Klassieke klanke: Sergei Rachmaninoff

1214-vk1-sergei-web

Sergei Rachmaninoff

Sergei Rachmaninoff se Klavierkonsert no. 2 is al beskryf as die voortreflikste klavierkonsert wat nog ooit geskryf is. En moontlik die gewildste

Deur JOHAN MYBURG

Hy was 1,98 m lank en het waarskynlik die grootste hande van enige pianis in die wêreld van klassieke musiek gehad – hy kon 12 note met een hand raak, van pinkie tot duim. Hy was ’n ernstige man en het die bynaam “Die sesvoet-frons” gehad.

 Dit is Sergei Rachmaninoff (1873–1943), die man wie se naam nouliks van sy Klavierkonsert no. 2 van 1901 losgemaak kan word. Dis al beskryf as die voortreflikste klavierkonsert wat nog ooit geskryf is. En moontlik die gewildste. Dié konsert het hy geskryf ná die diep insinking in sy gemoedstoestand wat gevolg het op die eerste uitvoering van sy Simfonie no. 1 in 1897. Die dirigent by dié geleentheid was die Russiese komponis Alexander Glazoenof en skynbaar het dié nie genoeg repetisietyd vir die orkes toegelaat nie. Daar is ook getuienis dat Glazoenof by die geleentheid nie heeltemal sober was nie. Nietemin, die uitvoering van die simfonie was ’n ramp en die komponis en musiekkritikus César Cui het dit aan ’n uitbeelding van die tien plae van die Ou Testament gelykgestel.

Die simfonie is ook nooit weer in Rachmaninoff se leeftyd uitgevoer nie. Daarna kon Rachmaninoff drie jaar lank g’n sinvolle noot geskryf kry nie – totdat hy in 1900 daagliks terapie, wat hipnoterapie ingesluit het, van ene dr Nikolai Dahl gekry het. In die somer van 1900 het sy toestand verbeter en kon hy weer aan die werk kom. Die eerste volledige werk wat hy ná dié episode geskryf het, was dié Klavierkonsert no. 2 in c, opgedra aan Dahl. Die eerste uitvoering daarvan met Rachmaninoff as solis het met groot geesdrif gepaardgegaan, was ’n reusesukses en hy het die Glinkaprys daarvoor gekry, ’n gesogte Russiese staatsprys (genoem na die komponis Mikhail Glinka) wat hy later nog vier keer sou ontvang.

LEES OOK: Klassieke klanke: Rimski-Korsakof

Nadat hy ’n dirigeerpos by die Bolsjoiteater aanvaar het en in die tweede seisoen belangstelling verloor en bedank het, het hy en sy vrou met hul kind in 1906 na Dresden verhuis – die politieke onstabiliteit in Rusland het tot dié besluit bygedra. Sy Simfonie no. 2 in 1908 het eweneens goeie kommentaar ontlok en hy het die Glinka-prys ook vir dié werk gekry. In Dresden het hy ’n uitnodiging ontvang om in die VSA te gaan optree. Vir dié besoek het hy aan die Klavierkonsert no. 3 begin werk en die tweede uitvoering van dié werk was in New York. Rachmaninoff was die solis en die dirigent was Gustav Mahler, toe op besoek aan die VSA. Hy is ná die besoek terug Rusland toe en het verskeie reise na Europa onderneem voordat hy en sy gesin kort ná die uitbreek van die Oktober-revolusie in 1917 eers na Finland en Swede is voordat hy in 1918 ’n konsertreis, as pianis, na die VSA onderneem het.

Een van die werke wat hy dikwels gespeel het, was sy eie verwerking van The Star-Spangled Banner, ’n vernuftige verwerking van dié bekende Amerikaanse volkslied. Die sukses van sy konsertuitvoerings het hom spoedig genoop om ook plaatopnames te laat maak. In die VSA het hy sy Russiese afkoms en liefde vir sy vaderland deur Russiese tradisies en gebruike laat voortleef. In 1943 het hy en sy gesin Amerikaanse burgers geword, enkele weke voordat hy siek geword en op 69 aan velkanker dood is. Op YouTube is daar verskeie opnames met Rachmaninoff agter die klavier – ook van die Klavierkonsert no. 2.

Send this to a friend