Ken jou storie: Demokratiese fiksie of boeke vir ’n uitgesoekte elite

Verreweg die meeste mense wat lees, doen dit vir ontspanning. Hulle lees vir vermaak. Hulle lees omdat dit vir hulle lekker is om te lees, nie omdat dit harde werk is nie

Deur WILLIE BURGER

Een van die suksesvolste spanningsverhaalskrywers in die wêreld Scott Turow sê dat hy aanvanklik die ambisie gekoester het om ‘n “literêre skrywer” te word. Turow is veral bekend vir sy “hofdramas” soos Presumed Innocent en The Burden of Proof (waarvan ook suksesvolle rolprente gemaak is). Sy boeke is in 40 tale vertaal en meer as 30 miljoen eksemplare daarvan is wêreldwyd verkoop.

Turow het James Joyce se roman A Portrait of the Artist as a Young Man gelees en besluit hy wil ook só iets skryf. James Joyce word as een van die invloedrykste skrywers van die 20ste eeu beskou en mens kan jou omtrent nie ‘n studie oor die moderne literatuur indink waarin daar nie na sy werk verwys word nie. Turow het by sy dosente op universiteit gehoor dat Ulysses Joyce se meesterwerk is en dat dit “maklik die beste roman is wat nog geskryf is”.

Toe Turow egter na die universiteitsbiblioteek gaan, sien hy dat daar slegs een eksemplaar van Ulysses in die biblioteek staan en dat dit boonop maar selde uitgeneem is. Dit is toe wat hy begin nadink het oor die nut daarvan om so ‘n boek te skryf, wat deur almal as meesterwerk beskou word, wat trouens selfs as “die beste roman” beskryf word, maar wat slegs deur ‘n handjievol mense gelees word.

Volgens Turow het dit teen sy demokratiese lewensbeskouing ingegaan dat ‘n boek net vir ‘n uitgesoekte klein elite geskryf kan word. Daar en dan het hy besluit om nie ‘n literêre skrywer te word nie, maar om stories te skryf wat mense kan vermaak.

Verreweg die meeste mense wat lees, doen dit vir ontspanning. Hulle lees vir vermaak. Hulle lees omdat dit vir hulle lekker is om te lees, nie omdat dit harde werk is nie. Hulle wil na ander wêrelde weggevoer word en in ‘n stemming van afwagting, opwinding en spanning op die puntjie van die stoel gehou word. Hy het besluit dat hy vir hierdie lesers wil skryf.

Baie “literêre skrywers”, en veral lesers van literêre werke, sien neer op lesers wat “slegs vir vermaak” lees. Sommige “literêre tekste” kan wel deur baie lesers geniet word, maar dikwels verg literêre tekste ‘n ander instelling van die leser – die leser verwag nie om vermaak te word, deur allerlei nuwe verwikkelings en onverwagse wendings meegesleur te word of om vanweë spanning oor die lot van die karakters naels te kou nie. In baie literêre tekste gebeur daar min. Dikwels is die “storie” nie eens so noodsaaklik nie en die angstigheid en opwinding waarmee lesers van populêre fiksie na die ontknoping aan die einde uitsien, ontbreek.

Die verskil tussen die twee “soorte” tekste: populêre fiksie teenoor literêre fiksie, is dat mense moet “leer” om lesers van literêre fiksie te word. Om ‘n literêre teks (veral sommige) te waardeer, moet mens kennis van die geskiedenis van die kunsvorm ken, jy moet verstaan waar die werk inpas, hoedat dit op ander werke reageer. Kennis van bepaalde kunstegnieke en denktradisies is ook nodig en ‘n waardering vir ‘n bepaalde manier waarop taal en woorde gebruik word. Die manier waarop kompleksiteite nie opgelos word nie, maar eerder nog meer veelduidig gemaak word, konfronteer die leser om oor die boek, en uiteindelik oor die lewe na te dink. Die konfrontasie verg dikwels harde werk, ‘n stadige manier van lees.

Hierdie nadenkende manier van lees is iets waaraan mens gewoond moet raak. Dit verg opleiding en oefening of ten minste baie blootstelling aan ‘n verskeidenheid van hierdie literêre tekste oor ‘n lang tyd. ‘n Mens moet as ’t ware deel van ‘n denkwêreld word, ‘n hele kultuur, voordat mens dié soort werk kan waardeer.

Baie “literêre romans” lyk immers na storielose, spanninglose verhale, met bloedlose karakters en lang stukke filosofiese gebabbel wat mens glad nie boei nie. Vir diegene wat daaraan gewoond is dat lees ook werk kan wees, vir die ingewydes, kan hierdie werke egter boeiend en stimulerend wees. Dit maak hulle opgewonde.

Terwyl die leser van die literêre teks geleer moet word om versigtig te lees, om agterdogtig te lees, om tussen die lyne te lees, hoef die leser van populêre fiksie nie te op ‘n bepaalde manier te “leer” lees nie. Dit is byna ‘n geval van hoe beter die boek, hoe vinniger word daaraan gelees.

Dit is onnodig dat aanhangers of skrywers van die een soort tekste op die ander neersien. Die stram verhoudings wat soms tussen popuêre fiksie en literêre fiksie bestaan, ontstaan wanneer die een soort teks met die verwagtings van die ander soort leser benader word. Die spanningsverhaal gaan meestal nie aan die eise van die literêre kritikus voldoen nie, terwyl die literêre roman bedroë daarvan afkom in die kritiek van ‘n leser wat na ontspanning op soek is. Wat ‘n mens dus moet erken, is dat daar verskillende maniere van lees is. Maar dieselfde leser kan geredelik albei soorte tekste geniet.

Send this to a friend