Hoe en waar kan jy spaar? Hier is wenke | Vrouekeur

Hoe en waar kan jy spaar? Hier is wenke

As mense sê spaar dan wonder jy hoe en waar. Dit is egter moontlik om uit die skuldstrik te ontsnap. Ons het ‘n paar wenke opgespoor

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Skryf alles neer

Mens moet weet waar jou geld elke maand heen gaan. Skryf al jou uitgawes en inkomste neer sodat jy presies kan sien waarop jy geld spandeer.

Besnoei geldmorsartikels

Ons almal het maar luukshede wat jy nie graag wil sny nie, maar is daar iets wat jy weet geld kos en wat jy maklik kan uitsny as dit moet? Soos ‘n koppie koffie op pad werk toe of te veel gemorskos? Skryf als neer sodat jy kan sien waarop jy kan besnoei.

Stel grense in

Maak dit vir jouself moeiliker om geld te spandeer. Kanselleer winkelkaarte, moenie op winkels se nuusbriewe inteken nie, gaan minder winkels toe, maak lysies voor jy gaan, verlaag jou banklimiete. Dit moet moeilik wees om geld te spandeer.

LEES OOK: Spaar vir hul studies

Kyk na wat jy het

Kyk na jou hulpbronne en wat jy daarmee kan maak sonder om meer geld te spandeer. Kan jy dalk leer hoe om met minder te kook of jou klere beter te benut?

Sê nee

As ‘n mens geld wil bespaar, kan dit moeilik wees om vir ander nee te sê as hulle iets lekkers wil doen wat jy weet jy nie kan bekostig nie. Jy gaan ook dikwels vir jouself moet nee sê.

Prioritiseer ‘n spaarplan

Spaargeld is veronderstel om jou in die toekoms te help en jou deur finansiële noodgevalle te help. As jy nou niks spaar nie, probeer iewers ‘n paar rand wegsit.

Stel vir jouself bereikbare doelwitte

Werk na iets toe. Stel vir jouself ‘n doelwit soos om in ‘n jaar se tyd jou kredietkaart af te betaal of om x-bedrag teen Desember te spaar.

LEES OOK: Wenke vir enkelma’s

Pret is ook belangrik

Om jou gordel stywer te trek, beteken darem ook nie dat jy net by die huis moet sit nie. Kyk waar jy geld kan spaar as julle uitgaan, baie restaurante het spesiale aanbiedinge op spesiale dae, kyk na afslag op flieks en dies meer. Begroot vir vermaak sodat jou lewe gebalanseerd kan bly.

Sê vir vriende en familie

‘n Ondersteuningstelsel is belangrik. As jy regtig geld wil bespaar of sukkel om finansieel kop bo water te hou, vertel vir jou mense sodat hulle jou keuses respekteer en jou in die proses kan help.

Moenie opgee nie

Dit vat harde werk om finansieel onafhanklik te raak en om uit die skuldstrik te ontsnap. Dit verg ‘n kopskuif. Onthou waarom jy geldwys wil leef. Te veel skuld? Soek jy stabiliteit vir jou gesin? Moenie boedel oorgee nie.

BRON: http://www.twocentsahead.com

Send this to a friend