Wynmakers: Jan van Rooyen, Avontuur

Almal ken die bekende wynplase in die Kaap se name. Selfs die etikette en bemarkingsveldtogte is deel van ons daaglikse lewe. Maar wie is die skeppers van daardie lekker wyne wat agter die skerms swoeg om jaarliks die pryswenners op ons tafels te sit?

Maryke Roberts

Vrouekeur gesels voortaan maandeliks met twee wynmakers en hoor wat hul wenresep is.

As jy op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes in die Wes-Kaap ry, is die perdekampe en statige wit kelder van Avontuur al ’n gewilde baken. Dis hier waar Jan van Rooyen die afgelope vyf jaar wynmaker is. Die landgoed is bekend vir sy pryswennerperde, maar sy rooi- en witwyn en brandewyne is ook legendaries.

Jan is getroud met Adré en hulle het drie kinders, Marcelle, Christoff en Frances. Die gesin woon nie op die plaas nie en geniet dit om saam te kook en om die tafel te eet, gesels baie en hou ook van fliek.

Jan het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het nooit kon droom dat hy ’n wynmaker sou word nie. Hy het sy visier gehad op ’n pos as dosent of dalk ’n navorser. Sy voete staan stewig op die aarde en hy sê dikwels word verbruikers afgeskrik deur die taalgebruik en elitistiese manier waarop mense met hulle oor wyn kommunikeer. Hulle is bang om iets nuuts te probeer, want netnou dink iemand hulle het nie styl nie. Hy voeg wel by dat verbruikers dikwels oningelig is oor die verskillende variëteite en wynstyle.

Intussen is wyn eintlik ’n pret-produk met ’n wyn vir elke geleentheid en beursie, mense moet net meer waaghalsig wees.

Avontuur Brut
Avontuur se Brut MCC

Wat was jou drome toe jy by Avontuur begin het en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het? Ek wou die profiel en identiteit van elk van die wynprodukte in die plaas se stal verhoog en verfyn en ek is trots om te sê ek is goed op pad daarheen.

Hoe voel jy oor wynkompetisies? Dit is belangrik en help met verkope, maar dis nie al waaraan ’n wyn gemeet kan word nie.

Watter rol speel wynskoue in die bemarking van jou wyn? Nie geweldig baie nie. Omdat Avontuur al redelik lank wyn produseer en ’n gewilde toeristebestemming is, word baie van ons wyn direk van die plaas af verkoop.

Wat was sover jou grootste hoogtepunt as wynmaker? Om drie internasionale goue medaljes in ’n ry te wen, elke keer met dieselfde kultivar, merlot. Ek was baie breëbors.

Wat is jou beste bemarkingsmiddel vir wyn? Die wyn moet lekker smaak en gebalanseerd wees wat gehalte en prys betref.

Wat drink jy graagste, wit, rooi of MCC? Ek hou die meeste van MCC, dan Sauvignon Blanc en dan Cabernet Sauvignon.

Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn? In Pinot Grigio, Italië, saam met my vrou, Adré.

Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die skink, berging en pasmaats vir wyn?
Skink: hulle moet net mooi glase gebruik, verder kan hulle skink soos hulle wil!
Stoor: ons drink ons witwyne te gou en ons rooiwyne te laat.
Pasmaats met kos: mense eksperimenteer nie genoeg nie.

Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet? Die proses stop nie as parstyd verby is nie, dit begin eintlik dan eers.

Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word? Dat wyn vet maak – dis onwaar.

Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker? Om my handewerk te proe saam met vriende.

Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal? Ons MCC, want dit het die perfekte vonkel.

Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld? Ons klimaat, die kombinasie van ou- en nuwewêreldse tegnieke en style, ons bied goeie kwaliteit binne ons prysklas, ons wyn is meer eg en het minder snobwaarde.

• Avontuur op die R44, (021) 855-3450, www.avontuurestate.co.za

SOURCES
Verskaf

Send this to a friend