Ek het onlangs ’n interessante akademiese artikel, “… Happily Ever After (or What Fairytales Teach Girls About Being Women)”, deur Alice Neikirk gelees.
Dink ’n mens aan sprokies soos Aspoestertjie, Sneeuwitjie en Raponsie, is die gemene deler ’n beeldskone, hulpelose, gevange meisie en ’n aantreklike, dapper, sterk prins wat talle gevare op sy wit perd trotseer om die damsel in distress uit haar penarie te red. Ná sy heldedaad trou die prins met die meisie, sy word ’n prinses (sy prinses) en hulle leef lank en gelukkig saam. Neikirk sê onder meer: “Sleeping Beauty is a fairytale that illustrates … the perpetuation of stereotypical gender roles and the presence of underlying patriarchal ideals.”
Die sprokies waarmee ons almal grootgeword het – meisies en seuns – het die stereotipiese rolverdeling van mans en vroue van kindsbeen af en van geslag tot geslag aan ons oorgedra. Bogenoemde kan baie mense op hul eie perdjies laat spring omdat ek sulke boodskappe in onskuldige sprokies lees. Moet ’n mense dan nou nie vir jou kinders hierdie slaaptydstories lees nie? Moet jy nie toelaat dat hulle die Disney-flieks van gelyknamige stories kyk nie? Moet ’n mens kinders die wêreld van sprokies ontneem omdat jy as volwassene (hopelik) weet wat die invloed daarvan is? Ek het nie die antwoord nie. Ek het net my mening.
My kinders het die stories gehoor, gelees en gekyk, ten spyte daarvan dat ek bewus was van die subtiele boodskap wat dit oordra. Ek onthou nou nog hoe hulle vasgenael na die stories op die TV-skerm gekyk het. Nie een keer nie, etlike kere. Wat ek wel weet, is dat ek nie my seun of my dogter grootgemaak het met die idee dat mans en vroue volgens sekere sosiaalvoorskriftelike maniere moet optree nie. Ek het gepoog om twee mense groot te maak wat albei op hul eie bene kan staan, hul eie besluite kan neem en hul eie hindernisse kan oorkom.
My seun is nie ’n prins wat ’n prinses moet red nie en my dogter gewis nie ’n prinses wat gered moet word nie. Dis nie net sprokies wat kinders se siening van die lewe beïnvloed nie. Ouers se voorbeeld met optrede, menings en uitlatings is wat hul kinders vorm. Sou ’n mens die stereotipiese rolverdeling en onderliggende patriargale boodskappe van sprokies perpetueer deur ons uitlatings aan ons kinders, dan gaan ons seuns dink hulle moet aantreklike, dapper, sterk prinse wees en ons dogters dat hulle beeldskone, hulpelose meisies moet wees wat deur ’n prins bevry moet word. Maar dis geen bevryding nie. Dis om vasgevang te wees. En dis dalk hoekom soveel vroue vandag in ongelukkige verhoudings bly. Hulle het nie selfwaarde of onafhanklikheid nie en leef deur hul mans – die sogenaamde “troumans”.
Dalk is dit ook hoekom soveel mans wat met ’n trophy wife getroud is, dink hulle kan maak soos hulle wil, want die prinses wat hulle met hul duur kar, groot huis en baie geld verower het, is nou net nog een van hul besittings. En sulke verhoudings is nie sprokies nie. Van lank en gelukkig saamleef, is daar geen sprake nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.