6 Januarie 2012 – Kom ons maak dié jaar ‘n nuuskierige een

Elke jaar kan jy deur die eerste uitgawe van enige tydskrif blaai en lees wat bekendes oor hul verwagtinge of voornemens vir die nuwe jaar sê.

Elke jaar kan jy deur die eerste uitgawe van enige tydskrif blaai en lees wat bekendes oor hul verwagtinge of voornemens vir die nuwe jaar sê. Deesdae kan jy selfs lees wat kenners te sê het oor wat op ekonomiese gebied voorlê of watter dekor- en modetendense ons kan verwag. En hier is ons weer aan die begin van ’n nuwe jaar met die eerste uitgawe van Vrouekeur
vir 2012.

Ek onthou goed hoe ek op skool, aan die begin van elke jaar ná die Desembervakansie, na ’n nuwe begin uitgesien het. Skoolskoene is gepoets, my kleurbaadjie is by die droogskoonmakers ingegee en my nuwe skooldagboek is sorgvuldig ingevul met my naam, van, adres en nuwe standerd. Rolle bruinpapier, plastiek en etikette het gereed gelê vir die aanbreek van die eerste skooldag en dis met groot opgewondenheid wat ek daarna uitgesien het om splinternuwe boeke oor te trek. My pennesakkie was gepak met skerpgemaakte potlode, ’n nuwe uitveër en twee geel Bic-penne, wat ek nou nog glo die lekkerste skryf. Ek was oorgehaal om dié jaar van wiskunde te hou, elke dag getrou my huiswerk te doen, al my voorgeskrewe boeke deeglik te lees en betyds met skooltake te begin sodat ek nie die aand voor die tyd inderhaas nog met Letraset mooi opskrifte moes maak nie.
Teen Maart het my entoesiasme reeds begin taan, was my voorgeskrewe boeke al klaar vervelig en het Shakespeare my helaas verloor. Teen daardie tyd het ek ook reeds ’n paar sessies ekstra wiskunde saam met my ingenieurpa om die eetkamertafel gehad waar hy soos elke jaar vir my storiesomme, driehoeksmeting of meetkunde probeer verduidelik het. Ek dink hy het toe al deep down besef dié kind gaan waarskynlik nie eendag ’n brug kan bou of ontwerp nie.
Dis snaaks hoe ’n mens met die aanbreek van ’n nuwe jaar jouself ’n klomp dinge voorneem. Ons besluit dit nie in April of Oktober nie, ons doen dit in Januarie. Dis soos jou splinternuwe dagboek met skoon bladsye. Elke jaar besluit ek hierdie jaar gaan ek my dagboek netjies byhou en afsprake en vergaderings aanteken, uitgawes aandui om my begroting te laat klop en betyds notas maak van wanneer my kar gediens moet word, die lisensie hernu moet word, my belasting ingevul moet word of ek ’n tandartsafspraak moet maak, sodat ek nie weer op die nippertjie besef dis amper te laat nie. Teen Maart loop my dagboek egter oor van papiere, het ek al weer ’n paar vriende se verjaardae vergeet en voel dit asof tyd te vinnig verbygaan om als ingepas te kry.
Dis die eerste week in Januarie en die jaar lê braak. Die Kersversierings is afgehaal, die boom is weggepak, my tan is bloot ’n herinnering aan die vakansie saam met my geliefdes en dierbare vriende by die see en ek’s oorgehaal vir die nuwe jaar met ’n 2012-dagboek waarin nog ’n jaar se gebeure aangeteken gaan word.
Soos elke jaar weet nie een van ons wat dié jaar wag nie. Ons kan net hoop en wens. Soos verlede jaar en al die vorige jare, het daar dinge gebeur wat ons opgewonde, bly en gelukkig gemaak het, maar elke jaar bring ook sy kwota hartseer, sorge en bekommernis. Dit sal hierdie jaar nie anders wees nie en tog is ons aan die begin van elke jaar hoopvol dat dinge makliker, beter en voorspoediger gaan verloop.
Lize Beekman vertel hierdie week hoe sy deel was van ’n groep bekendes wat gevra is watter woorde hulle in die nuwe WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) sou borg as hulle kon. Een van haar woorde is “hoop”. Hoop is ’n woord wat ’n mens moed gee. Ek onthou hoe my ma jare gelede in ’n moeilike fase in my lewe my moed ingepraat het en aangemoedig het om te bly hoop. Daardie einste hoop het my dikwels deur amper moedelose tye in my lewe gedra.
By die lees van die gesprek met Lize, het ek gewonder watter woorde ek sou borg. Naas hoop, sou “nuuskierig” ’n woord op my lysie wees. Dis uit nuuskierigheid wat ons leer. Luister maar na klein kindertjies wat onophoudelik vra: “Wat’s dit? en Wat’s dat? Ons is nooit te oud om te leer nie, maar ons verloor iewers langs die pad ons nuuskierigheid en daarmee saam ons entoesiasme om die wonder van die lewe te bly ontdek.
Hierdie jaar gaan ek sowaar ’n allemintige poging aanwend om my dagboek by te hou, my begroting te laat klop en my admin betyds afgehandel te kry, maar bowenal, wil ek hierdie jaar met nuuskierigheid, en nie vrees nie, tegemoetgaan.
Dis die bekende Walt Disney wat oor sy organisasie gesê het: “Hier by ons kyk ons nie baie lank terug nie … Ons bly vooruit beweeg, maak nuwe deure oop en doen nuwe dinge omdat ons nuuskierig is … en nuuskierigheid hou aan om ons op nuwe paaie te lei.”
Kom ons pak die nuwe jaar met nuuskierigheid aan en wat ook al die jaar vir ons inhou, laat ons nooit hoop verloor nie.
Tot volgende keer.

Send this to a friend