Verander jou lewe – week 3

Die Schick-avontuur finaliste vertel van hul oefening-uitdagings in week 3

Genevieve Brook – Week 3

Nou ja, die derde week is agter die rug. Ek gaan nie doekies omdraai nie – dit was taai, eintlik ’n helse week! Ek vind dit steeds moeilik om te glo hoe sterk ek werklik is, hoewel ek emosioneel, geestelik en fisiek afgemat is en só moeg voel!
 
Ek is aan my familie en vriende as ‘Vlinder’ bekend – omdat ek glo ek is ‘n vlinder in wording … Tot onlangs, was ek nog ‘n wurm, maar nou is ek in ’n kokon en probeer ek uitkom. Ek glo ná die drie maande wat die Uitdaging (Challenge) duur, gaan ek daardie vlinder wees – in staat om my kop hoog te hou, my vlerke te sprei en hoog te vlieg sonder om bang te wees. Nou is dit nog ’n bietjie moeilik, maar daar’s hoop. Wanneer ek lus voel om tou op te gooi, kyk ek net na my klein engel en byt harder op my tande, want sy het my nou nodig en ek vir haar!             
 
My enkel pyn en die koue is erg, maar ek geniet steeds elke oomblik. Terwyl ek so oor die Big Bay-landskap staar, besef ek opnuut hoe geseënd ek is om al hierdie wonderlike mense (Megan, Kim, Lee Ann, die borge, Laura, Donna, Danica en die fantastiese meisies in die kamp) se ondersteuning te hê, almal aan ’t duim vashou vir my en die ander twee finaliste. Ek bly net fokus op wat my motiveer om hierdie ding te doen en hou dié doel in my visier. Selfs al wen ek nie, want dit gaan nie oor al die pryse en daardie wonderlike naweek weg nie (hoewel ek na hierdie uitdaging dit nogal nodig hê!); eintlik gaan dit oor die regsomdraai in my en my dogtertjie se lewe. Aan die einde van die dag gaan dit oor hoe ons die reis aanpak en bly hardloop!          
 
My liggaam is besig om mooi vorm aan te neem en dit maak my bly. Ek en ander kan definitief die verskil sien. My klere sit losser en dis ’n fantastiese gevoel. Ek het Maandag my LMI gekry. Ek was so skrikkerig, maar het vandeesweek werklik my bes gegee – dus sal ons sien. Ons is wenners! Dit is die verhaal oor hoe ek geval en weer opgestaan het!  Dit gaan nie oor hoe hard jy neerslaan nie, maar oor hoe vinnig jy weer opspring, jouself afstof en die lewe voortsit. Candice en Tracey – hou die kenne omhoog girls, ons kan die ding doen!         
 
Candice Le Noury – Week 3
 
Sug. Ek wens ek kon julle vertel hoe fantasties ek voel en hoe wonderlik my liggaam reageer, maar dan sou ek jok. Die week was een lang gesukkel …   
Sedert laas week is dit die ene pyn in my kuite en om my skene. In die kamp het ek dus probeer om sover moontlik impak te vermy en Jason was hiermee baie inskiklik en behulpsaam. Dis nou ietwat beter en Woensdag het ek ’n goeie sessie gehad en my polsslag tot oor die 150 slae per minuut opgestoot (danksy my Garmin kan ek dit goed monitor). Ek het sommer lekker sterk gevoel – totdat ek om tweeuur die volgende oggend van erge pyn wakker geword het. Dit was kompleet of iemand my skene met ’n krieketkolf bygedam het en die pyn het my twee uur lank wakker gehou. ‘n Bietjie Voltaren Gel het darem bietjie verligting gebring, maar ek is nou bang vir vanaand se kamp en dat die pyn gaan terugkom.       
Om alles te kroon, het ek die grootste deel van vandeesweek ook griep gehad – ek kon van Dinsdag tot Donderdag nie gaan werk nie en het toe ook Donderdag se kamp misgeloop. Ek gaan vanaand terug, maar is ’n bietjie huiwerig. Nietemin hoop ek om die week wat voorlê beter te kan hanteer.     
Die hoogtepunt van my week was my hare-afspraak met Mooi Hair and Beauty. Die span daar is so aangenaam en het vir die opkikkerinkie gesorg wat ek so nodig gehad het. Hopelik hou volgende week beter nuus in. Ek moet Kim and Megan sien en hoop daar’s darem bietjie goeie nuus oor vermindering in gewig of sentimeters. Hou asseblief tog duim vas!    
 
 
Tracey Visscher – Week 3
 
Week drie is klaar en die gevoel raak net beter! Ek het die week op ’n goeie noot begin deur Kim te gaan sien en haar met vrae te peper oor die talle keuses wat voorlê wanneer ek eers uit is. Die gesprek was presies wat ek nodig gehad het omdat ek voorheen altyd die maklikste uitweg kon kies, maar nou begin agterkom hoe om die gesondste opsie te kies en by my eetplan te hou. Ek kom agter dat ek vandeesweek meer honger is en ’n bewuste poging moet aanwend om gereeld te eet. Ek het ’n raps gewig afgeskud en hou aan om myself te herinner oor hoe salig dit gaan wees om nooit weer daardie kilogramme aan te sit nie en net op die goeie pad vorentoe te fokus.            
Ek is besig om my visie op papier vas te lê en kan skaars wag vir aanstaande week se afspraak met Megan. Ek het beslis meer duidelikheid oor my doelwitte en keuses in die lewe. Wanneer ek bedags oor my lewenspad met vriende en kollegas gesels, besef ek opnuut hoe gelukkig ek is om sulke ondersteuning te kan hê.    
Ek voel fikser, maar word steeds ver buite my gemaksone gedryf. My afrigter, Simone, is ongelooflik en baie motiverend. Sy en die ander moedig my voortdurend aan om myself harder te dryf en dit lewer goeie resultate. Ek het begin om saam met my seuns te stap wanneer hulle gaan fietsry, met my dogtertjie in haar stootwaentjie voor en die hond aan sy leiband agterna. Buiten die ooglopende voordele van hierdie buitelugekskursies vir myself, is dit ook groot pret vir die kinders. So gek soos dit mag klink, mis ek ook die kampe oor naweke en is ek voortdurend op soek na aktiwiteite wat ons as gesin saam kan aanpak!    
Die Uitdaging is nie kinderspeletjies nie. Ek is teen agtuur saans so poegaai dat ek vroeg in die bed spring, maar tóg het ek terselfdertyd soveel meer energie vir die lewe. Ek is ook besig om beheer te herwin oor aspekte in my lewe wat voorheen afgeskeep was. Wanneer my alarms (ek het meer as een nodig) soggens om vyfuur afgaan, staan ek onmiddellik op, ongeag hoe moeg ek ook al mag voel, want ek weet van die lekkerte wat wag as ek eers op pad is Willowbridge toe. Terug by die huis ná die kamp sien ek uit na my warm stort en vertroetel myself met die Elancyl-geskenke van Actor Pharma.     
Die harewas en -droogblaas by Mooi Hair and Beauty was heerlik! Ek het so bederf gevoel. Almal daar was gaaf en hulle gaan my beslis weer sien. Dit was presies wat ek nodig gehad het. Ek het sommer soos ’n nuwe mens gevoel toe ek daar uitstap.

Vir meer inligting, besoek hul webwerf hier.

Send this to a friend