Suid-Afrika se Absa Top 10 Pinotage wenners bekroon

Pinotage, die unieke Suid-Afrikaanse druifkultivar, het die afgelope twee dekades een van die land se voorste uitvoerprodukte geword

Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts

Pinotage word jaarliks in die Absa Top 10 Pinotage-toekennings vereer. Die wenners is vandeesweek by die historiese landgoed, Boschendal tussen die Paarl en Stellenbosch aangekondig, met die radio-aanbieder, Martelize Brink, as seremoniemeester. Sy het al die wenners gelukgewens met “help bou het aan die erfenis van ’n eg Suid-Afrikaanse handelsmerk”.

Die 2019 Absa Top 10 Pinotage wenners:

Anura Pinotage Reserve 2016 met wynmaker Stander Maass; Badsberg Pinotage 2018 met wynmaker Henri Swiegers; Beyerskloof Winemaker’s Reserve Pinotage 2017 met wynmaker Anri Truter; Diemersdal Pinotage Reserve 2018 met wynmaker Thys Louw; Fleur du Cap Series Privée Pinotage 2016 met wynmaker Pieter Badenhorst; Kanonkop Pinotage 2015 met wynmaker Abrie Beeslaar; Survivor Pinotage 2017 met wynmaker Ben Snyman; Simonsig Redhill Pinotage 2017 met wynmaker Debbie Thompson; Vondeling Bowwood Pinotage 2016 met wynmaker Matthew Copeland en Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2016 met wynmaker Braam Gericke.

Die Top 10 wyne is van ses verskillende wynstreke, met die Stellenbosch- en Paarl streke voor in die koor, met drie en twee wyne onderskeidelik. Die 2016-oesjaar is die mees verteenwoordigende oesjaar met vier wenwyne.

Kanonkop het geskiedenis gemaak deur die Absa Top 10 Pinotage lys vir die 14de jaar te haal. Hul Pinotage is nie net vanjaar die oudste wenwyn nie, maar ook die enigste wyn van die 2015-oesjaar. Beyerskloof het met hul Beyerskloof Winemaker’s Reserve Pinotage 2017 hul 9de trofee in die kompetisie opgeraap. Simonsig is die laaste van die Stellenbosch wenners met hul Simonsig Redhill Pinotage 2017.

Die twee 2018-oesjaar wyne in dié jaar se groep wenners, die Diemersdal Pinotage Reserve 2018 en die Badsberg Pinotage 2018, is die enigste wyne van die Durbanville- en Breedekloof streek onderskeidelik.

Vondeling, wat hul debuut in die Absa Top 10 Pinotage met die Vondeling Pinotage 2016 maak, word deur ’n ander 2016 oesjaar wyn uit die Paarl streek vergesel, die Anura Pinotage Reserve 2016.

Die Fleur du Cap Series Privée Pinotage 2016 en die Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2016 is die twee ander 2016-oesjaar wyne, wat die hoogste lof behaal het.

Die Survivor Pinotage 2017 is die enigste verteenwoordiger van die Swartland-streek.

Die Museumklas Trofee wenners is produsente wie wyne ingeskryf het, wat ouer as 10 jaar is en die wenners is:

Fairview Primo Pinotage 2007 met wynmaker Anthony de Jager; Hill & Dale Pinotage 2007 met wynmaker Guy Webber en Rijk’s Private Cellar Pinotage 2009 met wynmaker Pierre Wahl. Hierdie ikoniese wyne bewys onomwonde dat Pinotage merkwaardige verouderingspotensiaal het. Dis vanjaar die derde jaar wat produsente vir hierdie kategorie kon inskryf.

Beoordelaars het onder leiding van Winnie Bowman as voorsitter gestaan en was Greg Sherwood (Wynmeester gebaseer in Londen), Razvan Macici (bekroonde wynmaker), Nomonde Kubheka (wynmaker verbind met die Pinotage Youth Development Academy), Frans Smit (Spier keldermeester) en Solly Monyamane (protégé).

Beyers Truter, voorsitter en stigter van die Pinotage Assosiasie, het die funksie aan twee erelede wat reeds oorlede is opgedra, Eben Archer en Piet Goussard, wat albei diep spore in die wynbedryf getrap het.

Hy het gesê alhoewel Stellenbosch ’n integrale deel van die beginjare van Pinotage was omdat dit daar gekruis is; die eerste Pinotage daar geplant, gebottel en vir baie jare die grootste Pinotage-aanplantings gehad het, het Pinotage nou ’n Suid-Afrikaanse handelsmerk geword waarop elke Suid-Afrikaner trots kan wees.

Vanjaar het ander streke ook geskitter en slegs 30% van die inskrywings kom vanjaar uit Stellenbosch.

Hy het aan gaste vertel hoe trots hy is dat die 20 finaliste bykans 20 style verteenwoordig en dit bewys hoe veelsydig die kultivar is. Vanjaar is daar wenners van ses verskillende wynstreke, elkeen met hul unieke styl, karakter en uitdagings. “Ons jong wynmakers is ’n dapper klomp en gaan voluit om die beste uit hulle onderskeidelike streke te kry in terme van kwaliteit en ook diversiteit.”

Hy het voorts gesê: “Die voortreflike kwaliteit van die wyne jaar na jaar wys ons dat produsente, wingerboukundiges en wynmakers saamwerk,” sê Beyers. “Uiteindelik gaan dit alles daaroor om in voeling te wees met jou terroir.”

Beyers het gesê teen 2025 moet die Pinotagebedryf twee groot doelwitte bereik het: die inkomste van Pinotage verdubbel deur meer wyn in bottel as in bulk te verkoop en tweedens moet Pinotage internasionaal die wyn van keuse wees. “Dis belangrik dat ons die kultivar premium wyn vir oorsese smaak uitsonder.”

Send this to a friend