Papawer-en-suurlemoen-koek

papawer_suurlemoen_koek

Prikkel die smaakkliere met ’n papawer-en-suurlemoen-smaak

Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS

Foto ELMARIE Knapton

12 porsies

KOEK

250 g (½ blok) sagte botter

312 ml (1¼ k) strooisuiker

6 ekstragroot eiers, geskei

5 ml (1 t) vanieljegeursel

250 ml (1 k) suurroom

75 ml (5 e) papawersaad

560 ml (2¼ k) koekmeel

15 ml (1 e) bakpoeier

2 ml sout

10 ml (2 t) vars suurlemoenskil, fyngerasper

10 ml (2 t) suurlemoensap

SUURLEMOEN-ROOMKAASVERSIERSEL

100 g sagte botter

750 ml (3 k) versiersuiker, gesif

15 ml (1 e) suurlemoensap

60 ml (4 e) roomkaas teen kamertemperatuur

 

Stel oond op 180 °C.

  1. Room botter en strooisuiker ongeveer vyf minute met elektriese klitser tot liggeel en romerig.
  2. Skei eiers en klits eiergele by bottermengsel.
  3. Roer vanielje, suurroom en papawersaad tot goed gemeng by bottermengsel.
  4. Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam. Roer suurlemoenskil by.
  5. Roer gesifte meelmengsel by bottermengsel tot deeg vorm. Roer suurlemoensap by.
  6. Klits eierwitte tot stywepuntstadium en vou by beslag in.
  7. Verdeel beslag tussen drie gesmeerde ronde koekpanne met 20 cm-deursnee. Voer koekpanne met bakpapier uit en spuit met kossproei.
  8. Bak vir 25 minute of tot toetspen skoon uitkom.
  9. Laat koeke bietjie in koekpanne afkoel en keer op afkoelrakkie uit om heeltemal af te koel.
  10. Suurlemoen-roomkaasversiersel Room botter met elektriese klitser vir ongeveer vier minute tot liggeel. Voeg gesifte versiersuiker bietjies-bietjies by en hou aan klits tot versiersuiker romerig word.
  11. Voeg suurlemoensap by wanneer versiersuiker te styf word om te klits.
  12. Roer roomkaas tot sag en roer by romerige versiersuiker tot gemeng.
  13. Verdeel versiersel tussen al die koeklae en plaas bo-op mekaar op koekstaander.
  14. Rond af soos verkies.

Send this to a friend