The GlenDronach whisky nou ook in SA beskikbaar

Stewart Buchanan was op ’n blitsbesoek aan Kaapstad en Johannesburg om die bekendstelling van dié whisky in die land te vier

Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts

The GlenDronach Hooglandse enkelmout Skotse whisky wat in sjerrievate verouder word, is nou in Suid-Afrika beskikbaar en’n paar whiskyliefhebbers is vir ’n meestersklas by Beluga Restaurant in Groenpunt, Kaapstad, genooi en deur Stewart Buchanan, The GlenDronach globale handelsmerk-ambassadeur aangebied.

Hy was op ’n blitsbesoek aan Kaapstad en Johannesburg om die bekendstelling van dié whisky in die land te vier. Hy is sedert 2012 die handelsmerk-ambassadeur en sedert 2018 lid van die gesogte The Keepers of the Quaich, die eksklusiewe internasionale genootskap wat mense vereer wat hul lewe aan die Skotse whiskybedryf wy.  

Gaste is met ’n Old Fashioned verwelkom wat deur Marson Strydom, handelsmerk skemerkelkie-towenaar vir The Really Great Brand Company (RGBC) gemeng is.

Stewart het aan gaste die geleentheid gebied om drie whiskies – die 12 jaar; 18 jaar en 21 jaar oud te proe. The GlenDronach 12 jaar oud is natuurlik in kleur; die 18 jaar oud Allardice is vernoem na die distilleerdery se stigter en verouder in Oloroso-vate en baie volrond. Die The GlenDronach 21 jaar oud is Parliament (of Parliament in Engels)  gedoop, vernoem na die kolonie kraaie, wat al vir meer as 200 jaar in die bome rondom die distilleerdery nesmaak. Die werkers by die distilleerdery glo solank die kraaie bly, sal die whisky suksesvol wees. Saam met die 21 jaar oud het hy ’n blokkie donkersjokolade bedien.

“Wat The GlenDronach ’n unieke whisky maak, is ons twee eeue oue kennis van die invloed wat sjerrievate op whisky het. Die distilleerdery het ook die grootste hoeveelheid Pedro Ximenez-vate in die bedryf en dit verleen aan ons whiskies ’n gebalanseerde, robuuste karakter en ’n volronde sjerrieprofiel, wat geen ander whisky kan ewenaar nie.”

Hy het ook bygevoeg dat te min mense regtig ernstig praat oor terroir in whisky; in wyn is dit algemeen, maar nie in whisky nie. Hy het onder meer genoem dat die water wat uit die vrugbare grond rondom die distilleerdery kom, een van die belangrikste boustene vir hul bekroonde whisky is.

The GlenDronach Distilleerdery in 1826 deur James Allardice gestig en tot vandag toe word die Hooglandse vrygees met Spaanse eikehoutvate gepasmaat. Die distilleerdery gebruik ’n kombinasie van Pedro Ximenez en Oloroso-vate.  Die meester-versnyer by die distilleerdery, Rachel Barrie, vertel dat die Pedro Ximenez-vate soetigheid en geure van kakao – amper donkersjokolade – kersies en speserye verleen en die Oloroso bring op sy beurt haselneut, met ’n romerige, afgeronde karamel-soetigheid. 

Met die proe het hy aangeraai dat geen water by die whisky gevoeg word nie, sodat die speeksel in jou mond as’t ware as verdunner dien en dat dit vir 30 sekones op die tong gerol word, voor dit gesluk word. Hy het ook gesê whisky haal – net soos wyn – asem en ontwikkel dieper geure as jy dit vir ’n wyle in die glas los. “Ek skink dit so ’n halfuur voor ek dit bedien, om die whisky kans te gee om te ontwikkel,” het hy vertel en bygevoeg “goeie whisky moet stadig gedrink word.”

Hy het ook vertel dat dit belangrik is om te onthou dat whisky se kleur niks met die ouderdom daarvan te make het nie, dis bloot die kleur wat die verskillende sjerrievate aan die spiritus gee. As verrassing, kon gaste ook die 15 jaar oud proe.

Die whisky word in saksofoonvormige koperketels gestook, wat spesiaal ontwerp is om die boonste geure van bessies en Seville-lemoene, sowel as die basisgeure van sjokolade, leer en tabak, vas te vang. The GlenDronach is deel van die Brown-Forman Enkelmout Skotse Whisky-portefeulje, wat ook BenRiach en Glenglassaugh insluit. 

Send this to a friend