–1851) skoolgegaan het en waarheen hy later in sy lewe dikwels teruggekeer het. Die lug bokant Margate het hy byvoorbeeld as “the loveliest in all Europe” beskryf. Die vier kunstenaars wat vanjaar om die gesogte Turner-prys meeding, is Lawrence Abu Hamdan, Helen Cammock, Tai Shani en Oscar Murillo.  

Klank, meer as die visuele, kenmerk vanjaar heelwat van die werk. Abu Hamdan woon en werk in Beiroet en ondersoek in sy werk onder meer die manier waarop mense van verskillende rasse op grond van hul uitspraak van sekere woorde of sillabes getakseer word. In Londen draai Cammock se werk om performance-kuns met die gesproke woord as ‘n beduidende bestanddeel. Haar belangstelling lê in die manier waarop gebeure in die verlede versin kan word deur ander stemme aan die woord te kry. 

Soos Cammock woon en werk Shani ook in Londen, ook met klank as medium. Maar haar belangstelling lê meer in die skep van alternatiewe, bykans gotiese wêrelde waarin feit en fiksie vervloei. Die oogmerk is die ontwrigting van die oorheersende Westerse, wit, manlike uitgangspunt. Murillo, ‘n kunstenaar wat in Colombië gebore is en in Londen woon en werk, het in sy twintigerjare as onbekende kunstenaar al heelwat aandag op hom gevestig. Met sy semi-abstrakte doeke wat meer na installasiewerke lyk, verken hy, soos sy drie mededingers, aspekte van identiteitspolitiek, onderdrukking en marginalisering.

Dié vier se werk is van 28 September in die Turner Contemporary te sien en die wenner word op 3 Desember aangekondig. Dit is die eerste keer dat die prys buite Londen aangebied word, op ‘n plek met wie Turner ‘n band gehad het. Op 21 het Turner na Margate teruggekeer om te skilder en ná 1820 was hy ‘n gereelde besoeker, juis omdat die liggehalte hom so aangestaan het.

Maar daar was ook die verhouding met Mrs Booth, die vrou in wie se gastehuis in Margate hy tuisgegaan het, en in wie se huis in Chelsea hy 18 jaar lank as Mr Booth gewoon het. Turner Contemporary is op die plek opgerig waar Mrs Booth se gastehuis gestaan het, en as ‘n mens in die galery staan, het jy ‘n uitsig op die hawe, gebaai in dieselfde lig wat Turner jare gelede so betower het.  

Die galery besit nie ‘n eie permanente versameling nie en wil juis op tydelike uitstallings fokus – histories en kontemporêr – wat op die een of ander manier ‘n band het met Turner het. Die museum is deur David Chipperfield ontwerp en die afwerking is van roesbestande materiaal en glas om die gure weer te kan trotseer. “Vir my is die gevoel wat die gebou gee, industrieel, iets van ‘n skuur,” het Chipperfield van sy ontwerp gesê.

In die uitstalruimtes is dit die ligkwaliteit wat mens opval. Chipperfield het by geleentheid na die lig verwys wat deur die dak kom: “Kyk rondom jou, op ‘n grys dag soos vandag is daar nie ‘n enkele elektriese lig aangeskakel nie. En nêrens in die mure is daar vensters nie.”En dit is waarin die argitek geslaag het: Om Turner Contemporary te baai in die lig wat so belangrik vir Turner was.

Send this to a friend