Kuns: Anselm Kiefer

’n Foto van Anselm Kiefer uit die reeks Besetzungen (Besettings) van 1969.

Anselm Kiefer se latere skilderye, dié waarvoor hy bekendheid verwerf het, is monumentale doeke waarin hy sy ondersoek na die Duitse psige voortsit

Deur JOHAN MYBURG

Anselm Kiefer is deel van ’n geslag Duitse kunstenaars wat die skande en skuld van die Joodse menseslagting ervaar het sonder dat hulle die Tweede Wêreldoorlog self beleef het. Kiefer is in 1945, die jaar waarin die oorlog tot ’n einde gekom het, gebore. Dit was die swye oor die oorlog in Duitse skole en die afwesigheid van gesprekke oor die trauma wat die oorlog tot gevolg gehad het wat volgens Kiefer ’n vonk vir sy kreatiwiteit was. Hy was 24 en pas klaar met kunsklasse by die skilder Peter Dreher in Karlsruhe toe hy in 1960 sy loopbaan as kunstenaar met ’n onthutsende reeks foto’s onder die titel (Besettings) Besetzungen begin het.

Dié reeks bestaan uit selfportrette van Kiefer, geklee in sy pa se uniform en met die kenmerkende Hitlersaluut, afgeneem op verskillende plekke met politieke betekenis – in Switserland, Frankryk en Italië – en ook by nasionale monumente. Die foto hiernaas uit dié reeks roep verwysings op na Der Wanderer über dem Nebelmeer (Die wandelaar bokant ’n see van mis), ’n skildery van Caspar David Friedrich (1774–1840), dié Duitse skilder van die Romantiek. Kiefer keer, soos die figuur in die Friedrich-skildery, sy rug na die kyker en tuur, in die tradisie van die Romantiek, oor die see uit. Maar dis sy regterarm wat uitskiet in die Nazisaluut wat onmiddellik die oog vang.

Op dié manier verbind Kiefer twee oënskynlik uiteenlopende eras in die Duitse geskiedenis. Is dit werklik so uiteenlopend, is die vraag wat Kiefer stel: Was die imperialistiese en nasionalistiese strewe aangevuur deur die Napoleontiese oorloë en die latere Romantiek soveel anders as dié van die Duitse Derde Ryk? Kiefer se latere skilderye, dié waarvoor hy bekendheid verwerf het, is monumentale doeke waarin hy sy ondersoek na die Duitse psige voortsit. Hy gebruik impasto (verf wat dik aangewend word) en kombineer dit met ongewone materiaal soos stukke lood en glas, asook boomwortels, droë blomme en halms strooi waarmee hy sy eie simboletaal tot stand gebring het.

LEES OOK: Kuns: Sol LeWitt

 Waar plantmateriaal vir hom op agteruitgang en die dood, dui is lood, met sy belang in alchemie, swaar genoeg om die las van die geskiedenis te kan dra. ’n Voorbeeld hiervan is Balders Träume (Balder se drome), ’n werk wat in 1982 gemaak is en wat in Venesië vertoon is. Dié skildery is in 2006 deur Christie’s vir 1,3 miljoen Amerikaanse dollar verkoop. Balder was die mitologiese god van onskuld, skoonheid, vrede en smetteloosheid. Ná ’n droom omtrent sy eie dood het Balder se ma alles in haar vermoë gedoen om haar seun van alle moontlike gevare te vrywaar. In haar ywer het sy egter die mistelplant oorgesien – wat Loki later gebruik het om gif van te maak en aan die pylpunt te smeer waarmee Balder doodgeskiet is.

Sy ma het bly pleit dat haar kind van die Onderwêreld mag terugkeer. Balder se messiaanse terugkeer na die land van die lewendes het Kiefer gebruik as ’n metafoor vir sy vaderland se problematiese verlede en as ’n aanduiding van die toekoms wat voorlê. In 2011 is die duurste skildery nog van Kiefer, Dem unbekannten Maler (Aan die onbekende skilder), vir 3,6 miljoen Amerikaanse dollar op ’n veiling van die hand gesit. Hy woon en werk deesdae hoofsaaklik in Parys en op ’n dorp net buite Lissabon in Portugal.

Send this to a friend