Kuns: Strijdom van der Merwe

‘n Nabyskoot van Strijdom van der Merwe se Wave, sy jongste landkunswerk in Switserland

‘Die riete wat gebruik is, sal seker so ses maande hou voordat dit begin verbrokkel en die werk sy vorm verloor en inmekaar begin sak wat dan ook mooi aansluit by die tema en titel van die uitstalling: Ephemera’

Deur JOHAN MYBURG

Aan die oewer van die Neuchâtel- meer in Switserland is WhiteSpaceBlackBox ’n plek wat dialoog wil aanmoedig en innoverende denke op die terrein van kontemporêre kuns, letterkunde en wetenskap wil bevorder. Die jongste uitstalling, Ephemera, met die werk van tien internasionaal gerekende kunstenaars, staan in die lig van dié ideale. Die Stellenbosse landkunstenaar Strijdom van der Merwe is een van die kunstenaars wat aan dié uitstalling deelneem met sy Wave, ’n tamaai beeldhou-installasie wat van riete gemaak is.

Strijdom is die vierde kunstenaar wat ’n kunstenaarsverblyf van ’n maand by dié “kreatiewe fabriek” in Neuchâtel kon deurbring, waartydens hy dié kunswerk gemaak het. WhiteSpaceBlackBox het in 2014 as die geesteskind van Hans Rudolf Jost tot stand gekom. Die riglyne vir Ephemera, die uitstalling wat op 24 Maart geopen het en tot 28 Oktober te siene is, was werk wat gestalte gee aan “die efemere, die veranderlike, die vlietende – kuns wat flirteer met die natuur en wetenskap”. Strijdom se 20 meter lange Wave golf drie meter wyd en op plekke tot 2,3 meter hoog: ’n eggo van die krag van wind en water, maar tegelyk ook die broosheid daarvan. “Alles in Neuchâtel draai om die feit dat die meer daar is,” sê hy. “Ná ’n paar dae se verblyf het ’n wind begin opsteek en reusegolwe op die meer veroorsaak.

Ek was verstom dat ’n varswatermeer soos die see kan lyk. “Van daar het die gedagte en inspirasie gekom om ’n golf te maak (wat is meer efemeer as juis ’n golf!). Die riete wat ek gebruik het, is uit die omgewing afkomstig, waar ons dit gaan sny het. Alles is met ander woorde geïnspireer deur en afgelei uit die invloed van die landskap.” Dit is dié benadering wat Strijdom se landkuns kenmerk: Hy werk met materiaal uit die omgewing en die estetiese ingryping in die landskap is tydelik; die kunswerk vervaag eindelik. “Dit was vir my belangrik dat die invloed van die landskap steeds deur die werk gesien kan word – die meer. En met die deursigtigheid word die werk dus ook meer deel van die landskap.

Die riete wat gebruik is, sal seker so ses maande hou voordat dit begin verbrokkel en die werk sy vorm verloor en inmekaar begin sak, wat dan ook mooi aansluit by die tema en titel van die uitstalling: Ephemera.” Die werk is só gemaak dat mens nie net óm die werk kan stap nie, maar ook ín die werk in. “Ons staan gewoonlik van ‘buite’ en kyk na skilderye en beelde. Ek wou op ’n nadere ervaring van binne in die golf fokus sodat die kyker iets van die landskap beleef deur dít wat jy van binne na buite sien. Jy word net soveel meer deel van die werk as slegs ’n toeskouer.”

Sonder om Strijdom se Wave eerstehands te kon ervaar, het foto’s van dié landkunswerk NP van Wyk Louw se “Suiwer wiskunde” by my wakkergemaak: Die uurwerk kantel. En die ligbruin by hang roerloos voor die blom wat nooit bevrug word, nooit sal saadskiet, welk, en nooit verby hierdie verstarde uur sal groei. Die lug het stil soos ys gaan staan, so wit en blou. Die brander wat wou oorbuig, val, en skuim, bly in sy ligte sirkels vasgehou en moet sy see ’n ewigheid versuim.

Send this to a friend