Redakteursbrief: As jy ’n kort pad kies & lang draaie ry | Vrouekeur

Redakteursbrief: As jy ’n kort pad kies & lang draaie ry

Redakteur
Eldaleen Hugo

Diegene van ons wat lank genoeg in Afrika nes geskop het, weet dat die enigste voorspelbare op dié kontinent, onvoorspelbaarheid is

In Johannesburg is die onvoorspelbare verkeersvloei soggens werk toe en saans huis toe voorspelbaar. Soos vanoggend. Dit neem my gewoonlik 20 minute van ons huis tot by die kantoor. Vanoggend het dit ’n uur geduur. Ek ry ’n lieflike pad deur mooi woonbuurte werk toe en ken die agterpaadjies goed. Dié paadjies is nie noodwendig korter nie, maar dis mooier en ek sit nie in verkeer vas nie. Dit beteken ek het ’n rustige rit en kom kalm by die werk aan. Sonder hindernisse.

Op my pad is daar ’n skool en afhangende van wanneer jy soggens daar verbyry, moet jy soms ’n effense ompad ry omdat die pad voor die skool vir die kinders se veiligheid tydelik toegemaak word. Ek weet dit en ken ook die agterpadompad. Vanoggend is daai agterpad-ompad toe tjok-en-blok vol karre en ek kies ’n ander paadjie. Fout. Verkeerde keuse. redakteursbrief Die kort en die lank van hierdie rit, is dat ek die een “kort” pad na die ander neem in ’n poging om verkeersopeenhopings te vermy. Nes ek dink ek het dit reggekry, ry ek my in ’n moeder van ’n verkeersknoop vas. Buffer teen buffer sit ons.

Het ek nie die agterpad-ompad in die eerste plek gekies nie, was ek lankal by die werk. Maar ek het nou daai keuse gemaak. So beweeg ek teen ’n slakkepas en dit gee my oorgenoeg tyd om te dink. Eers is ek vies vir myself omdat ek die “verkeerde” pad gekies het. En daai verkeerde keuse het my op ver draaie met ’n klomp hindernisse gevat. Toe besef ek, ek het nie die verkeerde keuse gemaak nie. Ek het bloot ’n keuse gemaak, met die kennis van die paaie wat ek tot my beskikking gehad het. As ek vooruit kon sien, sou ek uiteraard nie die agterpad-ompad gekies het nie. Maar ek kon nie voorspel wat om elke draai vir my gewag het nie.

Dié gedagte het my rustig gemaak en ek het geduldig in die verkeer gekruie tot die pad eensklaps oop en gelyk was. Moenie my vra hoekom die verkeer vir drie kilometer soos ’n nagmerrie lyk en dan sonder ’n sigbare rede skielik vloei nie. Is dit nie maar hoe die lewe ook gaan nie. Ons gee onsself die skuld (of selfs ander) vir die “verkeerde” keuses wat ons maak. Iemand moet die oorsaak wees van die verkeersknope waarin ons beland. Dikwels is dit niemand se skuld nie. Dis gewoon die onvoorspelbaarheid van die lewe en die keuses wat ons maak met die kennis wat ons in daardie stadium het. Terugskouing is ’n luukse.

Is daar keuses wat ek in die lewe gemaak het wat my op lang draaie gevat het? Ja. Was dit enigeen se skuld? Nee. Ek het gedink dis die regte besluit. Die gemiddelde mens neem tog nie willens en wetens ’n “verkeerde” besluit nie. Die punt is, mense blameer ander te maklik of kasty hulself onnodig vir keuses wat hulle op moeilike paaie gestuur het. As jy die agterpad-ompad gekies het en jou in ’n moeder van ’n verkeersknoop vasloop, is dit meestal beter om geduldig en kalm te wag tot die pad weer oop en glad is en jy kom waar jy wil wees.

Send this to a friend