Waar kry jy daardie man?

Die liefde kan soms op die vreemdste plekke jou voete onder jou uitslaan, het Shanda Luyt uitgevind nadat sy met ‘n paar lesers gesels het

Liefde kom per ongeluk

Linda en Gert Vermeulen van Jeffreysbaai se eerste ontmoeting is een wat mense nog jare om braaivleisvure sal vermaak. Linda vertel: “Ons is albei onderwysers en daardie tyd het ons nog deur Unisa gestudeer. Een Julie is daar klasse by die Pretoria Onderwyskollege aangebied en Gert was met sy Kewer op pad klas toe. Ek het oor die pad geloop toe hy om die draai gekom en my omgery het!”
Sy was gelukkig nie ernstig beseer nie, maar haar knieë en sykouse was stukkend. “Ek was eers kwaad, want ek het seer geval, maar toe ek sien hoe verskrik hy was, het ek hom onmiddellik jammer gekry. Hy het my na my losieskamer geneem om nuwe kouse aan te trek.
“Dit was liefde met die eerste oogop­slag. Toe hy my daar van die grond af optel, was ons verlief! Ek het daardie aand ’n afspraak met ’n ander ou gehad, maar Gert wou nie gehad het ek moet gaan nie en ek het dit gekanselleer. Ons het mekaar daardie week elke aand gesien tot hy terug is Vanderbijlpark en ek Johannesburg toe,” onthou Linda.
Die liefde het toe reeds goed geblom. “’n Week ná hy my omgery het, het hy my gevra om te trou en drie weke later het ons verloof geraak. Toe die skool vir die vakansie gesluit het, het ek hom nog nie geken nie en toe die skool weer begin, was ek verloof. Jy kan net dink hoe verstom die ander onderwyseresse was! My hoof het vir my gesê dis nie die regte ding om te doen nie, maar ons is vyf maande later in Desember getroud.”
Sy was ook nog nie ’n oomblik spyt oor haar besluit nie, sê Linda. Hulle is nou reeds 46 jaar getroud. En nee, hy het haar sedertdien nog nie weer omgery nie, skerts sy.

’n Week ná hy my omgery het, het hy
my gevra om te trou en drie weke later het ons verloof geraak

’n Tegnologiese ontmoeting

’n Facebook-boodskap van ’n onbekende man het haar belangstelling geprikkel en tot hul eerste ontmoeting gelei, vertel Adéle Kruger van Johannesburg, wat nou al byna drie jaar met Wessel getroud is. Facebook was in daardie stadium nog ’n taamlike nuutjie in SA. Hier’s ’n uittreksel van hul Facebook-kommunikasie:
Wessel: Hi Mej Luus. Ek het jou ‘CV’ ontvang vanaf NM (’n gemeenskaplike Facebook-vriendin). Ek besoek Bloemfontein van 9 tot 12 Augustus. Sal jy ’n baie informele onderhoud oor ’n koppie koffie kan doen?
Adéle: O, ’n onderhoud nogal, nè? Klink interessant. Wat is die aanbod om te besluit of dit vir my die moeite werd sal wees?
Wessel: Gewoonlik word ’n formele aanbod eers ná ’n suksesvolle onderhoud gemaak, maar ek verstaan jou kommer en daarom sal ek die volgende opsies solank op die tafel sit:
1) ’n Koppie koffie, afhangende van die venue, tussen R6,15 en R10,50.
2) Die kans om die persoon wat die rockshandy op die profielfoto vashou te ontmoet 🙂 – Tussen R0 en “priceless”.
3) ’n Geleentheid om vas te stel wat die “werksmark” bied.
4) ’n Geleentheid om mooi aan te trek en iewers heen te gaan – “priceless” vir ’n dame.
5) Netwerk!
6) Afhangende van jou bloedsuikervlak, dalk ’n sny roosterbrood of steak of sushi – R4 tot R95.
Ongelukkig, is dit al wat ek nou kan aanbied. So?
Adéle: Dit klink belowend. Ek sal beskikbaar wees indien jy opsie 1-6 wil deurvoer.
Só het die paartjie mekaar in Augustus 2007 die eerste keer in lewende lywe ontmoet. “Nie een van ons was tevore op ’n afspraakwebwerf nie en ek was maar redelik skepties wat daarvan sou kom, maar het besluit om die ontmoeting ’n kans te gee. Die ou het darem nie te dodgy op Facebook gelyk nie! Hy is ook oorspronklik van Bloemfontein en ons het eintlik baie gemeen gehad, hoewel ons nooit voorheen van mekaar se bestaan bewus was nie,” sê Adéle en vertel die eerste afspraak het so goed afgeloop dat nog afsprake dieselfde naweek gevolg het. “Hy het vyf jaar geduldig vir die regte meisie gewag en ná twee weke se e-posse het dié intelligente, ordentlike Facebook-ou met die skerp humorsin my voete onder my uitgeslaan.
“’n Menigte langafstandoproepe, e-pos­se en kuiers later, het hy my gevra om te trou. Hy het ’n hele restaurant en sjef vir die aand bespreek. Ons het toe al vyf maande uitgegaan en vyf maande later is ons getroud. Ons is steeds dankbaar dat ons mekaar gevind het, al is dit nou met die hulp van moderne tegnologie!”

