Ons gesels met: Riette Rust, Eileen de Jager en Roelien Schutte

riette_rust_eileen_de_jager_roelien_schutte

Tien vrae aan Riette Rust, Eileen de Jager en Roelien Schutte wat saam die boek Vlees en bloed die lig laat sien het:

Riëtte:

1. Het jy meer geleer oor tienerselfdood en ander faktore wat mense tot selfdood dryf en kan jy raad aan vriende verskaf?

Ja, verskriklik baie. Veral oor die foute wat ons met ons tieners maak en oor die selfdoodtekens waarna ons as ouers op die uitkyk behoort te wees. As vriende my sou vra, sal ek natuurlik raad gee. Of vir hulle Vlees en bloed in die hand stop.

2. Hoe lank het jy geskryf?

Onderhoude ingesluit, ’n voltydse nege maande lank. Ek het baie moeite gedoen om die boek leesbaar te maak. Ek het onder meer inleidingsparagrawe verskeie kere herskryf. Dit was ’n behoorlike kraamproses en die baba is, soos altyd, pragtig vir sy ma.

3. Waar begin ‘n mens met die navorsing en skryf en wat is die uitdaging van “opvolg”, veral as die eerste boek nie joue is nie?

Ek het die boek benader asof dit ’n heel nuwe storie is. En dit ís. Dis al vyf jaar sedert die vorige boek. Ek het eers ’n algemene onderhoud met hulle gevoer (alles via Skype omdat hulle so ver van my af woon) en verskeie temas geïdentifiseer, waaronder posttraumatiese stres, bonatuurlike verskynsels, wrede moorde en hoekom so baie bejaardes alleen sterf. Om swaarmoedigheid te voorkom, het ek humor ingewerk.

4. Voel jy moedeloos met die wreedheid van mense nadat jy die susters se boek geskryf het?

Nee, want soos die susters self sê, die meeste mense is goed en ons moenie toelaat dat die 15% slegtes ons moed breek en ons lewensvreugde steel nie. Die boek het my gemotiveer om soveel moontlik oor kwessies soos verkragting en tienerselfdood te praat, want kennis is mag.

5. Hoe het die boek jou as mens geraak?

Soms het ek bloedbadnagmerries gekry, maar dan het die susters se humorsin my weer laat lag. Die skryfproses was ’n lewensveranderende ervaring. Ek waardeer die lewe en my geliefdes nou soveel meer. Ek maak ook nie meer ’n issue van kleinighede nie. My probleme is immers niks in vergelyking met dit wat die Bloedsusters daagliks moet hanteer nie. Ek put steeds inspirasie uit hul omgee vir ander, hul onselfsugtigheid en hoe hulle hul geloof uitleef. Hulle hélp elkeen van ons. Jy wil tog nie self jou vermoorde ma, suster of kind se bloed en weefsel skoonmaak nie.


Eileen en Roelien:

1. Kry julle gereeld terapie om sterk te bly of hoe hanteer julle jul trauma?

Ons het nooit in die verlede enige terapie ontvang nie, ons het wel agtergekom dat met die boeke, ons so ‘n bietjie kon aflaai, wat baie gehelp het. Ons praat maar met mekaar en met ons franchisees. Dit help om te praat oor wat ons doen, anders sit dit maar vas en kom dit in jou drome en denke uit. Gee nog só ’n paar jaar, dan moet ons dalk eerder iemand gaan sien.

2. Hoe bly ? mens positief oor die lewe en oor mense as jy hierdie tonele sien?

Dit verg intense inspanning. Ons het al deur die jare geleer om na die mooi in die lewe te kyk. Met so baie gevalle is dit moeilik maar ons fokus op elke liewe mooi, al is dit ’n blommetjie langs die straat as jy van ’n toneel af terugkom, of die wolke of enigiets wat jou gedagtes kan neutraliseer.

3. Is die brande en vloede en opgaarders ’n “welkome” breuk van die bloed, of is daardie mense se leed net so traumaties vir julle?

Al is daar nie altyd bloed nie, is die trauma net so erg. Vloed en brande los ’n verskriklike litteken op iemand. Mense dink gewoonlik ná die tyd wat met hulle kon gebeur het en jy kan die trauma sommer duidelik sien.

4. Wat sal julle laat ophou met hierdie werk?

As iemand net so passievol soos ons die onderneming wil bedryf. Iemand wat die lus het om mense te help en met die diens voort te gaan. Iemand wat sien soos ons sien en die onderneming kan groei tot ons elke liewe mens in SA kan help. Dan sal ons ophou, maar tot dan sal ons volspoed aanhou en mense help solank ons kan.

5. Wat gee julle hoop?

Beslis die vreugde van hoe mense ná die tyd optree. Die dankbaarheid en verligting op hul gesigte is kosbaar. En dan natuurlik die gevoel dat die Liewe Vader ons op die pad gestuur het om te kan help. Ons sê dit byna elke dag vir mekaar om moed te hou.

Send this to a friend