Ma van die jaar: As ’n ramp jou perspektief verander

MA_VAN_DIE_JAAR

Ek was die laaste ruk nie juis myself nie. Allerlei kwinte en kwale. En dan gebeur 9 Oktober en ek word weer geleer dat dit eintlik probleme is wat met die wind weggeblaas kan word.

Die homeopaat waarsku my dat my stres buite beheer is en dat ek moet leer om dit beter te bestuur. Ek stap daar uit met botteltjies kruiedoepa en wonder of dit enigsins gaan help.

Waaroor stres ek? Oor simpel dinge eintlik – oor dinge wat nie die einde van die wêreld beteken nie. Maar in my wêreld en in die wêreld van ‘n worrier van formaat, word dit massiewe berge.

En dan gebeur 9 Oktober en ek word weer geleer dat dit eintlik probleme is wat met die wind weggeblaas kan word. Niks groots nie. Niks lewensveranderends nie, want sien, daar het toe wel iets lewensveranderends gebeur.

Ek sien vroegdag al by die werk van ‘n groot storm wat Gauteng kan tref, maar Gauteng is mos groot en by die werk lyk die lug blou.

LEES OOK: Ma van die jaar: 10+ dinge wat jy nooit vir ’n ma moet sê nie

Toe ek later huis toe ry, word die lug al hoe donkerder en ek raak effens gespanne. ‘n Haelstorm het verlede jaar groot amok gesaai.

Die verkeer beweeg teen ‘n slakkepas toe die hael begin val. Die sig word al hoe slegter en ek draai van die grootpad af en ry in ‘n stiller straat in waar ek onder ‘n groot boom stop.

My foon lui en dis ‘n nommer wat ek ken nie. My oudste skree paniekgevange: “Mamma, jy moet kom. Daar was ‘n storm en die dakke het begin val en Mamma, die kleintjies … Ek dink Zander is dood!”

En in daai oomblik voel dit asof ‘n groot hand my asem uitdruk. Die foon gaan dood en ek probeer herhaaldelik, maar tevergeefs die nommer bel. Ek soek met dom vingers na my man se nommer en ek hoor ‘n histeriese klank in my stem toe ek hom vra om dadelik skool toe te ry.

LEES OOK: Ma van die jaar: Om te eet of nie te eet

So ry ons albei skool toe, maar hy sit in verkeer en ek sit in verkeer. Hy praat van ‘n verwoestende storm by sy werk en van chaos op die paaie.

Ek begin mense bel en kry later my jongste se naskooljuffrou. “Ja, daar was ‘n vreeslike storm, die skool lyk erg, maar die kleintjies is oukei. Zander is oukei. Ek weet net nie hoe julle by die skool gaan inkom nie …”

Ná wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het my man by die skool gekom en die kinders gekry. Toe hulle by die huis stop, sien ek twee beteuterde figuurtjies. Ziani is vol stof, haar oë twee groot, donker poele en met traanspore op die wange. Zander is nat en verskrik. Hulle huil toe hulle my sien.

Ek hoor later hoe my oudste by die naskool gesit en huiswerk doen het, toe goed by die ruite begin inwaai het, ek hoor hoe Zander vertel dat groot kinders hulle met die naskoolmatrassies toegehou het, ek hoor van maatjies wat hospitaal toe geneem is, ek hoor van die harde geraas – van dakke wat breek.

En die foto’s kom. Lugfoto’s van ‘n skool waar kinders nog vroeër die dag gesit en werk en lag het en waar ‘n Juffrou dalk nog geraas het oor die vakansiegees wat nog nie heeltemal gewyk het nie.

En ek leer weer van wonderwerke. Van ‘n skool wat verwoes is, maar waar nie een mens ernstig beseer is nie. Van ‘n vriendin se wonderwerk toe sy net haar garagedeur toegemaak het toe die geweldige storm tref, van haar kind se skool wat ook getref is, maar waar niemand beseer is nie. Ek hoor van ‘n plaas waar alles verwoes is behalwe die gebou waar die mense geskuil het. Mirakels voorwaar. Ek weet wat ek weet wat ek weet. Dis pure genade.

LEES OOK: Ma van die jaar: Wat is jou ouerskapstyl?

Ek sien ook hoe ten spyte van ‘n wêreld van oorloë, geweld, korrupsie, daar nog goeie mense is. Mense wat saamstaan en ‘n skool wil help, mense wat hul dienste aanbied om getraumatiseerde kinders te help, skole wat hul leerders vra om tot ‘n fonds by te dra …

Die ramp het my weer anders na die lewe laat kyk. Vir nou hou ek my kinders ‘n tikkie langer vas en besef ek weer eens hoe gelukkig ons is om hulle te hê.  Ek wil ligter leef, dankbaarder wees, en nie meer oor nonsens gepla wees nie. Makliker gesê as gedaan, nè? Maar dalk is dit nie so moeilik nie, want dalk moet ek net nou en dan weer kyk na ‘n foto van stoeltjies wat in ‘n verwoeste klaskamer lê. ‘n Klas in ‘n skool wat weer opgebou moet word en waar daar iewers twee skoolsakke lê met my kinders se naam op.

‘n Verwoestende storm het Gauteng op Maandag 9 Oktober getref. Krugersdorp het onder ‘n tornado deurgeloop en verskeie plekke het geweldige skade gely. Klik hier vir meer inligting oor die skool en kyk na die onderstaande foto’s

 

Send this to a friend