20 Januarie 2012 – Selfwaarde, selfrespek, selfvertroue & selfstandigheid

In Venus en Mars, kruis en dwars, verwys Shanda Luyt sommer met die aanvang van die tong-in-die-kies-artikel na die stereotipering wat met geslagtelikheid saamgaan.

In Venus en Mars, kruis en dwars, verwys Shanda Luyt sommer met die aanvang van die tong-in-die-kies-artikel na die stereotipering wat met geslagtelikheid saamgaan. Sodanige rolverdeling en kommentaar, wat dikwels negatiewe assosiasies oproep as grense oorskry word, is kultuurgebonde en nie ’n absolute waarheid nie. Genadiglik sê sy: “Daar is die afgelope eeu baanbrekerswerk gedoen om stereotipering af te breek … maar [daar is ook] ’n bewustheid dat [die] verskille [tussen geslagte] nie beteken die een geslag is beter as die ander nie.”
Tog is daar mense wat bly vasklou aan die idee dat vroue bloot versorgers moet wees en dat mans, wat dan daarteenoor die broodwinners is, noodwendig in beheer van die finansies moet wees. Dit kan tot groot frustrasie aan die kant van vroue, maar ook tot die misbruik van ’n sogenaamde magsposisie aan die kant van die mans aanleiding gee en is myns insiens een van die faktore wat tot disharmonie in ’n huwelik bydra. En van onenigheid in huwelike hoef ek niemand te oortuig nie. Die statistiek met betrekking tot egskeidings in Suid-Afrika spreek vanself.
Vrouelesers identifiseer met die artikels in Vrouekeur en vir sommige is dit die enigste oor wat hul hulpkreet hoor en verstaan in ’n omgewing waar hul stem dikwels nie saak maak nie. ’n Ruk terug het ek ’n lang gesprek met ’n leser gehad wat haar hart uitgestort het oor ’n huwelik waarin sy vasgevang voel, omdat sy onder meer finansieel magteloos en gestrem voel. Selfs ná vele sessies se huweliksberading is hul verhouding steeds nie gesond nie, maar omdat sy nie finansieel in staat is om weg te breek nie, verduur sy die pyn en hartseer van ’n ongelyke en ongelukkige huwelik. Ek laat my nie vertel dit is vir ’n man lekker om saam met ’n ongelukkige vrou te leef nie. In só ’n verhouding kan nie een van die twee mense groei nie en kinders in sulke huwelike het ’n wrang beeld van ’n verhouding tussen twee huweliksmaats. Die ironie is dat vroue, wat finansieel en emosioneel hul regmatige plek in ’n huwelik het, in staat is om noodwendige opdraandes wat in verhoudings opduik, makliker te hanteer en oorkom. Eenvoudig gestel: Hulle voel nie vasgevang nie. Hulle bly in die huwelik omdat hulle wil en nie omdat hulle moet of geen ander uitweg
het nie.
Diegene wat wel besluit hul lewens­paadjies moet skei, sal weet waarvan ek praat as ek sê: ’n Egskeiding is altyd Plan B (ek predik dus nie egskeiding nie), maar soms is Plan B die enigste manier om jou selfwaarde, selfrespek en selfvertroue te behou en jou selfstandigheid te ontgin.
Ons stel daarom hierdie week twee vroue aan die woord wat raad aan vroue gaan gee om hulle binne of buite hul huwelik te help om hul regmatige deel en plek te kry. Christel du Toit en Janene Visser besef hoe belangrik dit is dat vroue hulself finansieel bemagtig om op hul eie bene in ’n gelukkige Plan A saam met hul lewensmaat die pad te stap. Hulle gee ook aan diegene wat Plan B moet volg, bystand op regs-, finansiële en emosionele gebied, want soos hulle tereg sê: “… ‘egskeiding [beteken] nie alles is netjies afgehandel as die skeidokumente geteken is nie. Om te skei is reeds ’n traumatiese ervaring, maar as jou geldsake stabiel is en jy kry wat jou toekom, het jy as enkelouer darem een bekommernis minder en is jou lewe ook meer stabiel.”
En hoe meer stabiele mense daar in ’n samelewing is, hoe gesonder is daardie samelewing. Dis in ’n gesonde omgewing waar ouers en hul kinders kan groei, blom en vrugte dra.

Tot volgende keer.

Send this to a friend