Redakteursbrief: DNS en tradisionele rolle maak nie van jou ’n goeie ouer nie

Met Vadersdag om die draai is dit sekerlik gepas om iets oor en vir pa’s te skryf

Hoe lyk ’n goeie pa?As mense hierdie vraag 100 jaar gelede gevra het, sou die antwoorde radikaal van vandag se antwoorde verskil het. Hedendaagse pa’s ruil doeke om, doen pajamadril, ry kinders skool toe, help met huiswerk, kook, en in Skandinawiese lande kry pa’s ook betaalde “kraamverlof”. En nie ’n miserabele twee dae nie. Ons praat hier van weke, selfs maande. G’n wonder dié lande is bo-aan die lys van die beste lande in die wêreld om in te woon nie.

Maar hedendaagse pa’s pas ook nie noodwendig in die tradisionele boksie nie. Ouerskap het in die laaste 100 jaar ’n gedaanteverwisseling ondergaan en hedendaagse gesinne is ook nie altyd ’n ma, pa, en kinders nie. Die tradisionele idee van Vadersdag is vandag baie omvattender as wat dit in die tradisioneel Westerse sin van die woord was. In ons vriendekring is daar ’n mengelmoes van hedendaagse gesinne en ouers. Van ons vriende se kinders het van geboorte af twee pa’s wat lief is vir mekaar. ’n Transgendervriend en sy vrou is die ouers van ’n lieflike dogtertjie. Twee ma’s wat lief is vir mekaar het elkeen twee biologiese kinders uit vorige huwelike. En dis net drie voorbeelde.

’n Gesin het nie DNS of ideologiese rolle nodig om dit ’n gelukkige gesin te maak nie. Sandra Bullock, ’n enkelouer (so daar is net ’n ma), het byvoorbeeld die konsep van aanneming slim raakgevat: “Dis tyd dat ons ophou om van ‘my aangenome kinders’ te praat. Ons kinders is ons kinders. Mense wat met behulp van kunsmatige inseminasie swanger geraak het, praat tog nie van ‘my KI-kind’ nie.” Om terug te kom na Vadersdag. Dis geen geheim dat ek nie een van die grootste vierders van sulke dae is nie. Ek het wonderlike ouers, maar om as deel van die massa ’n geforseerde gebaar van liefde op ’n vasgestelde dag te betoon, is vir my oneg.

Aan die waardering, liefde en deernis vir my pa en my ma, hoop ek, gee ek voortdurend erkenning. Maar dis net ek. Die vraag wat dalk eerder gevra moet word, is: Wat is ’n goeie ouer? My geliefde sê met die geboorte van sy eersteling het hy die kleine mensie in sy arms gehou en skielik besef watter enorme verantwoordelikheid hy so pas gekry het. Vir altyd. Om kinders groot te maak, is wonderlik en vervullend, maar dit is ook moeilik en uitputtend en ’n groot verantwoordelikheid. Geen ouer het al die regte antwoorde of riglyne om kinders groot te maak nie. Al wat ons in oorvloed het, is liefde. En liefde vir ons kinders is soos die weduwee se kruik – dit raak nie op nie. Goeie pa’s en ma’s het almal sulke kruike.

Send this to a friend