Kies ’n boek: Op pad – Dana Snyman

kjs_dana snyman

Willie Burger kyk na Dana Snyman se boek Op pad

Juffrou Botha het in die laerskool tydens “boekopvoeding” vir ons geleer om nooit bladsyhoeke om te vou nie. As juffrou Botha vandag nog leef, sal sy baie teleurgesteld na my boekrakke kyk, want ek het die gewoonte om bladsyhoeke om te vou en om dele met pen te onderstreep.

Hierdie slegte gewoonte help my egter om later weer die plekke te kry waar die skrywer se woordvaardigheid my opgeval het, waar idees my tot nadenke gestem het of waar ek op ‘n manier geroer is. Met Dana Snyman se “reisjoernaal”, Op pad, het hierdie vertroude leesgewoontes my egter absoluut niks gehelp nie. Sommer nog net so entjie die boek in kom ek al agter dat ek byna elke bladsyhoek omvou – soms is die boonste hoek na die een kant gevou en die onderste hoek na die ander kant omdat daar aan weerskante van die bladsy iets is waarna ek wou terugkeer. As elke bladsy gevou is, help dit nie, want dan kan ’n mens netsowel niks vou nie.

Die reis deur die platteland wat Snyman in Op pad beskryf, is nie opsombaar deur enkele paragrawe, sinne of idees as hoogtepunte uit te lig nie. Die prosa bring jou in ‘n stemming. Die stemming verander soms skielik: van nostalgie na woede na moedeloosheid na hoop (weinig hoop), maar melancholie oorheers. ‘n Gevoel van verlies, van die verbygaan van ‘n era, van mense, van gewoontes, staan sentraal. Snyman dra ‘n woede teenoor die voorgeslag, maar hy het ook begrip en liefde vir dieselfde voorgeslag. Telkens het ek Van Wyk Louw se woorde onthou: “Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.” Snyman worstel met Afrikanerwees. Hy wil nie rassisties wees nie en wil nie met regse politiek geassosieer word nie. Hy onthou met skaamte en woede ‘n vervloë tyd. Maar is ook nostalgies oor aspekte van daardie tyd.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Dorado

Snyman sien en beleef dieselfde goed as wat ons elkeen elke dag beleef en sien. Hy lees dieselfde nuus, sien dieselfde mense as ons raak, kyk na dieselfde rugbywedstryde. Daarom is sy beskrywings van dorpies en mense en gewoontes en familie so bekend. Hy het dieselfde herinneringe aan kerke en dominees en godsdiens en politiek en onderwysers. Hy boekstaaf in fyn besonderhede ’n vergange era en die huidige situasie. Hy registreer die emosies van nostalgie en verlange, maar ook die afsku en misnoeë met daardie verlede so presies dat ’n mens dit as jou eie herinneringe ervaar. Hy gee egter nie bloot raak woorde aan herinnerings nie.

Deur die detail en sy sin vir ironie laat hy die leser hierdie ervarings ook regtig raaksien, en hy laat die leser hierdie ervarings op ’n ander manier beleef. Hy gee die vertroude en roep die gemaklike op, om jou dan met die draai van ’n woord, ‘n sin, ’n stukkie ironie of twyfel, te verwond. Op pad is ’n reisboek wat ontstaan het tydens ’n reis wat Snyman vir die maak van ’n TV-reeks saam met ’n rolprentspan deur klein dorpies van die land onderneem het. Die “boek agter die TV-reeks” bied veel meer, ook nadenke oor die maak van ‘n TV-reeks. Die kragtige impak van Snyman se werk is, benewens die besondere woordvaardigheid en waarnemingsvermoë, aan sy eerlikheid toe te skryf; eerlikheid oor sy eie swakhede en selfs oor sy eie oneerlikheid. Hierdie eerlikheid ontwapen die leser en maak eenvoudige beskouings onmoontlik.

Snyman verwoord die onsekerheid en vrese, die misnoeë en nostalgie van talle Afrikaners. Hy reflekteer daaroor met die hulp van gesofistikeerde denkers se idees, gefiltreer deur sy eie gewete, sy mensliewendheid en medelye. Hy slaan sy oë op na ’n God wat saam met die geskiedenis en die vorige generasie se drome geen vertroue meer inboesem nie. Daar kom geen hulp uit die Afrikanerverlede of van God nie. Hy slaag nie daarin om ’n nuwe toekoms te bedink nie. Dit is te kompleks. Snyman is ongetwyfeld een van die gewildste Afrikaanse rubriekskrywers. Dit is dalk die rede waarom hy soms nie ernstig genoeg opgeneem word nie.

Hy het so half ’n reputasie as die volkstem, die draer van melancholie en nostalgie – hy sien homself ook as ’n “rugbyondersteuner wat besorg is oor die land” eerder as iemand wat met behulp van Franse filosowe se werk insigte kan probeer formuleer. Maar hy is veel meer as ’n melancholiese rugbyondersteuner met ‘n gawe vir nostalgie. Hy dink fyn na, weier die eenvoudige oplossing, behou die kompleksiteit, registreer die lewe in die fynste besonderhede en konfronteer lesers sodoende met die verlede, met skuld en met die hoekom-vrae op ’n soortgelyke manier as wat akademici en navorsers dit in moeilike boeke doen. Snyman se werk is egter ook vir die meeste rugbyondersteuners verstaanbaar. En daarvoor behoort hy eintlik groot pryse te ontvang.

Send this to a friend