Wenners van Perold/Absa Kaapse Versnit Kompetisie aangewys | Vrouekeur

Wenners van Perold/Absa Kaapse Versnit Kompetisie aangewys

Kaapse_versnit1-web

Suid-Afrikaanse wyn-meesterwerke het erkenning gekry met die aankondiging van die Perold/Absa Kaapse Versnit Kompetisie 2018

Deur MARYKE ROBERTS

Foto’s Clifford Roberts

Dié toekenningsdinee het by Lanzerac-landgoed in Stellenbosch plaasgevind. Die geleentheid was ekstra spesiaal, want dis by Lanzerac waar Suid-Afrika se eerste Pinotage in 1961 gebottel is. Dit was ’n 1959 oesjaar en die druiwe was van Bellevue afkomstig.

Vanjaar se kompetisie het 51 inskrywings gelok.

Oor die afgelope agt jaar het hierdie jaarlikse kompetisie gegroei, met Suid-Afrikaanse wynmakers wat die geleentheid gebruik om hul unieke kombinasies aan te bied deur Pinotage as sleutelkomponent te gebruik.

Die reëls van die kompetisie stipuleer dat ten minste 30% van die finale versnit – maar nie meer as 70% – Pinotage moet wees nie.

Volgens De Wet Viljoen, ondervoorsitter van die Pinotage Assosiasie , is hierdie kompetisie ‘n bewys van die blink toekoms van ‘Cape Blends’.  Hy het bygevoeg dat die gehalte van die finaliste vanjaar werklik fenomenaal was en die wyne toon balans, elegansie en struktuur wat die wyne met veroudering sal dra. Wynmakers spandeer baie tyd en deernis om hul versnitte te skep en die feit dat hierdie wyne teen premie-pryse verkoop word, dui ook op die erns van die wyne.

Beyers Truter, voorsitter, het bygevoeg dat hierdie Kaapse Versnit-wyne weer ’n duidelike bewys is dat Pinotage-versnitte nie teen enige ander land in die wêreld  terugstaan nie. Hierdie wyne is werklik unieke juwele in die kroon van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Die kompetisie word deur die Pinotage Assosiasie  en Absa aangebied en weerspieël die langdurige verbintenis van Absa, nie net vir Pinotage nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf as ’n geheel.

Van die interessante statistieke wat tydens die geleentheid met gaste gedeel is, was onder meer dat landbou ’n groot rolspeler in Suid-Afrika se ekonomie is. In die Wes-Kaap dra dit 14.5 % tot die werkskeppingsyfer by en landswyd 9.4%. Tans is die vyf grootste rolspelers petroleum, sitrus, wyn, tafeldruiwe en mandjievrugte.

Finaliste kom uit ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse wynstreke, wat aandui dat Pinotage ’n belangrike komponent van wynmaak- strategieë vir wynhandelsmerke in alle Suid-Afrikaanse wynbougebiede vorm.

Lyngrove het hul uitsonderlike Pinotage-jaar voortgesit met die toevoeging van ’n Perold / Absa Kaapse Versnit-trofee tot die Absa Top 10 Pinotage-trofee wat vroeër vanjaar gewen is.

Die wenners is:

KWV Abraham Perold Tributum 2014 deur die wynmaker Louwritz Louw

Leipzig Master Blend 2017 deur die wynmaker: Vian Bester

Lyngrove Platinum Latitude 2016 deur die wynmaker Danie van Tonder

Pulpit Rock Louisa Reserve 2014 deur die wynmaker Dewald Huisamen en

Wildekrans Kaapse Versnit Barrel Select Reserve 2015 deur die wynmaker Braam Gericke.

By dieselfde geleentheid is die wenners van die Pinotage Rosé-kompetisie ook aangewys. De Wet het gesê hulle is opgewonde oor hierdie toevoeging tot die Pinotage-kompetisies, wat op die verskillende uitdrukkings van dié kultivar fokus.

“Vanjaar se wen-Rosé wyne is vars en van uitstaande gehalte en herbevestig die visie om verskillende wynstyle en markaandeelhouers in te sluit. ”

Die ontvangers van die Pinotage Rosé Toekenning van Uitmuntendheid is:

Asara Vineyard Collection Pinotage Rosé 2018 deur die wynmaker Johan Joubert

Landskroon Blanc de Noir Pinotage Off Dry Rosé 2018 deur die wynmaker Michiel du Toit en

Rooiberg Winery Pinotage Rosé 2018 deur die wynmaker Andre Scriven.

Die beoordelaars van albei kompetisies was Jacques Roux, Fred Viljoen, Johan Malan, Susan Erasmus (Laffort), Brad Gold en die legendariese wynmaker, Guy Webber.

Duimpie Bailey is by die geleentheid as ere-lid van die Pinotage Assosiasie ingelyf.

Send this to a friend