Redakteursbrief: Dis tyd dat alle mense op ’n ruimtereis gaan

Redakteur
Eldaleen Hugo

En hier sit ek 330 jaar later, deel van Daniel Hugot se 13de geslag steeds aan die suidpunt van Afrika met ’n dilemma. Hoort ek hier?

Uit die artikel oor genealogie op bl 26, blyk dit duidelik dat daar nog mense soos ek is wat baie nuuskierig is oor die wie, wat, waar, hoe en hoekom in die voorsate van toeka se tyd. Dié bladsy is nie die platform vir politieke agendas nie, maar in die lig van gerugte oor grondonteiening en wie nou eintlik op hierdie bodem mag woon, waag ek dit hierdie week op dié terrein.

In 1664 is ’n seuntjie in Serzey les Maupas, Chalons-sur-Marne, Champagne, Frankryk, gebore. In 1688 was hy ’n 24-jarige jong man wat hom as een van die Hugenote aan die Kaap bevind het. Daniel Hugot was een van die ongeveer 270 Franse vlugtelinge wat hulle volgens ’n opname in 1720 in die Kaap gevestig het. En hier sit ek 330 jaar later, deel van Daniel Hugot se 13de geslag steeds aan die suidpunt van Afrika met ’n dilemma. Hoort ek hier? Daar is immers diegene wat sterk voel dat ek nie hier hoort nie. Soms wonder ek self, want die vet weet, ek is moeg om te regverdig hoekom ek hier ’n lewe probeer maak. Die feit is, ek het nie ’n keuse in hierdie besluit gehad nie. Dit was die besluit van iemand wat, ná die opskorting van die Edik van Nantes in 1685, sy goed as Protestant in Frankryk gepak en geloop het (weliswaar as ’n verstekeling op ’n skip – die Borssenburg – Kaap toe).

Nou hoe nou? Hier sit ek vandag met ’n Suid-Afrikaanse paspoort en nie almal is ewe opgewonde daaroor nie. Glo my, ek sou graag ’n paspoort wou hê wat my makliker laat reis, ek sou vlot Frans wou praat en iewers op die Franse platteland fietsry met ’n baguette en vars groente voor in die fietsmandjie. Die idee van ’n knus dakwoonstel in die hartjie van Parys is ook nie ’n onaangename gedagte nie. Sou dit nou so erg gewees het om Katoliek te wees, Daniel? Die feit van die saak is, my Frans is geradbraak, ek het meer vrae as antwoorde oor godsdiens en gelowe, en ná 330 jaar is ek gewis nie meer net Frans nie.

Kommandeur Simon van der Stel het gesorg dat die Franse, Hollanders en Duitsers van die begin af “meng”. En meng is daar gemeng – gewis nie net Europeërs met mekaar nie. Want daar was ander mense op dié kontinent voor my voorsaat voet aan wal gesit het. Trouens, is ek sogenaamd “wit”? Het daar nie iewers in die 330 jaar minstens een keer twee mense van verskillende “kleur” in my genealogiese lyn lief geraak vir mekaar en kinders gehad nie? Iets wat die Nasionale Party so graag in 1948 wou verseker nie weer gebeur nie? En dít net ná die afgryslike dade van ’n party in Duitsland wat hulself as eksklusief beskou het! Wat is my punt?

Die vertelling van ’n Amerikaanse ruimtevaarder wat ’n paradigmaskuif gemaak het toe hy die aarde van waar hy in die ruimte was, beskou het. Die asemrowende blik op die blou ghoen waarop ons woon, het geen grense tussen lande (soos op ’n atlas) aangedui nie, daar was geen aanduiding van watter kleur mense waar gewoon het nie. Vir hom was dit asof tyd stilgestaan het, en hy het die wêreld letterlik vanuit ’n ander perskeptief gesien en verstaan. Dié nuwe gewaarwording en bewussyn van die brose oase, wat ons teen die gevaar van die ruimte beskerm, was ’n sobere ervaring. Ten spyte van die oorweldigende skoonheid, kon hy nie anders nie as om te dink aan die armoede, oorlog, geweld, onreg … wat mense op die aardbol veroorsaak. As alle mense die aarde vanuit die ruimte sou beskou, sou ons almal besef dat ons net reisigers op ’n bol in die ruimte is. Sonder grense tussen lande en mense.

Send this to a friend