Skottelgoed en engeloë

Haar man, Wyatt, het ná ’n jaar se uitnodigings by haar huismaat kom braai, vertel Nella Zeman van Keimoes. “Hy het op ’n olieboor gewerk – een maand aan en een maand af.
“Ek het geslaap omdat ek later nagskof moes werk. Nadat ek opgestaan, gestort en aangetrek het, het ek stemme in die kombuis gehoor en het met nat hare en al gaan inloer. Daar staan hy toe, besig om skottelgoed te was in ons kombuis. My huismaat het my aan hom voorgestel en al wat hy gesê het was: ‘Jy het oë soos ’n engel.’”
Hierna het hy twee weke lank haar huismaat vir haar selfoonnommer gepla, totdat sy uiteindelik ingestem het. “Hy het my elke dag via satelliet van die olieboor af gebel en my toe gevra om hom ná sy maand by die werk by die lughawe te kry. Ek het toe al vlinders in my maag gehad! Op die lughawe was ek so bly om hom te sien dat ek met ’n vaart weggespring het na hom toe en my skoen uitgeval en die man agter my getref het! Ek het vir ’n oomblik nie geweet of ek hom eers moet groet of my skoen moet gaan optel nie,” vertel Nella laggend. Hulle is nou al meer as twee jaar getroud en baie gelukkig, verklap sy.

’n Tweede kans

Dr Thys Nieuwoudt se vrou is ná ’n huwelik van 50 jaar oorlede en hy was alleen. Lien was reeds 20 jaar op haar eie. ’n “Toevallige” ontmoeting het gesorg dat die liefde blom …
Lien vertel: “Ek het Desember 2004 ’n paar dae by my ma deurgebring. My plan was om Maandag 8 Januarie met die bus terug te ry huis toe, maar die Donderdag het ek impulsief besluit ek sou Vrydag terugry. Thys het saam met sy seun en familie in Kleinbrak vakansie gehou, maar toe kry hulle gaste uit Holland wat hul oupa en ouma saambring. Hy het besef die huis sou oorvol wees en het besluit om terug te gaan huis toe.”
 “In Mosselbaai het ’n man met ’n bos wit hare en kwaai swart oë opgeklim en luid gesê: ‘Daar is nie plek in die bus nie!’ Ek het toe maar opgestaan om vir hom te wys daar was plek langs my.”
So het die twee langs mekaar beland.
“Ons het die hele vier uur aaneen gesels! Toe ons omtrent in die Strand was, het hy gevra of ons nie telefoonnommers kon uitruil nie, want hy wou graag weer met my in verbinding tree. Sy dogter het agterna gesê die eerste ding wat haar pa gesê het toe hy van die bus afgeklim het, was: ‘Hier is iemand aan wie ek jou wil voorstel,’” vertel Lien laggend.
Sy het die volgende dag haar eerste oproep gekry en daarna het hy elke dag gebel. Hulle is nog daardie jaar getroud en is nou reeds vyf jaar gelukkig getroud. “Ek sien die Here se hand in ons ontmoeting, want dit was net te toevallig.
“Ek het geweet dis die man waarvoor ek gewag het. Ek het my ma gebel en gesê ek het ’n wonderlike man ontmoet en dink dis my trouman. Ek was toe al 20 jaar op my eie en nie van plan om weer te trou nie, maar ek dink ons het albei gevoel die ander een is die regte maat.” Vk

Send this to a friend