LEES & STEM (April 2015): Twee koppies Cappuccino | Vrouekeur

LEES & STEM (April 2015): Twee koppies Cappuccino

Nitzi se oë trek groot toe Craig die bestelling plaas: Twee koppies wát? Hy het haar dan genooi vir kóffie? Wat hy nou bestel het klink vir haar soos die Engels vir twee koppies Sjinese tee. Hy kon darem net eers by haar seker gemaak het of sy te vinde sou wees vir iets buitengewoon of eksoties.

Milda Stanton

Sjinese tee. Sy het dit die eerste keer by die nuwe Sjinese restaurant op hul plattelandse dorp gedrink. Dit het gekom as deel van die vasgestelde spyskaart, as promosie. Gratis en op die koop toe. Haar pa was buite homself van verontwaardiging:

“As ek wil tee drink, bestel ek tee. Nie skrikgemaakte warmwater met hier en daar ’n drywende blaar nie. Jý kan dit drink as jý wil,” snou hy die onbegrypende klein Sjinese-deegpop-kelnerinnetjie toe. “Moet dit net nie tee noem nie!”

Pa glo aan sy tee sterk. Drie sakkies geweek in ’n halwe koppie kookwater, drie teelepels suiker, opgevul met nog ’n halwe koppie melk. Om enige ander brousel “tee” te noem, is heiligskennis.

Nitzi en haar ma het skewe gesigte getrek en maar sonder ’n woord hulle s’n weggeslaan. Pa was nou sommer weer in ’n slegte bui. Sjinese kos, het hy boonop gevind, is nou nie wat jy sou noem sy “koppie tee” nie. Nitzi het haar ma skuinsweg beskou. Die ou vrees het weer stilweg oor haar gesig geskuif.

Maar nou is Nitzi in ’n slegte bui. Sy kan Sjinese tee afsluk sonder om ’n gesig te trek, maar ’n man wat namens haar besluite neem… sy sal versigtig moet wees, al is hy só aantreklik.
Wel, dis maar net een afspraak. Volgende keer sal sy nee sê en die lamheid in haar bene probeer ignoreer.

“Craig is te oud vir jou,” het Rina, die ontvangsdame by die ouditeursfirma waar sy van die begin van die jaar af ’n leerlingrekenmeester is, haar probeer afpraat. Nitzi wou maar net meer omtrent hom uitvind.

“Hy is seker, maar hy het my nou eenmaal vir koffie gevra, en ek moet by iemand uitvind of dit veilig sal wees…”

“Kan nie dink hy’s gewelddadig nie…” en Rina bekyk Nitzi se petite lyfie afgunstig op en af: “maar hy is definitief ten minste vyftien jaar jou senior, reeds geskei, en wie weet hoeveel keer ge …”

“Gewát?”

“Gelos. Geen meisie sê aanvanklik vir Craig Ludick nee nie. Hoekom hou hy hulle dan nie?”

“Sal ek maar moet uitvind…” mymer Nitzi bewerig.

“Wel, sterkte, en moenie sê ek het jou nie gesê nie. Buitendien, hy is een van ons base.”

“Is dit ’n probleem?”

“Base ís nie net base nie, hulle spéél ook baas weg van die speelveld af.”

“Hoe weet jy?”

Rina bloos: “Ag, ek is ook langer in die land… én by die firma as jy…”

“Jy het ook reeds onder hom deurgeloop?”

“Nie hý nie.”

“Rina, ons het net een ander baas en hy is ’n getroude man!”

“Al wat ek sê is: oppas vir base!”

“Ek sal. Ek is báie bang vir base. Moet jy jou nie oor my bekommer nie, maar dankie vir die inligting.”

Die een wat haar nou gaan bekommer, is syself, besef Nitzi. Sy is net ’n bloedjong interne klerkie en haar fokus is om haar kwalifikasie te kry sodat sy vir haarself kan sorg. Van een ding is sy baie seker: sy gaan nie soos haar ma lewenslank ge-“baas” word nie. Eers op haar eie voete kom, dan kan dinge soos verlief raak maar volg… ’n man is nie ’n belegging nie. ’n Kwalifikasie is (Meneer Cloete: matriek lewensoriëntering). Miskien was meneer Cloete verkeerd.

Dan gaan sit sy by haar tafel en probeer op die rye en kolomme syfers op die papier voor haar konsentreer. Dit is maar net die boonste bladsy. Onder hierdie papier is ’n stapel lêers van ongeveer ’n meter hoog. Sy is klaar moeg, maar byt op haar tande. Sy gaan hierdie hoop syfers se baas wees. ’n Kop vir syfers kan vir ’n mens geld beteken (Meneer van der Linde, matriek rekeningkunde). En ja, sy het na hom (ja, ’n man), geluister. Syfers is harde werk en ’n man soos Craig verdien dan reeds baie geld. Miskien was Meneer van der Linde ook verkeerd.

