Redakteursbrief: Verdriet verander net van vorm

As jou kind sterf, kan ek my slegs probeer voorstel, sterf daar ’n deel van jou menswees

Sodra ek tyd kry, gaan ek die boek Wreed én mooi is die dood verhale oor verlies, hunkering en heling, saamgestel deur Tobie Wiese – vir my aanskaf waarin Marita van der Vyver onder andere ’n essay geskryf het. Op bl 30 is ’n uittreksel van Marita se aangrypende skrywe. In dié boek maak skrywers hul harte oop oor onomkeerbare verlies.

As jou kind sterf, kan ek my slegs probeer voorstel, sterf daar ’n deel van jou menswees. Ek dink die enigste erger trauma is as jou kind wegraak, soos in die geval van Madeleine McCann wat 12 jaar gelede deur iemand gesteel is. Vir 12 jaar lank al rou Madeleine se ouers, Kate en Gerry, oor die verlies van hul kind. Hul verdriet sal eers sagter word as hulle weet wat met haar gebeur het. Bose mense wat kinders ontvoer, is nie die woord mens werd nie. Sulke monsteragtige gedrag is vir “normale” mense onvoorstelbaar.

Ek is in beginsel teen die doodstraf gekant, maar ek het begrip vir ouers wie se kinders ontvoer is wat dié monsters eiehandig van die aardbol wil verwyder. Jare gelede het ’n kennis ná die dood van hul tweede en laaste kind vir my gesê as een mens nog vir haar vertel daar is ’n plan met die dood van haar twee kinders, gaan sy dit verloor. In die fliek Rabbit Hole speel Nicole Kidman die rol van Becca, wie se dogtertjie dood is. Tydens ’n terapiesessie vir ouers wie se kinders dood is, merk een vrou op dat God nog ’n engel nodig gehad het, waarop Becca sê: “Why didn’t he just make one? … another angel. I mean, he’s God after all. Why didn’t He just make another angel? Hmm?

Ek het begrip vir ouers wat meer vrae as antwoorde het wanneer so iets gebeur. Hoe leef mens verder as jy gelyktydig meer as een kind verloor? Ek dink aan mense soos Marite Norris en Anthony Maslin wie se kinders, Mo, Evie en Otis, op 17 Julie 2014 gesterf het toe die vliegtuig waarin hulle saam met hul oupa was, oor die Oekraïne neergeskiet is. Ek dink aan mense soos Jane en Martin Weekes wie se drieling, Lillie, Jackson en Willsher, in Mei 2012 in ’n brand in hul kleuterskool in Doha, Katar, gesterf het. Ek dink aan Anders Hoch Povlsen en sy vrou, Anne, wat drie van hul vier kinders (Alfred, Alma and Agnes) in die onlangse terroriste-aanval in Sri Lanka verloor het.

Ek dink aan elke ouer wie se kind dood is. Ek dink aan elke ouer wie se kind weg is. Ek dink aan elke ouer wat, soos Marita, haar kind moes groet: “Op ’n winderige herfsdag in 1990 het ek wat oorbly van my seuntjie op my palm gevoel, ’n hopie growwe as styf in my vuis toegeknyp. Ek moes my vuis soos ’n blom laat oopvou sodat die wind die as oor die see kon waai. Dis ’n allerverskriklike ding vir ’n ouer om te doen …” Keanu Reeves sê oor rou en verdriet: “Grief changes shape but it never ends.” Mag die lewe jou sagkens behandel en mag jou verdriet se vorm sagter word sodat dit mettertyd net saggies vir jou fluister.

Send this to a friend