Wynmaker: Nico Grobler

wynmaker_nico_grobler

Nico Grobler is sedert 2005 betrokke by Eikendal Vineyards buite Somerset-Wes

Maryke Roberts

Eers het hy sy prakties as ‘n student daar gedoen, toe in 2006 aangestel as assistent-wynmaker; in 2009 as wynmaker en wingerdkundige en nou het hy onlangs oorgeneem as keldermeester, wat nou meer na die kommersiële gedeelte van die besigheid ook omsien.

Nico kom uit ‘n familie in wie se are landbou dik loop en hy sê hy het nog altyd die behoefte gehad om iets te plant en iets te skep. Sy grootste passie is die wingerd, dus het die wynmaakgedeelte ontwikkel uit sy wingerdpassie. Hy het by die Universiteit van Stellenbosch regte begin studeer, omdat hy altyd geglo het hy gaan prokureur word, maar het gou agterkom dis nie sy passie nie.

Hy is getroud met Christelle, ‘n senior ekonoom by die Buro vir Ekonomiese Ondersoek by die Universiteit van Stellenbosch. Hulle het twee dogters, Nicola (5) en Lisa (1) en hy sê “hulle gaan altwee wynmaak en nooit trou nie”.

Hy sê dis ‘n voorreg om in Suid-Afrika wyn te maak, en hy voel dis sy plig om in die pragtige Boland terug te ploeg. Hy het reeds die hele wêreld vol gereis en in heelwat Europese wynstreke gewerk. Boergondië is vir hom ‘n groot passie en hy besoek dit elke jaar. Nico vertel dit verbreed definitief jou kennis en visie en voed die kreatiwiteit, maar hy soek Afrikagrond onder sy voete…

Baie wynmakers het ‘n getroue hond wat oral met hulle saamdraf. Maar nie Nico nie. Hy vertel egter dat hy ‘n gholfstok oral met hom saamdra. As hy dink, swaai hy hom, of dit nou in die kelder of die wingerd is.

Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?

Ons is nie, maar ons is op pad. Ons wyne se kwaliteit het die laaste 10 jaar ongelooflik ontwikkel. Suid-Afrika is nog besig om sy identiteit as ‘n wynprodusent te ontwikkel. Ek dink ons moet nooit sê ons is die beste nie, ´n mens moet respek hê vir dié wat dit langer en meer suksesvol as ons doen, maar hulle is al in ‘n groef. Suid-Afrika kan wees wie hy wil, ons kan maak wat ons wil, hoe ons wil, ons is nie gebind aan 200 jaar oue wette en so meer nie. Dit maak ons tans die interessantste wynbedryf in die wêreld.

Hoe voel jy oor toekennings en vererings vir wynmakers?

Dit neem ongelooflike toewyding om wêreldklas-wyne te produseer en dit neem baie tyd, passie, bloedsweet en baie mislukkings – so om erken te word vir wat jy doen, is fantasties. Onthou, dit is ‘n spanpoging en dus vir al my werkers is dit fantasties om te weet dat die werk wat ons doen, help om van die top-wyne in Suid-Afrika te produseer.

Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?

Mens moet nie toelaat dat dit jou oorneem nie; maar dit het sy doel. Dit help die publiek om te besluit watter wyne om te koop. Maar jy moet die wyn maak wat jy in jou are voel, nie wat medaljes gaan verower nie.

Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?

Ek het die sleutel tot die Eikendal-terroir ontdek. Die wyne weerspieël waar dit groei, die klimaat, die oesjaar – dis meer werd as enige goue medaljes. Die medaljes is as gevolg van die feit dat ek die sleutel kon ontdek.

Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?

Ons het die afgelope paar jaar ongelooflik baie werk gedoen en Eikendal het hom definitief gevestig as ‘n premium-produsent. Die doelwit is om okoonstatus te bereik.

Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?

Wyn het die vermoë om die karakter van die terroir waarin hy groei, te wys en dis ook my doel as wynmaker, maar terselfdertyd ook my grootste uitdaging.

Wat is die ander uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?

Ongelukkig is ons ekonomie ‘n groot uitdaging. Ons kort investering in die wynbedryf. Dan sukkel Suid-Afrika ook nog om sekere pryspunte oorsee te kry. Arbeid is ‘n redelike kopseer met tye, meer oor vaardighede as enigiets anders. Maar dit is ook ‘n baie opwindende tyd vir Eikendal en Suid-Afrika. Ons wyne kry al hoe meer erkenning in die buiteland en ons word elke dag meer erken as ‘n kwaliteit-produserende land, so die res sal kom.

Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?

In parstyd. Die kelder is vol geure wat jy net daardie tyd van die jaar ruik. Ek hou daarvan om laat aande terwyl die pars besig is, ‘n bottel te gaan uithaal. Dis nogal magic.

Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?

Restaurant-wynpryse is verregaande, dit dwing verbruikers om ´n swakker kwaliteit te drink. Baie restaurant-wynlyste word “gekoop”, dus is dit oor die algemeen ‘n swak seleksie. Daar moet meer van ‘n wynkultuur geskep word. Suid-Afrikaners moet leer om met wyn te eksperimenteer, nuwe wyne te probeer. Mense is nog bang vir wyn en hulle is bang om vra te vra of oor wyn te gesels, want “netnou klink dit of ek niks weet nie”.

Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?

SA wyndrinkers is baie geheg aan sekere handelsmerke en is nie nuuskierig genoeg nie. Suid-Afrikaners het ook hierdie stigma dat wyn net by Sondagmiddagete oopgemaak word.

Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?

Eikendal Chardonnay. Dit is ‘n ongelooflike wyn met ‘n ryk tradisie. Die werk agter die skerms om die wyn te laat groei en te maak, is enorm en verg baie aandag aan detail. Om te sien hoe alles jaar na jaar bymekaarkom, is altyd spesiaal.

Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, waar is jou gunstelingbestemming?

Ja, regoor oor die wêreld…hmmm…ek is baie lief vir New York en Stockholm.

Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?

Ontspan, haal jou das af, trek jou baadjie uit, sit terug en geniet die diversiteit wat wyn jou bied.

Wat is die mooiste woorde wat jy al oor wyn en die wynmaakproses gehoor het?

Goeie chardonnay proe soos water uit ‘n bergstroompie.

Na wie gaan jy vir wynmaak-raad?

Daar is soveel in Suid-Afrika, maar ek het ‘n groot mentor in Bruno Lorenzon van Boergondië. Hy is ‘n topwynmaker in die streek en het my baie geleer.

Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?

Jy is die afrigter, laat die wyn homself maak.

As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?

Professionele gholfspeler.

Waarvan droom jy vir die toekoms?

Om Eikendal se potensiaal ten volle te ontgin en ek hoop ook altwee my dogters word wynmakers.

SOURCES
verskaf

Send this to a friend