Die volgende paar dae tob sy nog oor die etiek van so ’n besluit ook: om saam met jou baas op ’n sosiale uitstappie te gaan. Is dit nie dalk teen die firma se gedragskode nie?

By die werk probeer sy hom vermy en kruip meestal agter die stapel lêers weg. Sy kry letterlik hope werk gedoen. Syfers kan jou dalk baie geld laat verdien, maar dit kan ook daardie sogenaamde slim maar deurmekaar kop besig hou en orden en sodoende teen oorheersende magte van buite beskerm.

Twee stomende koppies “iets” wat lyk soos roomys wat oorloop word op die tafeltjie neergesit. Die reuk van koffie is onmiskenbaar en onweerstaanbaar.

Sy brand om te vra: “Wat noem jy dit nou weer?” maar bedink haar. Só onnosel kan sy darem nie klink nie. Netnou kry sy die trekpas by die werk. Sy begin giggel.

“Wat is so snaaks Juffrou Parsons?”

“Jammer, ek dink maar net aan die keer toe hulle vir my pa Sjinese tee bedien het.My pa is héílig op sy tee. Ses rose, niks minder nie. Kan jy dink hoe het hy gereageer op daardie klein kelkie kasaterwater?”

Craig glimlag net. Sy glimlag stel haar meer gerus. Oormoedig vra sy: “En hoekom word ek nog steeds as ‘Juffrou Parsons’ aangespreek? Ek is al meer as ’n maand by die firma.”

“Omdat hierdie ’n sake-afspraak is en nie ’n sosiale een nie, juffrou Parsons.”

“O.” Nitzi se Cappuccino word Sjinese kasaterwater in haar mond. Sy lek die skuim op haar bolip onvroulik af. Sy wou dit net begin geniet.

“Nou laat ons hoor, meneer Ludick, is u nie tevrede met my werk nie?”

“Inteendeel, Juffrou. Jy neem goed vorm aan.”

Nitzi voel onwillekeurig onder die tafel aan haar heup en bobeen.

“Ek bedoel, jy snap die werk gou.”

“So, Meneer?”

“Ek wil jou meer verantwoordelikhede gee. In so ’n geval moet jou leerlingdienskontrak aangepas word. Jy sal moet teken by die wysigings.”

Sy teug aan die laaste bietjie troebel-soet vloeistof in die koppie.: “En as ek mag vra, gaan my salaris dienooreenkomstig aangepas word? In só ’n geval?” maak sy hom na met ’n nonchalante handgebaar.

“Nee, jy is ’n leerlingklerk en jou salaris is onderhewig aan ’n voorgeskrewe minimum besoldiging. Jou Prinsipaal neem die besluite.”

“Ek is ook nog in ’n proeftydperk van drie maande, meneer Ludick. Die kontrak bly soos hy is, of ek bedank.”

“Sal jy ander werk kry?”

Is hy werklik besorg of wens hy haar weg? “Ek weet nie, en dis ’n onbillike vraag. Al wat ek weet is: groter verantwoordelikheid spel groter besoldiging. Gee my kans om meer ondervinding en selfvertroue op te bou, dan sal ek u weer te woord staan.”

“Nie op daardie skuimbekkie van jou geval nie, né?”

Sy vee selfbewus met die agterkant van haar hand oor haar mond, haar servet skielik soek, maar kyk hom steeds in die oë.

Hy sit onverwags agteroor, en vir die eerste keer lyk dit of hy ook ontspan. Sy sien grys hare langs sy slape. Hy is voorwaar aantreklik én waarskynlik ryk.

“Is dit al, Meneer Ludick, dan moet ek maar gaan. Dankie vir die koffie.”

Hy wink weer die kelner nader. “Nee, dis nie al nie. Sal jy my Saterdagaand na ’n liefdadigheidsbal vergesel? Nog twee koppies Cappuccino asseblief.”

Dit tref haar dat Saterdag Valentynsdag is: “Maak dit een koppie van dáárdie … en een pot Sjinese tee.” Die kelner lyk onseker en verward.

“Nee,” hou haar baas vol: “Twee koppies Cappuccino, dan is ons gelyk.”

Wie drink nou in elk geval Sjinese tee? Hierdie soort Sjinese koffie gee mens krag, dink sy.
“Dankie, dit sal lekker wees. Craig.”

Send this to a friend